Skip to main content

Tag: van wyk

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS

Rom 7:15-25 – Son 6 Jul 08

Inleidend 

Die gedeelte is seker een van die mees betwiste gedeeltes in die Romeine brief.  Die meeste uitleggers lees die gedeelte as ’n blik op Paulus se innerlike stryd teen die sonde.  Ben Witherington (in sy Paul’s Narrative Thought World) lees dit egter op ’n ander manier.Volgens hom tref Paulus aan die begin van hoofstuk 7 ’n kontras tussen die lewe voor Christus en die lewe in Christus, die lewe in die vlees teenoor die lewe in die Gees.  In vers 5 praat hy byvoorbeeld in die verlede tyd van Christene se vorige lewe: “Toe ons nog ‘n sondige lewensbestaan gevoer het …” en in vers 6 in die teenswoordige tyd: “Maar nou is ons vrygemaak …”  

In die verse wat ons nou gaan lees, sê Witherington, stel Paulus as illustrasie iemand in sy lewe voor Christus aan die woord, die menslike kondisie, en beskrywe die stryd wat daar in só ‘n persoon is, selfs in die goeie mense.  Die “ek” in die verse is dus soos iemand voor Christus sou leef, terwyl aan die einde van hoofstuk 7 en dan veral in hoofstuk 8 Paulus wys hoe ‘n Christen in Christus lewe, in die kragveld van die Gees. 

Romeine 8 is dus die “normale” lewe van die Christen in Christus en nie Romeine 7 nie.  Anders, sê Witherington word hoofstuk 7 te maklik ‘n verskoning vir die sonde en neem dit nie die vryspraak wat Christus gebring het ernstig genoeg nie.  Ons wat in Christus is, hoewel nie perfek of sondeloos nie, kan protesteer en breek met die sonde, omdat Christus ons vrygemaak het, en die Gees daarin vir ons bystaan.

Hoe ook al – jy kan dit ook op die tradisionele manier lees.


 

Woordverkondiging 

Daar is ’n klassieke storie wat hierdie gedeelte van Paulus volmaak vasvang.  Robert Louis Stephenson se The Strange Case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde.

Dit gaan oor die gerespekteerde dr Jekyll wat ’n middel ontdek wat sy persoonlikheid verander en van hom ’n ander persoon maak. Deur sy uitvinding geskok en tog ook gefassineer, gee hy toe aan die versoeking om in die nag Mnr Hyde te word, wat allerlei misdade pleeg – selfs moord.

Gedurende die dag is hy die sagmoedige dr Jekyll en in die nag is hy ’n moordenaar en ’n gewelddadige skurk. 

So gaan dit ’n tyd lank aan, totdat hy een oggend wakker word en tot sy ontsteltenis bemerk dat hy mnr Hyde se hand behou het.  Eers was dit moeilik om Mnr Hyde se persoonlikheid aan te neem, maar gaandeweg was dit al moeiliker om weer terug te keer na die goedhartige dr Jekyll!

Hy het al meer besef dat hy besig was om beheer te verloor oor sy goeie self en dat die slegter self die oorhand begin kry.

Toe hy later verplig was om ’n keuse te maak, het hy besluit om eerder dr Jekyll te bly. Ongelukkig het die geneigdheid tot misdaad in hom so sterk geword dat dit by hom die oorhand gekry en hom uiteindelik vernietig het.

Toe iemand vir Stevenson vra waar hy die model vir sy hoofkarakter gekry het, het hy geantwoord: “I found it in my nature.”  Hy het eerstehands belewe wat Paulus bely: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”( vs19)  Ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.

Soos Augustinus geskryf het:  “Wat ook al ons is, ons is nie wat ons behoort te wees nie!”

Of soos Mark Twain tong in die kies vertel: “Man was made at the end of the week, when God was tired.”

Ja maar hoe?

Hoe gemaak met die Mr/Mrs Hyde in ons lewe?

Soos ’n predikant vertel hoe hy ’n boek by ’n kennis geleen het. Terwyl hy dit gelees het, was sy belangstelling geprikkel deur die onderstreepte gedeeltes, met die letters JMH in die kantlyn geskryf. Hy het toe vir die kennis gevra wat dit beteken.  Die onderstreepte gedeeltes was dit waarmee hy saamgestem het en JMH het gestaan vir “Ja, maar hoe?”

Deur Christus ons Here

Vers 25 gee die oplossing:  Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Ons het nou al twee Sondae hierop gefokus.

