Skip to main content

Week 1: 16-22 Januarie 2011 – Jesaja 2:1-5

Jesaja 2:1-5 – God gee lig vir die lewe deur sy mense

  • Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ….”?
  • Laat elkeen sy storie vertel .  So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.

RUS

  • God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom.  Dit is die tyd van Epifanie (Griekse woord vir verskyning).  God het in Jesus aan ons verskyn en het die lig vir ons lewe geword.
  • Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat Jesus se lig nou vir hom of haar beteken.  Open met gebed en dra julle kwartaal se byeenkomste aan die Here op.

HOOR

  • Stel die reeks oor Jesaja bekend: Perspektiewe op die Lewende God.  Ons fokus in die volgende 10 weke op die boek Jesaja.  Bybelstudiegroepe werk ‘n week vooruit met die fokusteks vir die Sondag se prediking.  Die Bybelskool werk die hele boek Jesaja deur.
  • Lees Jesaja 2:1-5
  • Laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
  • Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
  • Lees die volgende inset en bespreek dit met mekaar:

In hierdie teks fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies.  Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die Assiriërs (7de eeu v C), en later deur Babilon (6de eeu v C).

Maar die droom bly – dat God se mense ’n punt van kontak tussen mense van die nasies en God sal wees.  Hoekom? Want God het gekies om deur sy mense ’n lig vir die wêreld te wees.  Hy kies dat mense sy wil sal leer ken deur die lewens van sy mense.

In ’n sekere sin is dit al wat ’n kerk ooit mag wees, ’n plek waar God se lig so helder skyn dat dit lewe gee vir ander mense.  Daarom kan die kerk nooit ’n politieke instrument wees nie.  Hoe ’n kerk lewe, sal politieke konsekwensies hê –  om op te kom vir die reg en behoeftes van verdruktes en behoeftiges – maar die oomblik as die kerk ’n te onafhanklike rolspeler in die magstryd tussen politieke faksies word, begin hy sy primêre funksie verloor.  En dit is om ’n kontakpunt tussen God en mense te wees.  Eweneens geld dit die ekonomie.

LEEF

  • Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
  • Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Volgende week behandel ons Jesaja 6:1-13.
  • Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang.

Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor.  Of kontak my by acv.vanwyk@gmail.com of 0825749191. 

Chris van Wyk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.