Posts Tagged ‘1 Samuel 25’

1 Samuel 25 – Abigajil: om met vrygewigheid te leef – Son 1 Nov 09

Abigajil – om met vrygewigheid te leef

1 Samuel 25

Verwelkoming

Toetrede

Ek is bly, ek is bly, ek verbly my in die Heer – Flam 111 en ou Jeug-tot-Jeugaksie lied – 35 jarige viering – koor

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 199 – Loof die Here uit die hemel, loof Hom deur wie ons bestaan – staan

Lied 190 – Grote God, aan U die eer!  Heerlik is waar U regeer – koor vers 2, gemeente vers 1 en 3 – sit

Kindertyd

Vertel die verhaal van Nabal.

  • As ‘n mens suinig is, hou niemand van jou nie.
  • As jy mededeelsaam is, maak jy baie vriende.

Dankoffer

Gebed

Skriflesing

God se liefde vergaan nooit nie, selfs al is Hy vir ‘n kort tydjie toornig op ons.  Met pragtige metafore beskryf God sy liefde in Jesaja 54 : “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie.”  Soos iemand die week vir my sê: “Liewe Jesus is lief vir my.”

Oral in die Bybel word God geteken as ‘n God wat vergewe, wat genadig en barmhartig is, lankmoedig en vol liefde.  Hy is “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” (NGB artikel 1).

Dit is die basis vir ons eie vrygewigheid, wat ons met begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid laat optree teenoor ander. Soos Paulus sê: “Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees.” (2 Kor 6:6)

En ons gaan nou een van die beste voorbeelde hiervan in die hele Bybel lees, om dié beginsel te illustreer, die verhaal van Abigajil in 1 Samuel 25, ‘n vrou wat geleef het uit die liefde van die Here.

Woordverkondiging

Samuel se dood het die volk diep geraak.  Hy was ‘n man van integriteit; hy het die volk weer geleer wat dit beteken om met God in ‘n verhouding te lewe, sonder die ark; en hy was die laaste rigter-profeet.

Na hom was die vraag krities vir die volk.  Met watter tipe koning gaan hulle die toekoms in: Saul, die een wat eie-belang nastreef, of Dawid, die een na God se hart?

‘n Mens lees met groeiende kommer hierdie eerste verhaal na Samuel se dood.  Gaan Dawid uiteindelik regtig anders as Saul wees? En die antwoord draai om twee keuses: wysheid of dwaasheid – sal die komende koning wys wees of dwaas?

Jou hart sak nogal in jou skoene as ‘n mens lees dat Dawid hier gevaar loop om dwaas op te tree.  Net tevore, in die En-Gedi woestyn, het hy wys opgetree om nie vir Saul te probeer doodmaak nie, al kon hy.  Nou dreig hy om tot dwaasheid oor te gaan, omdat hy wraak wil neem vir die beledigings wat Nabal na sy kant toe slinger.  Dat Nabal ondankbaar is vir die beskerming wat Dawid ‘n jaar lank aan hom gebied het, stuit hom teen die bors.

Nabal

Die verhaal begin by Nabal, ‘n ryk en invloedryke man, wat ‘n oesfees hou nadat hy skape geskeer het. Dit is die regte tyd vir Dawid om hom te vra vir ‘n beloning, aangesien Dawid en sy manskappe die veewagters en hulle kuddes die hele jaar lank beskerm het en die fees gereël is vir almal wat betrokke was by die boerdery.

Nabal is egter nie net kortaf en onbeskof nie, maar ook beledigend teenoor Dawid.  Hy noem hom sommer ‘n wegloperslaaf. Hy tree heel anders op as sy voorvader Kaleb, wat ‘n man uit een stuk was.  Hy tree eerder op soos ‘n hond, die betekenis wat die naam Kaleb eintlik het.

Daarmee illustreer Nabal interessant genoeg dat hy dieselfde karakter eienskappe as Saul het.  Hy is net so dwaas soos Saul, van wie ons in hoofstuk 24 lees dat hy regtig jammer geklink het vir sy moorddadige gedagtes, toe Dawid sy lewe gespaar het in die grot waar Saul niksvermoedend ‘n draatjie gaan loop het en Dawid en sy manne geskuil het.  Maar, soos hoofstuk 26 gaan vertel, het Saul, soos ‘n dwaas, sy jammerte gou vergeet en weer vir Dawid in die Sifwoestyn agtervolg, hoewel Dawid dit darem weer daar reggekry het om vry te kom, en weer wys optree deur Saul se lewe te spaar.

Nabal se naam beteken nie verniet, dwaas nie.  Want dit is wat hy is – ‘n dwaas.

Ons leer in sy verhaal dat inhaligheid jou uiteindelik inhaal.  As jou hart toe is vir jou medemens, en nog erger, as jou hand toe is as jy die vermoë het om te help, dan boemerang dit uiteindelik op jou.  Regdeur die Bybel is daar die Nabals en die ryk jongmanne wie se hande vasgegroei het aan hulle besittings.  Maar dit is ‘n sonde wat jou uiteindelik inhaal.

