Week 6: 20–26 Februarie 2011 – Jesaja 36-37
Jesaja 36-37 – God bevry sy volk deur gebed
- Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ….”?
- Laat elkeen sy storie vertel . So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.
RUS
- God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom. Dit is die tyd van Epifanie (Griekse woord vir verskyning).
- Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat die Here die afgelope week vir hulle beteken het. Open met gebed.
HOOR
- Ons is besig met ‘n reeks oor Jesaja: Perspektiewe op die Lewende God. Lees Jesaja 36-37 (of net 37 as tyd beperk is).
- Laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
- Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
- Lees die volgende inset en bespreek dit met mekaar:
Let op dat Hiskia aanvanklik in 37:1-4 nog vir Jesaja vra om vir die agtergeblewenes te bid. En die gebed van Jesaja het alreeds ‘n groot impak. Maar dit is eers wanneer Hiskia persoonlik in die teenwoordigheid van die Here kom, en die briewe van die Assiriërs voor die Here oopsprei, dat sy hart regtig tot rus kan kom.
Sy gebed is vir ons ‘n leerskool. Let op hoe hy die Here se Almag, Alleen-heerskappy en Skepper-status erken en vra dat Hy sal luister en sal oplet wat met hulle gebeur. Hy erken wel die mag van Assirië, maar nie die mag van sy gode nie! Die spits van sy gebed is die lastering wat Sanherib pleeg teenoor die Here, met die versoek dat die Here hulle sal red as ‘n teken aan alle nasies dat “net U, Here, God is”– 37:14-20.
Dit is ook interessant dat die Here nie direk vir Hiskia antwoord nie, maar deur die profeet. Let ook op dat die redes vir dié optrede wat God beloof 1) ter wille van Homself en sy eer is (soos Hiskia aangevoer het), sowel as 2) ter wille van Sy verbintenis aan Dawid en dié se nageslag – 37:21-35. God handhaaf sy eie eer, en eer sy verbintenis aan sy mense.
Die engel van die Here, wat eintlik maar net God self is, tree dan teen Sanherib op met ‘n groot slagting. Sonder dat Hiskia en sy mense ‘n vinger verroer, word die Assiriese bedreiging die hoof gebied. Sanherib is terug na sy hoofstad Nineve waar hy deur twee van sy seuns doodgemaak is (waarskynlik 20 jaar later in 681 v C soos Assiriese inskripsies te kenne gee), en deur ‘n derde seun opgevolg is – 37:36-38.
Op ‘n baie praktiese wyse word die boodskap van Jesaja 30 hier geïllustreer: in stille vertroue en gebed kom God in beweging en red Hy sy volk van bedreiging. God bevry sy mense in antwoord op gebed.
LEEF
- Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
- Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
- Antwoord die Here in gebed.
- Volgende week lees ons Jesaja 40:1-11.
- Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang.
- Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor.
- Of kontak my by acv.vanwyk@gmail.com of 0825749191.