• Home
  • Filippense; Chris; van Wyk

Posts Tagged ‘Filippense; Chris; van Wyk’

Fil 3:3-14 – Son 5 Okt 08

 

IETS KAN VIR JOU MEER WAARDE KRY

Maar is dit nie ook so nie, dat as jy iets anders kry wat meer vir jou beteken as iets wat jy voorheen gewaardeer het, dit vir jou meer waarde het.

Ek onthou aan die begin van my blootstelling aan rekenaars hoe ek Computer tydskrifte met CD’s gescan het vir die nuutste “gratis” sagteware.  Want ek kon nie die kommersiële sagteware bekostig nie.

Elke maand as nuwe tydskrifte hier onder by CNA verskyn het, het ek met opgewondenheid deur hulle geblaai, en gekyk watter nuwe sagteware kan ek daaruit kon kry.  En dit het vir my groot waarde gehad.

Totdat … ek ‘n paar jaar later die woordverwerkingsprogram Word in die hande kon kry en nog later Photoshop, Acrobat, Indesign en ‘n hele boel ander sagteware met die tyd … en die tydskrif fase van my lewe agter gelaat is.  Die kommersiële goed het vir my meer waarde gekry.

Ek stap nou nie eers meer in by CNA nie … behalwe as ek van tyd tot tyd ‘n pen nodig het.  Dié behoefte het nog nie verander nie!

PAULUS SE JOODSHEID

‘n Mens sien iets van hierdie waarheid in Filippense 3, hoe Paulus as’t ware die tydskrif fase van sy lewe afgelê het, en op beter dinge gefokus het.

Paulus was ‘n Jood en tot die einde van sy lewe het hy dit gebly.  Op ‘n tyd in sy lewe het hy baie peil getrek op hierdie Joodse afkoms.  Dit was vir hom kosbaar.  Hy het dit verdedig op allerhande maniere.  Hy het selfs so ver gegaan om Christene in die tronk te stop en geen vinger verroer as hulle doodgegooi is voor sy voete nie (Hand. 8 – Stefanus).

JESUS VERANDER ALLES

Maar daar het ‘n wonder in sy lewe gebeur.  Jesus het aan hom verskyn en sy hele perspektief het verander.  Van ‘n teenstander van die Christene het hy hulle grootste voorstander geword.  Van ‘n geswore vyand van Jesus het die ontmoeting hom een van Jesus se getrouste vriende verander.

Nou vat ‘n klomp Jode hom aan in Filippi oor sy Joodsheid, of dan sy gebrek aan Joodsheid.

JOODSE CV

En Paulus laat nie op hom wag nie – en hy sê: as julle oor Joodsheid wil gesels, laat ons gesels.  En dan gee hy sy Joodse CV in verse 5-6. Hy lig sewe dinge van sy agtergrond uit, wat sy Joodsheid verwoord.  Vier het hy met geboorte ontvang en drie deur sy eie toedoen.  By sy geboorte is:

  1. Paulus besny op die agste dag (en dus nie ’n heiden nie);
  2. Hy was dus ’n Jood uit die Joodse volk (en nie bloot ’n proseliet nie);
  3. Hy was uit die stam van Benjamin (en nie uit een van die minder belangrike stamme nie)
  4. En ’n Hebreër uit die Hebreërs (Hebreër het na Aramees sprekende Jode verwys in kontras met die wat Griekssprekend was.  Paulus was dus nie uit ’n familie van Jode wat die Hellenistiese gebruike oorgeneem het nie.  Hulle het as suiwer Jode geleef.).

As volwassene het Paulus sy Joodse geloof opreg uitgeleef en ‘n paar Joodse dinge by gedoen.  Hy het gekies:

  1. om die wet soos ’n Fariseër te interpreteer (d.w.s. streng en konserwatief);
  2. om die Christene vervolg
  3. en boonop was hy volgens die Joodse wet sonder fout gewees.  Dit beteken nie dat hy voor God sondeloos was nie (Paulus se teologie stel dit immers dat almal gesondig het – sien Rom. 2-3), maar dat niemand ’n bewese klag teen hom sou kon indien omdat hy nie die wet nagekom het nie (vers 7).  Nie eens die Fariseërs sou met ander woorde met sy lewe kon foutvind nie.  Hy was, soos die ryk jongman in Lukas 18:21, iemand wat die wet, volgens sy volksgenote se standaarde, nougeset gevolg het.  

Maar nou …

BATES EN LASTE

Paulus beskou al hierdie uiterlike dinge soos afkoms, opvoeding en oorgeërfde godsdienstige deugde, asook eie godsdienstige prestasies en aktiwiteite nie meer as geestelike bates nie, maar as geestelike laste

Volgens Paulus het sy teenstanders hul Joodse herkoms in die verkeerde kolom in hulle balansstaat, die Geestelike Grootboek, ingeskryf (verse 7-8). 

Paulus gaan so ver as om te sê dat dit vir hom verwerplik – skybala – “riool, mis” – is (vers 8). 

Ons moet mooi hoor wat Paulus hier sê: Alles waarop hy as Jood geroem het, was nie net niks werd nie – dit was eerder laste. 

Hoekom? 

Omdat dit hom blind gemaak vir die feit dat hy ook verlossing deur genade nodig gehad het.  Hy het soos sy teenstanders gedink dat hy geestelik skatryk was, terwyl hy intussen geestelik bankrot was. 

Interessant hoe Paulus hier boekhoukundige terme gebruik, vir wins (kerdē) en verlies (zēmia).

