Skip to main content

Waardevol: Ontdek die skat aan die binnekant

2012 gr 4-7 gesinsbyeenkomsWaardevol:  Ontdek die skat aan die binnekant

Gesinsbyeenkoms Gr 4-7

Inleiding

Wat is jou naam? Wat beteken jou naam? Na wie is jy genoem? Hoekom? Wat beteken jou naam?

Ons almal is al ander dinge genoem: soos “stupid”, simpel, “a loser”. Hoe het dit gevoel?

Almal van ons het ander skatte. Vandag gaan ons begin om jou skatte aan die binnekant te ontdek.

Eers net ‘n paar woorde met jou ouers:

Waarom is dit voordelig om jou kind se skatte te ontdek?

• So wys jy waardering vir jou kind en sy skatte.

• Hierdie skatte word later jou kind se identiteit. Hy besef dan wie hy is en hoekom hy spesiaal is.

• Jy leer jou kind dat almal van ons inherent goed is, en dat almal potensiaal het.

• Omdat jy doelbewus soek vir jou kind se inherente skatte, bly jy optimisties.

• Jy ontwikkel en versterk jou kind se eiewaarde, sodat dit hom selfvertroue gee.

• Hierdie skatte ontwikkel positiewe emosies in beide jy en jou kind. Later, as daar moeilike situasies oor jul/jou kind se pad kom, sal jul dit makliker kan aanpak omdat jul reeds gemaklik oor emosies kan gesels.

Waar begin ek as ouer?

• Kyk hoe jou kind speel. Luister en neem waar.

• Vra bietjie rond: wat is ander se opinie van jou kind se skatte, of hoe sal hy jou kind beskryf. Wat sê sy Sondagskoolonderwyser, of ‘n grootouer, of sy sportafrigter?

• Stel jou kind bloot aan ‘n groot verskeidenheid van aktiwiteite, soos onder meer musiek, woordkuns, dans, kuns, natuur, buitelewe, buitengewone sport, en nie net die aktiwiteite wat jyself geniet nie. Kyk dan of enige hiervan ‘n liggie brandsteek.

• Wanneer is hy op sy beste? Wanneer blink hy uit?

• Luister na jou kind se stories. Skep ruimte en tyd vir gesprekke en stories aan die etenstafel, terwyl jul skool toe/terug ry, en met bedtyd. Luister vir skatte in aksie: reflekteer dan oor die skat wat jy kan identifiseer.

• As jy jou kind se skatte vroeg kan identifiseer en dit laat groei, help jy jou kind om homself te waardeer vir wie hy is. So werk jy die moontlike ontwikkeling van angs en depressie later in sy lewe, teen.

Hoe vermeerder ek my kind se skatte?

• Hou ‘n skat-aandete: gestel jou kind se een skat is dankbaarheid. Vier dit een aand deur ‘n kaartjie by sy eetplek te sit met die woord “dankbaarheid” op. Noem dan voorbeelde van hoe jy dankbaarheid in sy lewe gesien het.

• Help jou kind om sy skatte op nuwe vars maniere te gebruik. Maak ‘n lys met elke kind van al die dinge wat hy gedurende ‘n week doen wat sy skatte kan aanhelp en laat groei. Hou die lys sigbaar, en moedig jou kind aan om ‘n nuwe skat per dag/week te probeer – dink byvoorbeeld aan die vrugte van die Gees, as jy nuwe idees soek.

• Maak opmerkings oor mekaar se skatte bymekaar. Kry ‘n wit tafeldoek, en vra elk in die familie om iets oor die ander te skryf met n lapmerker.

• Lok oop gesprekke aan tafel uit, deur bv. sinne te begin, en vra jou kind om dit klaar te maak. ‘n Voorbeeld is: “Wat sou jy doen as…”

• Gesels oor merkwaardige eienskappe in mense, veral figure uit die Bybel. Laat jou kind voorbeelde van hierdie figure se skatte in sy eie lewe identifiseer.

• Skattestories: deel met jou kind die skatte (karaktereienskappe of talente) wat in Bybelstories voorkom wanneer julle saam die Bybel lees.

• Geloofsboks/skatkis: laat jou kind prente/fotos bymekaarmaak waarvan hy hou. Sit dan op n dag rustig en laat hom die boks versier na wense. Maak dan allerlei (kunswerke, artikels, klein goedjies) bymekaar wat jou kind herinner aan sy geloofsreis: enige herinnering aan ‘n mylpaal in sy geloofsreis. Sit koppe bymekaar en help jou kind met idees. Dalk ‘n foto van sy doopdag?

Elke kind ontvang ‘n geloofsboks/skatkis

  • Vandag sit ons solank ‘n kersie daarin. Dit sal jou kind herinner daaraan dat hy ‘n lig vir die wêreld is, en dat hy sy liggie in die wêreld moet laat skyn.
  • Ons sit ook ‘n klippie in, waarop jou kind vandag ‘n simbool/woord/kleur/gedagte aanbring wat hom herinner aan die beste in homself.
  • Op die wit lappie is jou kind se naam. Laat hy uitvind waar dit vandaan kom, wat dit beteken, wie ook so genoem is in die familie, en teken dan alles op die lappie aan. Laat dit lamineer (as bv. ‘n plekmatjie vir etenstye) of laat hy dit opsit waar hy wil.

Let wel:

• Ek gebruik die manlike vorm om omslagtigheid te verminder maar die vroulike geslag word by implikasie ook ingesluit. Dieselfde geld vir “kind” wat ook “kinders” insluit.

• Enige positiewe eienskap, karaktertrek of talent van jou kind word beskou as ‘n skat.

• Meeste inligting hierbo is geneem vanaf die webtuiste van Elizabeth Elizardi

 

Carisa Smuts

Sielkundige

0833245710

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.