Dit is wat Jesus ons ook leer in die Nuwe Testament.  Liefde is vrygewig.  Dit sien ons die beste in die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het.  Hy het sy lewe vir ons afgelê.

Daarom sê Johannes, in 1 Joh 5, behoort ons ook ons lewe af te lê vir mede-gelowiges.  Die oomblik dat ons ons hart en ons hand toe maak vir iemand wat gebrek lei, leef ons nie meer in die liefde nie, raak ons ‘n Nabal, ‘n dwaas.

En dit help nie ons doen dit ook net met woorde nie. Vrygewigheid met woord EN daad is die toets vir ‘n ware geloof.

Die wonder is dat 1 Johannes 5 dit vir ons uitspel dat vrygewigheid aan ons die vrymoedigheid gee om na God te gaan en van Hom te vra wat ons nodig het.  En die eindresultaat is dat ons in God bly en Hy in ons.

God roep jou dus vandag op om goed na te dink oor mense wat jy weet gebrek lei en om te oorweeg voor die Here hoe jy met dade gaan help.

Abigajil

Terug by die verhaal.  Terwyl Dawid woedend optrek teen Nabal om wraak te neem, verskyn Abigajil, Nabal se vrou, op die toneel en, anders as in beide Dawid en haar man Nabal se geval, tree sy met groot wysheid en sjarme op. Haar naam het dan ook ‘n positiewe konnotasie: “my God gee vreugde”.

  • Sy stuur ‘n groot versoeningsgeskenk vooruit (amper soos Jakob toe hy Esau tegemoet gegaan het – Gen 32), terwyl sy self agterna kom.  En dit is amper oordadig en uiters vrygewig, in direkte kontras met haar man se inhaligheid: 200 brode, wyn, 5 gaar skape, koring, rosyntjies en vye.  Dat dit so onmiddellik gereed was, beteken dat dit uit die feeskos bymekaar gemaak is.
  • En dan kom sy direk, amper asof dit ‘n Goddellike afspraak is, op Dawid af.  En sy vra om met hom vertroulik te praat, heel moontlik sodat hy nie in ‘n slegte lig gestel word voor sy manskappe nie.
  • En met roerende en welsprekende woorde, spreek sy haar onomwonde uit teen die dwaasheid en onreg van Nabal en maak eintlik verskoning dat sy nie vroeër raakgesien het wat gebeur nie.

Met hierdie optrede doen sy vier goed:

  1. Sy tree vrygewig op teenoor Dawid, en vergoed so vir Nabal se inhaligheid;
  2. Sy erken die goeie wat Dawid vir hulle gedoen het, en die kwaad wat Nabal hom aangedoen het, waarmee sy sy gevoel van onreg aanspreek;
  3. Sy erken Dawid as koning waarmee sy hom eintlik herinner waarheen hy op pad is, en eksplisiet haarself agter die roeping wat God vir hom het, skaar;
  4. Sy keer dat Dawid se woede hom net so dwaas laat optree as Saul en Nabal, sodat daar ruimte kom vir God om op te tree.

Sy illustreer eintlik die twee waardes waaroor ons verlede week in Psalm 15 gepraat het, omgee en geregtigheid.  Sy gee om wat Dawid gaan doen, uiteraard ook omdat dit haar mense gaan raak, maar nog dieper, herinner sy Dawid aan wat die wraak aan homself gaan doen.  En sy erken dat Nabal verkeerd was en bevredig so Dawid se sin vir regverdigheid.

Hoe mooi sê sy nie vir Dawid nie: “mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie.” (:31)

Dit is ‘n belangrike lewensles.  Sy leer ons dat wysheid is om op God se tyd te wag en die wraak aan Hom oor te laat.  Paulus sou heelwat later hieroor skrywe (Rom 12:19-21): “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God” … “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld.” (uit Deut 32:35 aangehaal) … “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

En so wys Abigajil ons hoe ‘n mens moet optree wanneer dwaasheid en wraak dreig om die storie van God met sy volk te laat ontspoor.  Sy spandeer geen tyd met die dwase een, Nabal, nie, maar doen baie moeite om die een wat nog nie tot dieselfde vlak gedaal het nie, Dawid, te oortuig om met wysheid op te tree en God ‘n kans te gee om op te tree.

