Matt 13:1-9, 18-23 – Son 13 Jul 08

Teks agtergrond

Matteus 13:1-9, 18-23

Hierdie teks is baie bekend – dalk té bekend, met die gevolg dat ons dit nie meer nuut hoor nie. Markus is die oudste evangelie.  Matteus en Lukas gebruik Markus tot ‘n groot mate as bron.
Gevolglik sal dit die moeite loon om te kyk hoe Matteus verskil van
Markus, want die verskille is nie om dowe neute daar nie; Matteus wou
waarskynlik iets spesifiek daarmee sê.

Ons moet twee
kontekste in ag neem wanneer ons die teks lees: die plek waar Matteus in teks
plaas en die eerste lesers, die gehoor wat Matteus in gedagte gehad het toe hy geskryf
het.  Die Evangelie is vir ‘n Joodse
gehoor geskryf en fokus dus sterk op Jesus as Messias.  Verder was die lesers Christene in die eerste
eeu, na Jesus sterwe en opstanding.  Waar
hulle gedink het dat die evangelie goed ontvang sal word,  het dit maar te dikwels op onvrugbare grond
geval.  Die eerste eeu se gelowiges het
reeds hul persoonlike deel van verwerping ervaar.  Hul aanvanklike entoesiasme het begin vervaag.  Vir baie het die geloof te veel begin raak,
sodanig dat sommige afvallig geword het.

 

Tweedens, waar
die gelykenis van die saaier geplaas is in die konteks van die boek Matteus.  In hoofstukke 11 & 12 kom die konflik
tussen Jesus en die Jode vir die eerste keer na vore.  Mense wat met Koninkryk gekonfronteer word,  erken of aanvaar dit nie. Die vraag begin nou
ontstaan: Hoe kan mense Jesus hoor, die wonders sien,  en steeds nie glo nie?

 

In verse 10-17
vra die dissipels vir Jesus hoekom in gelykenisse praat.  Interessant, nie wat die gelykenis beteken
nie, maar hoekom Jesus gelykenisse gebruik.

 

Die meeste
geleerdes glo dat verse 18 – 23 waarskynlik nie ‘n interpretasie is wat deur
Jesus gegee is nie, maar later deur die eerste-eeuse kerk.  Veral die allegoriese styl daarvan is tipies
van kerk van daardie tyd.  Dis ook uiters
ongewoon vir mense wat gelykenisse vertel, om dit ook uit te lê.

 

Inleiding

Mense het allerhande
dinge te sê oor wat die oudste beroep in wêreld is.  Maar ek dink die oudste beroep in wêreld, is ‘n
boer – eintlik tuinier.  En God is die
oorspronklike boer, die een wat lewe op hierdie blougroen planeet van ons
geskep het.  Die Een wat uit ‘n klein,
kwansuis lewelose saadjie, lewe laat spruit.

 

God het ‘n tuin
geskape vir Adam en Eva en hulle as tuiniere aangestel. Maar hulle het nie na
die tuin omgesien nie. Gevolglik het daar dorings en onkruid gekom en kan die
mens net met harde werk van die plante eet.

 

Dan kom die
tweede Adam. Hy’s ook ‘n tuinier – ‘n saaier wat sy saad oor die landskap
strooi.   Jesus begin boer op die hardste kleigrond, in
die droogste woestyn, om ‘n nuwe Tuin van Eden te skep, ‘n landskap van
verlossing vir die hele skepping.

 

Konteks

As ons die eerste
deel van Matteus 13 lees,  is dit duidelik
dat die teks nie in die eerste plek oor die saad gaan nie, maar oor die saaier. 

 

Matteus 13 is tussen
2 groepe aktiwiteite van Jesus:  enersyds
gesprekke met teenstanders (Matt 11-12), enersyds wonders en gesprekke met
Fariseërs (Matt 14-17).  In die verloop
van hierdie paar hoofstukke, begin die weerstand teen Jesus toeneem.  Die Fariseërs tree vir die eerste keer in
direkte debat met Jesus (12:1-8).   Julle
begin planne beraam om Jesus dood te maak (12:14).  Ons lees dat Jesaja se belofte vervul is, wat
insluit (12:21):

“En op Hom sal
die nasies [die nie-Jode] hul hoop vestig.”
Die Fariseërs glo Jesus werk saam met Beëlsebul, Jesus reageer deur te
beweer dat hulle nie goeie vrugte dra nie, omdat hulle slegte bome is.  Hulle is ‘n slegte en afvallige volk wat vir
‘n teken vra.

 

En nou moet ‘n
mens begin wonder: Hoekom glo die mense nie? Wat is hier aan die gang? Is daar
enige manier om hierdie goed te verklaar?

 

Die antwoord
is:  Ja.
Die antwoord begin met woorde: “‘n Saaier het eendag gaan saai…”

 

Gelykenisse

Hier lees ons
Jesus se eerste gelykenis.  Ons kan dadelik
regop sit en vra:  Hoekom het Jesus ‘n gelykenis
gebruik?  ‘n Gelykenis is letterlik
raaisel.  Nie ‘n metafoor nie, maar ‘n  raaisel wat ons moet oplos. 