Die spil waarom die boodskap van hoofstuk 6 draai, is die vryspraak van Christus.  Hy het ons vrygespreek van die mag van sonde waarvan die uiteinde, die beloning, die dood is.  Hy het ons van die mag van die sonde verlos.  Die sonde se mag oor ons is gebreek, ons is deel van ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van Christus.  Ons is gedoop in sy dood, sodat ons ook kan lewe, soos Hy, vir altyd, vir God. Vir beide die liberale Grieke en Romeine, wat sonder die wet gelewe het, en vir die konserwatiewe Jode, wat met die wet gelewe het, het daar uitkoms gekom, die vergifnis en genade van Christus.

Daarom sê Paulus moet ons rekening hou daarmee, ons moet ons gedagtes daarmee vul, ons is nou in die domein van God, waar ons vir Hom kan lewe en ons nie net die belofte van ‘n ewige lewe het nie, maar ook die bewussyn van sy nabyheid en sy sorg en sy krag.

Die eerste Ja-Maar-Hoe is dus om oor jouself te begin dink as vrygespreekte, iemand wat vry is van die sonde en wat lewend is vir God.  

Dit is waarom lofprysing en danksegging so uiters belangrik vir ‘n Christen is, want dít is die punt waar ons ons gedagtes volmaak met die wonderlike werklikheid van die vryspraak van Christus.Maar, het Paulus ons aangemoedig, ons moet in dié domein léwe.  Ons moet as’t ware as slawe van God lewe, anders bly ons slawe van die mag van die sonde, en dit nie net persoonlik nie, ook slawe van die mag van die sonde van die heersende kultuurmagte. 

En dit is die tweede Ja-Maar-Hoe, om te lewe in die kragveld van die Gees.

 


Leef in die kragveld van die Gees  

Paulus sê, reeds in hoofstuk 7:6, maar meer volledig in hoofstuk 8, dat die geheim van die lewe vir God, is deur te lewe in die kragveld van die Gees.

“Die werk van die Gees,” sê Coenie Burger, “is soos ’n kragveld. Dit is ’n dinamiese omgewing waarbinne jy bewus word van ’n ander krag as jou eie” (1999).

Een van die hindernisse vir ons om dit raak te sien, is natuurlik dat ons baie keer die Christelike lewe sien as ‘n eindpunt en nie genoeg as ‘n beginpunt nie.

Vryspraak is nie die doellyn of die wenstreep nie.  Dit is die wegspringplek.

Soos die storie wat ek van ’n gradeplegtigheid gehoor het, waar die studente hulle diplomas ontvang het van die kanselier.  Terwyl hy hulle hande geskud het, het hy met ‘n harde stem gesê:  “Veels geluk!” En dan met ’n sagter, maar ferm stem het hy vir elke gegradueerde gesê:  “Hou aan beweeg!”

Dis ook God se woorde aan ons  “Veels geluk, maar hou aan beweeg…” Die Christelike lewe is ‘n lewenstyl wat doelbewus ingeoefen moet word.

Kyk die lewe is soos gholf: hoe meer jy jou golfswaai oefen en oefen en oefen, hoe meer raak dit deel van jou “spier-geheue”, sodat jy later die golfswaai uitoefen sonder dat jy bewustelik daaroor dink.  Maar as jy ‘n slegte golfswaai het, dan raak jy beter met die slegte golfswaai, as jy ‘n goeie golfswaai het, dan raak jy al beter met die goeie golfswaai.

Ons moet ons dus inoefen om in die kragveld van die Gees te lewe – dit is die golfswaai wat ons moet inoefen!

Nog ‘n voorbeeld: in Jack London se klassieke storie, WHITE FANG, is White Fang half-hond, half-wolf. Nadat hy in die wildernis geleef het, word hy mak gemaak en leer hy om tussen mense te lewe!

White Fang was egter mal oor hoenders! Op keer het hy in ’n hoenderhok gevaar en 50 henne doodgemaak. Sy baas, Weeden Scott, het met hom geraas en hom toe weer in die hoenderhok ingeneem.

Hy het vir White Fang reg in die middel van die hoenderhok laat sit. Dit was ’n groot toets! Toe White Fang sy gunsteling kos sien, was sy natuurlike instink om te gaan vir ’n sappige hoendertjie! Maar hy was onmiddellik in sy spore gestop deur sy baas se stem!  Hulle het vir ’n tyd lank in die hoenderhok gebly. Elke keer as White Fang na ’n hoender wou hap, het sy baas se stem hom gekeer. So het hy geleer wat sy baas wou hê en so het hy geleer om hoenders te ignoreer.

