Skip to main content

ROMEINE 8:12-17

Week van 27 Mei – 2 Junie 2012

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervarings van die Heilige Gees.
  • Word stil en laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

Lees Romeine 8:12-17

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

’n Verhouding met die lewende God

Die Romeinebrief is ‘n kragtige getuienis van die wyse waarop Vader, Seun en Heilige Gees ons red deur ons in te trek in ‘n verhouding met die lewende God. 

Romeine teken ‘n baie eerlike prentjie van die menslike kondisie.  Mense se nood is dat hulle vervreemd is van God, in opstand teen God leef, en in diepe skuld voor God staan. God laat ons egter nie aan onsself oor nie.  Vader, Seun en Heilige Gees tree toe tot ons wêreld van angs en vervreemding – van mekaar en van God.  Deur liefde trek die Vader ons in Jesus Christus en deur die kragtige werk van die Heilige Gees nader.  God maak ‘n deur na ‘n herstelde verhouding met God oop.  Dit gebeur op grond van die versoenende werk van Christus en die Heilige Gees wat die geloof in ons wek om die verlossing te ontvang.

Twee kragte is in ons aan die werk

Dit is egter nie eenvoudig en ongekompliseerd om in ons wêreld te leef nie.  Daar is twee kragte aan die werk – in ons wêreld en in elkeen van ons.  Romeine 8:1-16 getuig hiervan.  Die een krag is die sondige natuur wat ons na die dood toe sleep.  Aan die ander kant is daar die krag van die Gees van God wat die lewe in ons wek. Die “sondige natuur” lei tot ’n lewe in vrees vir die wet.  Aan die ander kant is daar die Gees van God wat ons vrymaak van sonde en dood en lewend vir God.  Die een krag werk deur beheersing of oorheersing (13), die ander deur leiding en oorreding (14). Die een gees maak van eie kinders slawe, die ander Gees maak van weeskinders aangenome kinders en erfgename.

God kom by ons tuis

Dit beteken dat God tuis kom by ons!  Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word is oikei (woon) wat ten nouste verband hou met huis (oikos) of huishouding (oikia). Dit is hoe God lewens vernuwe.  God kom deur Christus tot by ons, lê deur die Gees beslag op ons, bind ons aan Christus se verlossende werk vas en kom woon binne-in ons.

Ons word uitgenooi om te kies vir die krag van die Gees

Daarom kan ons op ‘n nuwe manier lewe.  God woon in ons.  Ons is deel van God se huishouding.  Ons kan kies, sê Paulus, aan watter van hierdie kragte jy jou lewe wil oriënteer.  Daar is die gees wat dood en verwoesting bring, en die Gees wat lewe en nuwe lewe bring. Ons teks is ‘n uitnodiging om ons aan die Gees te oriënteer.  “Daarom dan.” Ons is genooi om ons seile te span in lyn met die winde van die Gees.  Om deur die krag van die Gees te kies teen die sonde, en vir die lewe van kindskap.

Wat beteken dit prakties?

Na aanleiding van die fliek Ratatouille: Remy is ‘n jong rot in die Franse platteland.  Hy het ‘n passie om te kook, en ontmoet sy kok-idol in ‘n kookboek.  Wanneer hy in Parys aankom, ontdek hy met ‘n skok dat sy kok-held dood is.  Op ‘n ongewone manier sluit hy ‘n bondgenootskap met ‘n restaurant se skoonmakertjie.  Hy sit op die outjie se kop, onder sy hoed, en stuur hom deur aan sy hare te trek om die heerlikste geregte voor te berei.

So lei die Gees ons om te kies teen die sonde wat verslaaf, doodmaak en ons in die vullis laat krepeer.  Die Gees lei ons na volle mens-wees.  God het ons verlos.  Die Gees lei ons in die praktiese  uitleef van hierdie verlossing in.  Ons moet ons aan die Gees se leiding oorgee, en dit navolg.

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe beplan jy jou reis met die Gees vir dié week?
  • Sluit af met ‘n gebed.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.