Wat is ‘n joernaal?
In 1988 stuur God, in Sy alwysheid, ’n mentor oor my pad wat Ordering your Private World van Gordon MacDonald (’n Tyd vir Orde) vir my gee met: “Hierso. Lees hierdie boek – dit sal jou lewe verander”. En dit het ook. Eintlik my hele verstaan van onder andere stiltetyd en Bybelstudie.
Hy skryf: “Ek het ontdek dat om ’n joernaal te hou ’n praktiese metode is om te leer om na God se stem in die tuin (stilte) van my persoonlike wêreld te luister. Wanneer ek my pen optel, het ek agtergekom dat daar ’n afwagting is – ’n gereedheid om te hoor wat God wil sê. Dit het iets geword waarna hy keer ná keer kon teruggaan om die hand van God in sy lewe raak te sien! Daarom het hy meer en meer van die gedagtes wat sy gees oorstroom het, in sy joernaal aangeteken: “Ek het in die joernaal my emosies, my verse, my gevoel van swakheid en my verwagtinge beskryf, asook my ontdekkings van hoe Christus my lei. Wanneer ek leeg of verslae gevoel het, het ek ook daarvan in die joernaal geskryf.” Hy het begin besef dat die joernaal hom help om ’n groot deel van sy innerlike wêreld, waaroor hy nog nooit met mense gepraat het nie, te hanteer. Sy vrese en worsteling is daarmee na die oppervlak gebring en kon uitgesorteer word. Hy het begin bewus word daarvan dat die Heilige Gees besig was om sy gedagtes te rig en hom nuwe insig te gee, terwyl hy in sy joernaal geskryf het.
Wanneer hy mettertyd in sy joernaal teruggaan, kon hy sien hoe hy al geestelik gegroei het en dit was ’n groot aansporing. Jou joernaal is dus nie net ‘n verslag van die goeie tye was nie, maar ook van die slegte tye. Daarom het hy geleer. “As God gaan praat, is ek gereed om te luister.”
HOE OM JOERNAAL TE HOU
Begin ‘n gespreksboek met God – en teken jou gesprek en gebede in jou joernaal aan.
“Wanneer ek in die openbaar oor joernaal-hou praat, vind ek dat baie mense besonder daaarin belangstel en baie vrae daaroor het. Hoe dikwels skryf jy daarin? Watter soort dinge sluit jy in? Is dit nie maar eintlik net ‘n dagboek nie? Laat jy jou vrou toe om die joernaal te lees?”
Gordon se praktiese raad is: probeer elke dag in jou joernaal iets aanteken. Maar dit sal hom nie erg onstel as ‘n dag af en twee verbygegaan het sonder dat hy ‘n inskrywing daarin gemaak het nie. Hy het dit wel sy gewoonte gemaak om die aanvangsoomblikke of -insigte van ‘n geestelike ervaring of stiltetyd neer te skryf. Vir hom beteken dit: dit is elke oggend die eerste ding wat hy doen en hy begin met die datum, skryf dan enige iets oor sy geestelike reis saam met God. Voorbeelde is:
- mense wat jy ontmoet het,
- gevoelens wat jy ervaar, en
- indrukke/oortuigings wat jy glo God wou hê jy moet kry,
- gebede soos jy daarna voel om dit neer te skryf,
- nuwe insigte – ook van ander geestelike leesstof,
- besorgdheid oor jou eie persoonlike gedrag,
- en die dinge wat jy in die lewens van jou gesinslede opmerk.
“Dit is alles deel van my luister na God,” gaan hy voort. “Ek is bewus daarvan dat dít wat ek skryf, eintlik kan wees wat God aan my sê. Hy glo dat die Gees van Christus dikwels werksaam is in die dinge waaroor hy dink en wat hy neerskryf. “Dit is vir my belangrik om my hart te ondersoek om te sien watter gevolgtrekkings God voortbring, waaraan Hy my wil herinner en watter indrukke Hy op my persoonlike lewe wil laat.”
Maar Gordon sê hy skryf ook in sy joernaal van agteraf vorentoe. Daar word die sake waarvoor en persone vir wie hy bid vir daardie dag aangeteken.
Die joernaal is dus nie net ‘n gesprek met God nie, maar dit is ook ‘n weergawe van jou totale geestelike reis – met al jou stryd en leerervarings ook daarin opgeteken. Die grootste waarde lê egter vir hom daarin dat dit ‘n instrument is wanneer jy in die stilte van jou binnekamer op God wag, en jy luister om Sy stem te hoor as Hy met jou praat.
“Joernaal-hou,” sê Gordon, “dien as ‘n wonderlike instrument om in afsondering gemeenskap met die Vader te hê. As ek skryf, is dit asof ek in gesprek met Hom is. Ek voel hoe God wonderbaarlik aan die werk is in die woorde wart ek gelei word om te skryf, en dat ek daarmee die diepste vorm van gemeenskap met Hom te kan ervaar.
Seëngroete
Mariette Rossouw (Mei 2025)
Vir navraag of saamgesels: 041 583 3456 / 082 801 8201