Skip to main content

Ses Geloofsgesprekke

Daar is ‘n direkte verband tussen die geloofsvolwassenheid van kinders en tieners  en hulle geleenthede om oor geloof met hulle ouers en ander volwassenes te gesels (Search Institute navorsing).  Hoe meer jongmense oor geloof met volwassenes gesels, hoe hoër is hulle geloofsvolwassenheid.  Hier is die eerste gespreksraamwerk wat jy kan benut om ‘n geleentheid te skep vir sulke geloofsgesprekke.

Besluit vandag met wie jy graag oor geloof wil gesels.  Dit kan met jou ouers/kinders wees by huisgodsdiens óf in ‘n een-tot-een gesprek.  Dit kan by julle kleingroepbyeenkoms wees of in ‘n een-tot-een gesprek met iemand wat jy vertrou.

Daar is ‘n reeks van ses gesprekke hiervoor.  Jy kan dit op ons webtuiste (ngkerksomerstrand.co.za) aflaai en uitdruk, of by die kerkkantoor vra dat ons dit vir jou fotostateer.   Daar is reeds ‘n paar eksemplare gedruk.

Die teksvers vir al ses geleenthede is Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Gesprek EEN – Om God te ken

Gebed – Here, ons wil graag met mekaar oor U gesels.  Ons vra dat U ons sal seën en die moed gee om openlik te gesels.  Ons wil eerlik wees met mekaar en leer by mekaar.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Wat is die moeilikste ding wat jy al gedoen het of probeer doen het?
  3. As jy vir iemand moes vertel wie God is, sal dit vir jou moeilik of maklik wees?  Hoekom?
  4. Maak ‘n lysie van sewe dinge wat die volgende sin voltooi: “God is …”
  5. Voltooi hierdie sin: “Een van die redes hoekom ek weet God bestaan, is …”
  6. Hoe naby voel jy aan God in die loop van jou dag?
    1. “Ek voel naby aan God wanneer …”
    2. “Soms voel ek God is ver, wanneer …”
    3. As jy God een vraag kon vra, wat sou dit wees?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek TWEE – Om die wêreld te ken

Gebed – Here, ons dank U vir die wêreld waarin ons kan lewe.  Vergewe ons dat ons nie altyd goed kyk daarna nie.  Help ons om U koninkryk te soek in alles wat ons doen.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. As jy enige plek in die wêreld kan gaan, waarheen sal jy gaan?
  3. Wat sal jy ‘n alien antwoord as dié jou sou vra: “Wat is die grootste ding wat al in die wêreld gebeur het of tans gebeur?”
  4. Hoe is die wêreld anders vandag as 25 jaar gelede?  En 100 jaar gelede?  En 2000 jaar gelede, toe Jesus op aarde was?
  5. Watter veranderinge sedertdien is goed?  Watter veranderinge is sleg?
  6. Wat dink God van die wêreld vandag?  Waarvan sal Hy hou?  Waarvan sal Hy nie hou nie?
  7. Wat sal anders wees in ons wêreld oor 25 jaar?  En oor 100 jaar?  En 2000 jaar van nou af?
  8. Wat dink jy sal met die Christendom gebeur in die toekoms?  Wat is ons rol om die Christelike geloof te bewaar vir die toekoms?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek DRIE – Sy Enigste

Gebed – Here, ons dank U vir U Seun wat U vir ons gestuur het om vir ons sondes te sterf.  Help ons om nooit te vergeet wat U vir ons gedoen het nie.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Hoeveel kinders is in julle familie?  Hoeveel is daar in jou ma en jou pa se families?
  3. As jy broers of susters het, hoe is jou verhouding met hulle?  As jy nie ‘n suster of broer het nie, hoe is jou verhouding met jou beste vriend of vriendin?
  4. Watter dinge is vir jou as kind goed in jou familie?  Watter dinge is moeilik?
  5. Watter dinge dink jy was vir Jesus goed as die Seun van God?  Wat was die dinge wat moontlik vir Hom moeilik sou wees?
  6. Hoe sal jy voel as iets tragies met jou of een van jou familielede gebeur?
  7. Hoe dink jy het God gevoel toe Hy sy Enigste Seun aan die kruis sien sterwe?  Hoekom het God dit laat gebeur?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek VIER – Glo My!

Gebed – Here, U het my só baie redes gegee om in U te glo.  Help my glo en om U in alles te gehoorsaam.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Hoe sal jy die woord “glo” verduidelik?
  3. Voltooi dié sin: “Van die dinge waarin ek glo, is …”
  4. Voltooi nou dié sin: “Van die dinge waarin ek nie glo nie, is …”
  5. Voltooi ook dié sin: “Van die dinge waarin ek geglo het, maar nie meer glo nie, is …”
  6. Watter soort mense glo jy as hulle jou iets vertel?  Hoekom glo jy hulle?
  7. As jy wil hê mense moet jou glo, wat sal jy doen?
  8. Wat sal jy antwoord as iemand jou vra, “Glo jy in God?”
  9. Wat het God gedoen om dit makliker te maak vir mense om in Hom te glo?
  10. Op watter maniere doen God dit vandag nog om mense te help om in Hom te glo?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek VYF – Die dood verander dinge

Gebed – Here, ons weet dat U sorg dat alle dinge ten goede meewerk.  Ons weet dat ons die ewige lewe het deur die opstanding van Jesus Christus, selfs wanneer ons doodgaan.  Help ons om mekaar te ondersteun wanneer ons en ons geliefdes deur die dood geraak word.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Probeer Johannes 3:16 uit die kop aanhaal vir mekaar.
  2. Het jy (of iemand wat jy ken) al ‘n ervaring gehad waar jy gedink het jy gaan dood?
  3. Hoe het dié ervaring jou verander of geraak?
  4. As jy nog een week oor het om te lewe, wat sou jy doen?  Hoekom?
  5. Wat keer jou om dié dinge vandag te doen?
  6. Het jy al iemand naby aan jou verloor?  Hoe het dit jou laat voel?
  7. Johannes 3:16 sê: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie.”  Wat beteken dit?  Hoe verander dit jou siening van dood en lewe?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek SES – Ewige lewe!

Gebed – Here, ons dank U vir die tyd waarin ons mekaar beter kon leer ken het.  Help ons om U ook al beter en beter te leer ken.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Haal Johannes 3:16 uit die kop aan vir mekaar.
  2. Wat is die beste Kersfees – of verjaarsdag geskenk wat jy al gekry het?
  3. As jy vir een geskenk dié Kersfees kon vra, wat sal dit wees?
  4. Hoe dink jy is die hemel?  Hoe lyk dit?  Wie is daar?
  5. Dink jou vriende dat die hemel ‘n beter geskenk is as enigiets wat hulle hier op aarde kan kry?  Hoekom of hoekom nie?
  6. As jy nou die een geskenk kry wat jy graag wil hê, hoe sal dit jou laat voel?  As jy dié geskenk ook vir iemand anders kan gee, wie sal dit wees?
  7. Elkeen wat glo in Jesus Christus ontvang die gratis geskenk van die ewigeWat beteken dit?  Hoe reageer jy daarop?
  8. Dié geskenk is daar vir elkeen wat jyVir wie vertel jy daarvan?
  9. Watter van jou vriende of kennisse sou jy graag wou hê moet ‘n Christen word?
  10. Wat kan jy doen (of het jy al gedoen) om hom of haar te help om die liefde van Jesus Christus te leer ken?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.