Skip to main content

Tag: Pinkster 2020

Pinkster 02 – Bly getrou – Openbaring 2

“Ek kom gou”
Tema: Bly getrou
Pinkster 2 – Somerstrand Youtube 09:00 24 Mei 2020 

Kyk die video hier - laai die boek af hier

Verwelkoming

Welkom – van naby en van ver. Klein en groot. Ingeperk of met meer vryheid, omdat jy ‘n essensiële diens lewer. Ek bid veral vir julle, veral dié wat met kos en klere voorsiening help. En dié wat in die voorste linies in ons gesondheidsdienste werk. Ook die onderwysers wat dié week begin om die skole gereed te kry.

Ons verlang egter na geloofsgemeenskap en om ons rol in die samelewing te speel. Soos president Trump dit nou moontlik gemaak het in die VSA. Met onmiddellike effek. Ons bid vir dieselfde om hier by ons te gebeur. Dat ons regering rede sal insien, hoewel dit wel lyk asof nie sal kan sing as dit uiteindelik gaan gebeur nie!

Maar die positiewe is dat dit lyk asof families by ons op nuwe maniere aan mekaar verbind word. Die familie word herontdek as ‘n geloofseenheid. En dit is ‘n onverwagte bonus van hierdie inperkingstyd.

Juliette en David le Roux en hulle gesin het ingeskakel by die Dink-Jeug program. Hulle vind baie baat by hulle programme. Julle is welkom om daar te gaan rondblaai en van die programme te volg. Ek het self met die Milo-klub al van hulle programme gevolg.

Daar word oral nuut gedink oor die toekoms. Oor werk. Oor skool. Oor familiewees. Oor kerkwees. En dit is ‘n goeie ding. Ons gaan nuwe maniere van saamwees moet ontwikkel. Dieselfde geld ons barmhartigheid en sending.

Bid saam met ons dat ons aan die een kant die beproefde dinge wat die Here vir ons in die Woord geleer het, nie sal verlaat nie. Maar, aan die ander kant ook nuwe maniere van kontak maak en van kommunikeer sal aanleer.

Pinkster

Dit sien ons immers ook in Jesus se sewe briewe aan die sewe gemeentes van Turkye.

Ons kan dus baie daarby leer, want dit is duidelik briewe wat gerig is aan alle gemeentes soos elke brief afgesluit word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes (meervoud) sê.”

Jesus het ‘n weegskaal waarmee Hy gemeentes aan sewe kernwaarhede meet – liefde, getrouheid, lering, moraliteit, lewe, gehoorsaamheid, en dade. ‘n Wonderlike sinopsis van waaroor gemeentewees gaan.

En waar die gemeentes goed doen daarmee, prys Jesus hulle. Waar hulle tekort skiet, waarsku Hy hulle en gee voorstelle hoe hulle kan verander. En waar hulle saak met Hom reg is, moedig Hy hulle aan om te volhard – soos by Smirna – en die oop deure wat Hy gee – soos by Filadelfia – te benut.

Ek wil fokus op Smirna vanoggend en Laodisea vanaand. Met verwysing na die ander gemeentes.

Youtube: Videokanaal – Boek: “Ek kom gou!”

Continue reading

Pinkster 01 – Jesus kom weer – Hemelvaart

“Ek kom gou”
Tema: Jesus kom weer
Pinkster 1 – Somerstrand Youtube 18:30 Hemelvaart 21 Mei 2020 

Youtube Videokanaal – Boek: “Ek kom gou!”

Verwelkoming

Ons vier Hemelvaart vandag. Vandaar die pragtige inleiding met die orrel om die grootsheid van God aan te kondig. Dit kom uit ‘n verwerking van Psalm 117, ‘n Psalm wat ons hierdie week op 19 Mei in die Eenjaar Bybelleesprogram gelees het, dié wat die program van die begin van die jaar af volg. Die koor gaan die verwerking ook vir ons aan die begin sing.

Hemelvaart

Hemelvaart is ‘n belangrike herdenking in die kerklike jaar.

Ons dink terug aan die dag toe Jesus sy plek as God op die troon van God gaan inneem het. Dat Hy sy posisie as Koning van die kerk en die koninkryk ingeneem het. Vandaar het Hy sy Gees uitgestort op die kerk en die proses van die verspreiding van die evangelie begin.

En watter kragtige beweging het dit nie van stapel gestuur nie. Die hele bekende wêreld van daardie tyd het die evangelie gehoor, selfs al het dit baie keer geweldige teenstand uitgelok van die politieke en godsdienstige heersers van daardie tyd. Die Goddelike kant van die hemelvaart is ‘n buitengewone inspirasie vir ons om moed te hou in ons volharding as sy dissipels.

Ons dink ook terug aan hemelvaart as die dag wat Jesus as mens sy plek in die hemel ingeneem het. Iemand wat ons verteenwoordig in die hemel voor God die Vader. Dit is daar wat Hy vir ons as sy dissipels intree. Dit is ‘n buitengewone troos vir ons dat Hy weet wat dit is om mens te wees, om versoekings te moet deurstaan, om leed te ervaar. Hy is immers nie net die Seun van God nie, maar ook die seun van ‘n mens, gebore uit die maagd Maria. En daarom kan Hy as ‘n mens vir ons met begrip en deernis pleit en intree, daar aan die regterhand van die Vader.

Die Gees in ons is alreeds ‘n waarborg van ons ewige bestemming in die hemel. Maar, dat Jesus reeds daar in die hemel is, is ‘n dubbele waarborg dat ons ook daar sal kan kom. Die hemel is nie net ’n plek vir God en sy engele nie. Dis ook ’n plek vir God se mense. Dit is wat Jesus se hemelvaart vir ons sê.

Dit is met hierdie boodskap wat Openbaring begin. Jesus op die troon in die hemel. In sy Goddelike-menslike gestalte. Wat vir ons moed gee vir ons stryd vir die geloof. Hy is vanuit die hemel besig om sy koninkryk te vestig. Wat ons troos vir die uitdagings wat ons moet trotseer. Hy weet waardeur ons gaan. Hy het trouens dieselfde dinge gely en getriomfeer.

En waarmee Hy die eerste hoofstuk begin is om nie net sy hemelvaart te beklemtoon nie, maar sy wederkoms. “Kyk, Ek kom gou!” Jesus kom weer!

Dit is die boodskap van hierdie Pinkster. Dit is waarmee die Here Jesus jou wil troos en jou wil moed inpraat vir die stryd vir die evangelie in hierdie wêreld.

Continue reading