Week 4: 15-21 Mei 2011 – Johannes 13:31-14:14

Johannes 13:31-14:14

  • Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ….”?
  • Laat elkeen sy storie vertel .  So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.

RUS

  • God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom.  Ons is in die Paastyd.  Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat Jesus se opstanding nou vir hom of haar beteken.  Open met gebed.

HOOR

  • Lees Johannes 13:31-14:14 en laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
  • Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
  • Lees die volgende inset en vertel vir mekaar wat dit vir jou inhou om ander lief te hê, nie net soos jy jouself lief het nie, maar soos Jesus liefgehad het:

Die punt van hierdie hele gesprek van Jesus is dat liefde bo-oor alles geskryf moet staan.  Dit moet die uitstaande kenmerk van ’n dissipel van Jesus wees.  Dit moet alles deursuur wat ons doen en sê.  Daar moet niks in die pad staan van ’n lewe in liefde nie.  En dit beteken, in die konteks van Jesus se naderende dood, dat ’n mens selfs bereid moet wees om jou lewe vir ander af te lê.  Dit is ook die punt wat later in hoofstuk 17 oor eenheid gemaak sal word – niks mag in die pad van die eenheid staan nie.  Netso mag niks in die pad van liefde staan nie.

Let ook op dat die nuwe gebod wat Jesus vir hulle gee – dat hulle mekaar so lief moet hê soos wat Hy hulle het – in die konteks van beide die verraad van Judas en die verloëning van Petrus gedoen word.  Die nuutheid van dié liefde is dat die liefde vir mekaar moet wees soos Jesus dit gedemonstreer het.  Die liefde vir die naaste is immers van die begin af deel van die gelowige reaksie op God se werk (Lev 19:18; Matt 22:34-40).

Dit sê vir ’n mens dat liefde ’n keuse is wat jy maak, al stel ander jou teleur (Judas) of al stel jy ander teleur (Petrus).  Judas kom nie tot inkeer ná sy verraad nie, hy kies teen die liefde, selfs teen die genade, en word verwerp.  Petrus aanvaar egter die hand van genade wat na hom uitgesteek word na sy verloëning (Joh 21:15-21 – en let op dat Jesus Petrus spesifiek uitvra oor sy liefde vir hom!), en word herstel in geloof en selfs die leiersposisie wat hy beklee het.  Op die koop toe vervul hy uiteindelik die belofte wat hy hier maak, dat hy sy lewe sal aflê vir Jesus, wanneer hy ook aan ’n kruis sterwe aan die einde van sy lewe.

LEEF

  • Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
  • Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Volgende week behandel ons Johannes 20: Die leë graf.
  • Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang.
  • Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor.
  • Of kontak my by acv.vanwyk@gmail.com of 0825749191.

Chris van Wyk

     

Trackback from your site.

Leave a comment