Week 8: 6–12 Maart 2011 – Jesaja 49:1-7
Jesaja 49:1-7 – God maak jou ’n lig vir die nasies
- Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ….”?
- Laat elkeen sy storie vertel . So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.
RUS
- God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom. Dit is Lydenstyd.
- Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat die Here die afgelope week vir hulle beteken het. Open met gebed.
HOOR
- Ons is besig met ‘n reeks oor Jesaja: Perspektiewe op die Lewende God. Lees Jesaja 49:1-7.
- Laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
- Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
- Lees die volgende inset en bespreek dit met mekaar:
Elkeen wat die Here regtig wil dien, sal pyn ervaar in die uitvoer van sy of haar roeping, onder andere weens die teenstand wat getrouheid aan die Here by die wêreld ontlok … en soms ook by jou eie mense (vers 7). Dit is egter nie al nie. Daar is ook die pyn wat van binne kom; die vrees dat die opofferings wat gemaak word, verniet en tevergeefs sal wees (vers 4). Dit is waar van ons roeping in die publieke – en beroepswêreld, sowel as van ons roeping binne die privaatheid van ons familie- en vriendekringe.
Jesaja het goeie nuus vir elkeen van ons wat daarmee worstel. God belowe dat Hy die krag aan ons sal gee om staande te kan bly (vers 5). Hy belowe dat Hy aan ons reg sál laat geskied. Hy belowe dat Hy ons sál beloon. En sy krag is só groot en deurslaggewend, dat dit baie keer beteken dat Hy die opdrag uitbrei, wyer en groter maak, soos Hy hier die dienaar van die Here se opdrag uitgebrei het – om ook ’n lig vir die nasies te wees (vers 6).
Dit is waarom kleingroepe of geestelike vriendskappe van soveel waarde vir ons kan wees, waar in die gemeenskap van ’n paar vriende wat vertrou kan word, op reis gegaan word met jou roeping. Dit is baie keer die basis vanwaar die nasies inderdaad bereik kan word.
Deel met mekaar wat jou groep vir jou al beteken het en droom saam oor waarnatoe die Here julle volgende wil lei.
LEEF
- Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
- Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
- Antwoord die Here in gebed.
Volgende week lees ons Jesaja 56:1-8. Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang. Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor. Of kontak my by acv.vanwyk@gmail.com of 0825749191.
Chris van Wyk