 

Ek lees die week
van ‘n storieboek deur ene Ellis Peters, oor ‘n 12e eeuse speurder genaamd
Broer Cadfael.    In die boek ontstaan daar ‘n hewige geskil
oor die beendere van Heilige Winifred. Twee Benediktynse huise, by Shrewsbury
en Ramsey, sê dat hulle hierdie gesogte beendere het.  Daar word dan uiteindelik besluit om die geskil
op te los met die volgende metode:  elkeen
wat aanspraak maak daarop hulle die ware relik het, stap na die Bybel met hul oë
op die grond, blaai ‘n paar bladsye en wys na ‘n teks. Die verse sal dan ‘n leidraad
gee hoe die geskil besleg moet word.

 

Maar die Bybel
werk nie so nie. Hoewel die Bybel antwoorde gee oor wie ons is en aan wie ons
behoort, gee die Bybel oor die algemeen meer vrae as antwoorde. Veral wanneer
dit by gelykenisse kom.  Jesus se
gelykenisse weier om die antwoord-speletjie te speel.  Hulle veroorsaak eerder vrae by dié wat dit
lees.  Iemand het gesê: die gelykenisse
veroorsaak genoegsame twyfel oor wat dit presies beteken, om die brein aan die
gang te skop.

 

So Jesus se
gelykenisse was nie blote metafore nie, nie stories met ‘n morele lessie nie, maar
ontstellende stories wat die luisteraar se veilige manier van die wêreld sien,
omkrap en onderstebo draai.  Jesus se gelykenisse daag die aannames
waarmee ons gewoonlik leef, uit, bring die ongesiende raamwerk wat ons gewoonlik
gebruik  om die werklikheid te
interpreteer, na vore.

 

Die onmiddellike
vraag ons dan moet vra, as Jesus hier in ‘n gelykenis praat, is watter aannames
in sy luisteraars se manier van dink en lewe Jesus met hierdie gelykenis wou
uitdaag?  Hoe draai dit ons sien van die
werklikheid onderstebo?

 

Oorvloed

In die eerste
plek gee dit vir ons ‘n aangrypende kyk op die saaier.  Hierdie saaier kom
uiters slordig en verkwistend voor.  En
tog, ten spyte van die saad wat verlore gaan, kry die saaier ‘n dertig-,
sestig- en honderdvoudige oes. 

 

Wat goeie nuus
sou wees vir Jesus se oorwegend werkersklas gehoor.  Die oes sal die grondeienaar bevredig, daar
sal saad vir die  volgende seisoen
voorsien word, alle belasting kan betaal word en daar sal genoeg vir die
werkers oor wees om sy familie te voed.  Goeie
nuus, beslis.  By hierdie saaier is daar
oorvloed.  Seën. Lewe. 

 

En as mens dan
vra watter van ons aannames dit omkeer, dan sou ek sê ons aannames rondom effektiwiteit.  Ons gebruik normaalweg taal van produksie en
effektiwiteit, meet ons besluite aan die effektiwiteit daarvan.  Wanneer ons moet besluit wat om te doen, wat die
Here se wil is, probeer ons vooruitkyk wat die beste resultate sal lewer, wat die
effektiefste sal wees.  En dan neem ons besluite
op grond van die effektiwiteit daarvan.
(Ek praat nou spesifiek i.t.v. ons bediening, roeping, God se wil
gehoorsaam, uitreik na ander).

 

Maar in die
gelykenis is daar baie saad wat gemors word.
Hoeveel boere sal vandag te werk gaan soos hierdie saaier? Dis eenvoudig
nie effektief nie! Te veel saad word vermors.

 

Hoe daag hierdie
gelykenis ons dan uit wanneer ons dink aan hoe ons getrou is in ons
betrokkenheid by die kerk, ons offergawes, ons evangelisasiewerk, ons
aanbidding?

 

Moet ons
sendelinge ondersteun wat nie x aantal bekeerlinge per y hoeveelheid rand kan
wys nie? Moet ons vir mense kos en ander hulpmiddels gee as hulle dit gaan
mors? Moet ons kinders laat belydenis aflê as ons weet hulle gaan nie gou weer
– indien ooit – in die kerk kom nie? Kan ons van God se genade “mors” op
sondaars?  Hoe stel ons ons begroting as
gemeente op; hoe besluit ons oor ons offergawes as rentekoerse en hoë
lewenskoste druk; hoe beplan ons eredienste; hoe reik ons uit na ons
gemeenskap; hoe dien jy jou gesin, die mense by jou werk?  Hoe hou jy aan om na iemand uit te reik, al
lyk dit asof jou pogings nie wortel skiet nie?

 

Hoe meet ons
effektiwiteit, as soveel saad gemors word en die oes tog uiteindelik só geseënd
is.

