Die Pad na Lewe – Matteus 5 Preek
Kom ons verbeel onsself gou vir ‘n paar oomblikke dat ons deel is van die skare wat daardie dag, soveel eeue gelede, saam met Jesus teen die berg gesit het.
Daar is twee groepe van ons. Party van ons is bietjie bekommerd oor Jesus. Ons is tradisionaliste. Ons is baie geheg en getrou aan die wet en die profete. En ons is bekommerd dat Jesus té anders is, dat Jesus nie meer getrou is aan die oorgelewerde tradisie van Moses en die profete nie.
Die ander groep van ons voel ons glad nie gebonde aan die tradisie nie. Ons buig die reëls om ons te pas, om ons eie sin te kry. Ons wil ontslae raak van die Romeinse onderdrukkers. En ons is bekommerd dat Jesus nie anders genoeg is nie, dat hy nie ver genoeg gaan om die juk van die onderdrukkers af te gooi nie.
So ons luister na Jesus. Elk bietjie skepties. Maar elk in die hoop dat Jesus óns agenda gaan bevestig, gaan sê dat óns eintlik reg is.