Skip to main content

Volg Christus se voorbeeld van nederige diens – Fil 2:5-11 (18-24 Maart)

Hierdie Sondag is tradisioneel Palmsondag, die dag waarop Jesus se intog in Jerusalem herdenk word, maar terselfdertyd ook die Sondag wat Groot Lydensweek inlui. Ons vier daarom ook volgende week Heilige Week met ’n uitbeelding wat op die Passiespel van Oberammergau gegrond is.  Meer inligting by die kerk en in die aankondigings.

Hierdie verse is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi.  Die lied in Fil. 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11).  In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf.  Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis.  Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel.  Dit kan egter ook vertaal word met omdat.  “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie.  Dit is ’n nuwe verstaan van God self.  Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie.  Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman, Inhabiting the cruciform God)!  Bespreek.
  2. Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule).  Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet. Bespreek
  3. Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ’n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is.  Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. NB  Voetewas is dus ’n praktiese metafoor waarmee ’n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.  Bespreek.

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Volgende week se kleingroepmateriaal is oor Johannes 20:1-18 in voorbereiding vir Paasfees 31 Maart.  Dit sal 24 Maart beskikbaar wees in die kerkkantoor en op die webtuiste: www.ngkerksomerstrand.co.za.  Ons hervat Die Storie in die tweede kwartaal met die verhaal van Samuel en Saul: Staan sterk, val hard.  Daar sal reeds hierdie Sondag kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir die week wat 7 April begin.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.