Hiermee sluit hy aan by hoe Jesus self gesê het in Matteus 16:26: “Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry (kerdaínō), maar sy lewe verloor (zēmióō), of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?”. 

Paulus verklaar hiermee dus dat hy vroeër geleef het op die Joodse manier.  En hy het al die getuigskrifte wat wys hoe goed hy dit gedoen het.

Maar nou, nou leef hy volgens die woorde van Jesus in Matteus, want om Jesus te volg het meer waarde as om sy Joodse herkoms te volg.

  • Joodsheid is nou vir hom ‘n las, dit het oorgeskuif na die laste kant van die balansstaat, hy gee dit prys, hy laat dit agter, hy is verby met dit, hy sal nie weer terugkeer daarheen nie, hy is klaar daarmee.  
  • Hy het Jesus gevind, dit is nou sy enigste bate, en dis al waarop hy vir die res van sy lewe wil konsentreer.

Soos Marius Nel sê: “Paulus volg hier die beleggingsadvies van die gelykenisse van Jesus oor die skat en die pêrel (Matt.13: 44-46)”, waarop ons vroeër die jaar gekonsentreer het.

Jesus is die enigste bate wat regtig waarde het.  Alles anders is laste.

Ek herhaal en onderstreep dit:  Ter wille van hierdie Jesus, is Paulus bereid om alles, vrywilliglik, as waardeloos te ag, as laste, sodat hy Jesus ten volle kan ken, as enigste bate.  Hy wil letterlik in Jesus gevind word op die laaste dag (vers 9).

Dít is die evangelie ….

JESUS VERANDER ALLES

Nou – Vers 12 is seker een van die belangrikste verse in die brief.  Paulus skryf hier dat al het hy nog nie alles ontvang nie – letterlik “gegryp” nie, is sy troos dat hy reeds deur Jesus gegryp is.  Vers 12 lees in die OAV – “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”  In die NAV – “ek streef daarna om alles myne te maak omdat Christus my reeds Syne gemaak het.” 

Uiteindelik is dit die grond van ons sekerheid dat Christus ons gegryp het voor ons Hom probeer gryp het!  Al is ons dus soms onseker van ons greep op Hom, (“geloofsekerheid” as sekerheid van ons geloof) kan ons seker wees van sy greep op ons (“Christus sekerheid” vs “Geloofsekerheid”).

Daarom is Paulus se strewe om Christus te ken, Hom na te volg en om alles te doen waartoe Christus hom roep.  Daarom het hy het hom ingespan om hierdie oogmerk te bereik (3:12–14).  Hy vergelyk in 3:13–14 die geestelike lewe van ’n gelowige met ’n wedloop.  Hy sê naamlik hy hardloop soos ’n atleet wat net die skopus – letterlik die eindpaal wat die einde van ʼn wedloop aangedui het – in die oog het (vers 14).  Met brandende longe en beurende spiere pyl hy op die eindpaal af.  Hy hardloop letterlik sy liggaam stukkend.  Paulus sê dat geestelike volwassenheid is om só te hardloop (vers 15).

APPÈL

Die vraag is of ons bereid is om geestelik so te hardloop? 

Tony Campolo vertel hoe hy as jong hoërskoolseun die myl gehardloop het om meisies te beïndruk (waarom sou ʼn mens dit anders doen?).  Op ʼn dag het hulle afrigter hulle geneem om na Roger Bannister te gaan kyk toe hy in Philadelphia gehardloop het.  Op die dag het Bannister weer die myl onder 4 minute afgelê.  Hy het gehardloop soos ʼn besetene – net om na die wedloop soos ʼn dooie vis by die wenpaal neer te val.  Hulle moes hom letterlik met ʼn draagbaar wegdra. 

Na die wedloop het die afrigter na Campolo gedraai en vir hom gesê “Tony, só wil ek hê dat jy moet hardloop.” 

Campolo het egter by homself gedink dat geen meisie dit werd was nie.  Nadat hy die half dooie Bannister gesien het, het Campolo homself nooit weer ʼn “myl atleet” genoem nie.  Hy het wel die myl gehardloop, maar hy was nie ʼn myl atleet nie.  Hy het doodgewoon nie kans gesien vir dit wat dit van hom sou vereis nie.

Is ons atlete vir Christus of mense uit op ’n pretdraf?  Span ons onsself werklik geestelik in of is ons so geestelik onfiks dat 1 minuut se bid en 2 se Bybellees ons geestelik uitasem laat?

Paul Tillich het iewers hierdie waar ding gesê:  “Whatever our ultimate concern is, that is our God.”

SLOT

Hierdie kwartaal gaan ons die baan open vir die atlete, vir die fikses, maar verseker ook vir die onfikses!  Jy het vier opsies:

  1. Jy kan jou vaardighede om na God te luister en in voeling met Hom te kom en te bly, in Bly in Voeling.  
  2. Jy kan jou vaardighede om die breë lyne van die boodskap van die Bybel te verstaan opskerp, sodat jy in jou refleksie daaroor geestelik kan groei, in die Bybelskool.
  3. Jy kan insak in ‘n spesifieke perikoop van die Bybel en leer om dit deeglik geestelik te lees, in Lectio Divina.
  4. Jy kan jou vaardighede om in ‘n vennootskap saam met jou maat voor God te kan lewe opskerp, in die Alpha huwelikskursus.

Skryf in – dit begin Woensdag die 15de Oktober – en daar is ‘n ete beskikbaar om 18:00 vir die besiges onder ons.  Bespreek net vooruit, teen volgende Sondag vir die daaropvolgende Woensdag.

Continue Reading