En laat ons dit goed onthou, dit is nie net Dawid en Nabal, en natuurlik ook Abigajil se lewens wat hier op die spel is nie.  Dit is die volk se lewe wat hier geraak word – Samuel is dood, Saul maak droog, en Dawid se woede dreig om hom te laat daal tot dieselfde vlak waarop Saul opereer.  En as hy sou wraakneem, sou daar regtig ‘n baie donker tyd vir die volk aanbreek …

Die Here tree dan ook inderdaad op, wanneer die ruimte vir hom gelaat word deur Dawid.  Wanneer Nabal die volgende oggend van alles hoor, kry hy ‘n hart aanval (letterlik: sy hart het soos klip geraak in hom – ek verstaan nie regtig die verwysing na ‘n beroerte-aanval in NAV nie) en sterf tien dae later. Die Here het dus opgetree sonder dat Dawid self bloed vergiet het en sonder dat hy die inwoners van suidelike Juda, waar Nabal ‘n invloedryke persoon was, die harnas ingejaag het.

Abigajil illustreer ook hier vir ons ‘n baie belangrike geestelike beginsel, wat Paulus later in 2 Korintiërs 9:6-15 sou beskryf: “Wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.” God het die blymoedige gewer lief, een wat nie teësinnig of uit dwang gee nie.

En die belofte van die Here is, dat ons vrygewigheid die sluise van die hemel oopsluit, want God is by magte om aan ons alles in oorvloed te skenk, sodat ons in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.  God kan ons vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.

Ek wil jou daarom uitdaag die week om die Here te beproef hierin: Wees vrygewig teenoor mense in nood en teenoor die werk van die Here in die gemeente en gemeenskap.  Jy sal verstom staan met die opbrengs van dankbaarheid en voorsiening.

Dawid

Terug by die verhaal.  Dawid kon dus ervaar dat ook wat betref die koningskap, hy sake rustig in die hande van die Here kon laat.

Daar is immers niks so gevaarliks as wanneer ‘n mens dink dat jy benadeel is nie. Die woede as jy meen dat jy veronreg is, kan jou dryf tot erge stryd en wraak en vergelding.

Daarom moet ‘n mens ten alle koste waak daarteen dat die gevoel die oorhand oor jou kry. Dit is waarom die Bybel sê dat ons ons nie teen die kwaadwillige moet verset nie (Matt 5:38-42) en nie kwaad met kwaad moet vergeld nie (Rom 12:17-19; vgl 1 Kor 6:7-8; 1 Tes 5:15; 1 Pet 3:9), omdat dit God se verantwoordelikheid is (Deut 32:35; Rom 12:19; Heb 10:30) – vgl die Bybel in Praktyk.

Wat die gelowige moet doen, is om sy vyand lief te hê (Matt 5:43-48; Rom 12), in gesprek te tree dat dinge reggestel kan word en daar versoening kan kom, en die Here te vertrou vir die uitkoms, selfs al lyk dit soms of dit aanvanklik selfs nog slegter gaan.

Dawid kry uiteindelik baie meer as wat hy met die wraak sou regkry.

  • Sy manskappe word beloon deur die vrygewigheid van Abigajil.
  • Nabal word deur die Here getref en is nie verder ‘n faktor in die verhaal nie.
  • Hy trou uiteindelik met Abigajil, waarmee hy ‘n bekwame vrou kry, ‘n vrou van dieselfde formaat as sy groot-ouma Rut.
  • Maar die bonus is ook ‘n versterkte invloed in suidelike Juda wat uiteindelik ‘n groot rol in die erkenning van sy koninskap sou speel.

En breër gesien, hy kry dit reg om anders as Saul op te tree en wys onomwonde aan die volk dat hy die regte tipe koning gaan wees. Hy is dapper … EN gehoorsaam aan God, hy tree met krag op teen die bedreigings van die Filistyne … EN hy wag met wyse geduld op God se ingrype om regstelling waar sy eie belange in gedrang kom.

Dawid leer hier dus om nie geestelik of polities dwaas op tree nie, maar om die verloop van sake in God se hande te laat en te doen wat die Here op sy hart lê.

En dit alles weens die vrygewigheid, sjarme en wysheid van Abigajil.  Sy staan soos ‘n helder baken uit in die verhaal, en sy is die een wat die skrywer vir ons voorhou as die voorbeeld om te volg, om ‘n karakter na God se hart te wees.

Ek sluit af

Die bottomline van vrygewigheid is volkome vertroue op die Here. Lees gerus Spreuke 3:5-10 die week wat dit beklemtoon.  Daarsonder kan ‘n mens eintlik nie anders as om inhalig te wees soos Nabal nie.  Dit sluit in dat jy nie op jou eie insigte staat maak nie, maar God ken in alles wat jy doen.  Dan sal Hy jou die regte pad laat loop.  Hierdie absolute fokus op God, beteken dat jy die slegte kan vermy, en dat jou lewe fisies en geestelik genees word.

My uitdaging aan jou die week is: Oorweeg weereens biddend hoe jy die Here kan vereer met offerandes uit alles wat jy besit, en met die beste uit jou oes.  En beproef die belofte van die Here: “dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”

Gebed

Aankondigings

Slotlied

Lied 523 – Goddelike liefdebande bind in Jesus mense saam – staan

Seën

Amen

Lied 189 – Halleluja – staan

Continue Reading