Paddas sonder bene kan nie hoor nie
Paddas sonder bene kan nie hoor nie
Kleingroepmateriaal 7-13 Oktober 2012
RUS EN ONTVANG
- In ‘n inter-generasionele gesprek, gesels oor die volgende vrae (as jul groep net uit een generasie bestaan, kan julle óf mense van ander generasies bykry, óf die gesprekke vooraf voer en vir mekaar vertel wat julle gehoor het): Wat is beter daaraan om ‘n grootmens te wees? Wat is beter daaraan om ‘n kind/jongmens te wees?
- Wat is die lekker daarvan om vandag deel van ‘n kerk te wees? Wat is die grootste uitdagings vir die kerk vandag?
- Gebruik jul antwoorde op bogenoemde vrae om die Here te dank en om te bid dat die Here ons sal help.
HOOR EN ONTGIN
Lees 2 Petrus 1:16-19
- Herinner mekaar weer wat by die verheerliking op die berg gebeur het (kyk na Matteus 17:1-8).
- Wat tref jou in die gedeelte? Deel dit met mekaar en gesels oor die teks.
- Die verheerliking op die berg berei die dissipels voor vir die reis wat voorlê. Dit help hulle om te sien wie Jesus is en dit versterk hulle geloof. Vertel vir mekaar van jul eie “bergtop ervarings”. Watter effek het daardie ervarings na die tyd gehad op jul geloof? Hoe het dit jou beïnvloed (het jy bv. daarna moeilike situasies anders hanteer)?
- God het sy eer en heerlikheid op die berg van die Verheerliking gewys. Vandag gebruik God die liggaam van Christus (die Kerk) om sy eer en heerlikheid te wys. Vertel vir mekaar wat dit beteken.
- Watter praktiese implikasies het dit vir ons, wat die liggaam van Christus IS?
LEEF EN ONTPLOOI
- Ons (die liggaam van Christus) se lewe van geloof behels ook ‘n lewe van diens. Gesels hoe jy prakties diensbaar kan wees. Doen iets gaaf vir iemand sonder om vir enige iemand anders daarvan te vertel.
- Maak ‘n bydrae tot ‘n verdienstelike saak/bediening.
- Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.