Weeden Scott se pa het geredeneer dat jy nie ’n “hoender doodmaker” kan genees nie, maar Weeden het sy pa uitgedaag en so het hulle vir White Fang die hele middag in die hoenderhok toegesluit! Luister as Jack London self hierdie toneel beskryf:

“Locked in the chicken yard and there deserted by the master, White Fang lay down and went to sleep. Once he got up and walked over to the trough for a drink of water. The chickens he calmly ignored.  So far as he was concerned they did not exist. At four o’clock he executed a running jump, gained the roof of the chicken house, and leaped to the ground outside, whence he sauntered gravely to the house.” 

Toe voeg Jack London hierdie woorde by:  “He had learned the law.”

Watter wet was dit?

Die wet van gehoorsaamheid – hy het gemaak soos sy baas sê!  Weeden het hom geleer, en White Fang het hom laat leer, dit ingeoefen.

‘n Tweede hindernis is dat ons dink die werk van die Gees is altyd bonatuurlik.

Nou, dit is waar, sommige kere is die bewussyn van die Gees bonatuurlike ervarings, soos met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2, of toe die Gees die eerste keer in Sesarea uitgestort is oor mense wat nie Jode was nie (Hand 10). Daar word gewoonlik hierna verwys as die besonderse gawes. Dit is uitsonderlike gebeure wat die Gees gee, sommige openbaar en ander privaat. Maar die Gees werk natuurlik nie net as daar ’n bonatuurlike ervaring of ekstase betrokke is nie. Die teenoorgestelde is eintlik waar wanneer ’n mens na die verhale in die Bybel kyk. Meestal is dit “gewone”, natuurlike ervarings wat mense tot die oortuiging laat kom van die werk en die bedoeling van die Gees.

Hoe werk dit dan?  Waarop moet ons fokus?

Om in die kragveld van die Gees te lewe, is om bewus te raak van hierdie “gewone” ervarings, Frederick Marais en Willem Nicol noem dit bewegings, in jou. In Staying in Touch maak ons baie van die Stop-Look-Listen metodiek gebruik.  Dit is om die afgelope 24 uur te oordink, die goeie goed, die slegte goed, en dan baie spesifiek te probeer agterkom, waar het ons God se spore in ons lewe agter gekom.

Jy fokus dus nie op goed wat jy doen nie, maar op wat die Gees doen.  En een van maniere om dit agter te kom, is om te oorweeg of daar ‘n:

 

  • beweging van eie belang na ander se belang, van selfgerigtheid na liefde vir ander was. Want, as ek agterkom dat ek in my keuses van die vorige dag geklou het aan iets waarvan ek self hou, as ek agterkom dat ek in my keuses die vorige dag eintlik op my eie wil bly, dat ek isolasie verkies, dan is dit alreeds die Gees wat dit doen. Ons gehegtheid aan onsself is immers uiters moeilik om raak te sien, soos een woestynvader gesê het, ons ekkigheid is vir onsself so sigbaar soos ’n mier op ’n swart klip teen middernag. En as jy dan op die fyn stemmetjie van jou gewete reageer wat sê: Jy stel jouself eerste, dan vorder jy. En as jy in volgende Stop-Look-Listen oefeninge agterkom, ek begin dit regkry om na ander se werklike belange beweeg, dat ek gemeenskap met ander begin bou, al voel dit pynlik om van eiebelang weg te beweeg, dan is dit ’n teken dat die Gees jou begin lei, dat jy in sy kragveld begin leef.

So is daar ander bewegings in onsself en in ons bewussyn waarop jy kan fokus:

  • Ingewikkeldheid na eenvoud – die oplossings wat ons onder die Gees se leiding kry, is dikwels eenvoudig.
  • Selfgesprek na Godsgesprek – ware Godsgesprek is wanneer ek agterkom dat ek regtig met die Here praat oor ‘n saak en regtig oop is vir sy leiding.

En so is daar ‘n hele paar ander bewegings waarop ons kan fokus om in die kragveld van die Gees te beweeg.

Slot

Ek sluit af – ons is vrygespreektes. 

Christus het daarvoor gesorg. 

Ons leef in die kragveld van die Gees. 

Ons het nodig om ons denke daarmee vol te maak, en te begin fokus op die Gees se bewegings in ons.