 

Mens kan nie
anders as om te dink aan nog ‘n gelykenis van Jesus nie: net hierna in Matteus
13, die gelykenis van die onkruid tussen die koring: “Nee, as julle die onkruid
nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek.  Laat al twee saam groei Tot die oes.”

 

Hierdie saaier
saai die saad oral, in die vrugbare grond én rondom dit. Want die uiteindelike
oes is oorvloedig.

 

Vrugbare grond

Daar gebeur ‘n interessante
ding in die teks, wanneer die gelykenis verklaar word:  die saad is telkens die Woord en die mense wat
dit hoor die grond.  Die woord skiet nie
wortel nie, word weggeneem en dra nie vrug nie.
Maar die laaste saad word die mense. Die woord ontkiem, dra vrug en
lewer ‘n oes: honderdvoudig, sestigvoudig, dertigvoudig.

 

So as die eerste
deel ons aandag fokus op die wese van die saaier, fokus die tweede deel ons aandag
op die saad.

 

Dis hier waar ons
kan kyk na die verskille tussen Matteus en die Markus-teks.  Matteus lê baie sterk klem op VERSTAAN.  Hy noem dit ses keer in hoofstuk 13, terwyl
dit net een keer in die Markus-weergawe voorkom.  So duidelik is die verstaan vir Matteus belangrik.
Die woord moet nie net gehoor word nie, maar ook verstaan word.  (Vir Matteus gaan dit natuurlik spesifiek om
die Koninkryk – ek hoop Chris sal volgende week meer daaroor uitbrei.)

 

Iemand het gesê
as ons nie bereid elke dag minstens ‘n kwartier lank “akker” te wees nie, bereid
is om omgeploeg te word en te wag op wat God in die vore wil saai nie, het ons
eintlik reeds die spel verloor.  Die
Woord van God eis ons op.  Daarom is
oordenking van God se woord ‘n sentrale aspek van die gelowige se lewe.  Goeie grond is ‘n lewenshouding wat die Woord
ernstig opneem, daarmee besig is.  Ons
kan net vrugte dra, as ons lewens gewortel
is in die Woord
.

 

Die verskillende
plekke waar die saad val, is ook nie noodwendig verskillende mense nie, maar kan
verskillende akkers binne elkeen van ons wees.
Sommige aspekte van die woord verstaan ons, terwyl ander sukkel om wortel
te skied. 

 

Vrugte dra

Dis wanneer ons
met die woord besig is, dit hoor en verstaan, wat ons vrugte dra.  Aan ons vrugte word ons geken.   Aan
ons vrugte sal ons weet dat die woord in vrugbare grond geval het.  En deur die vrugte wat ons lewens dra, saai ons self verder die woord, IS ons
die evangelie vir ander.

 

Op ’n lentedag
het
’n
“naweek tuinier” vir ’n vriend uit ’n ander
dorp pakkies saadjies gewys wat hy deur die pos ontvang het.  Die reënboog gekleurde pakkies het groot,
sappige, smaaklike groente van elke soort belowe. “Dit sal verseker my beste
tuin ooit wees!” het die naweek tuinier gespog!

 

Later
die somer het dieselfde vriend weer kom kuier. “Hoe gaan dit met jou tuin?” “Ek
is jammer om te sê, maar dit het nie goed gegaan nie!” antwoord hy. “Dis
’n jammerte”,
simpatiseer hy, “wat is die probleem?
Swak grond?  Pes?  Droë weer?” Die tuinier het sy kop
geskud.  “Was die saadjies
’n probleem?”
vra die vriend verder.

 

“Ja,
ek dink die saad was die probleem” het die tuinier geantwoord.  “Jy sien, ek het nooit gekom by die punt waar
ek die saadjies kon plant nie!”

 

As ons die saad
vir onsself hou, sal ons nooit ‘n oes lewer nie.  Al val dit soms op die pad of tussen die
onkruid, ss ons dit nie deel nie, sal dit nie groei nie. 

 

Vir Matteus is
die gelowiges diegene wat goeie vrugte dra. Rick Warren skryf in sy
“Doelgerigte Kerk” dat die vrug van ‘n gelowige nóg ‘n gelowige is.   As ons
Jesus se groot opdrag in ag neem, dan is die vrug wat ons moet dra, nie net
liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid
en selfbeheersing nie.  Dan is die vrug
wat ons dra, nóg gelowiges, die uitbreiding van die oes deur die bekering van
nie-gelowiges. 

 

God verwag van
die kerk om te groei – nie net met die geboorte van babatjies nie. Hy verwag
van ons om vrug te dra, oes te lewer.  Kol
1: 6 sê dat die evangelie oor die hele wêreld vrug voortbring en verder
versprei. 

 

Hoekom Here ons
gemeente hier, nou, in Somerstrand geplaas? Waar moet ons oral saai?

Is ons net ‘n
hawe vir onsself, of is ons ‘n hawe wat mense innooi, wat saad oorvloedig saai,
oral waar ons kom, sodat ons vrugte kan dra, ‘n oes oplewer?

 

Hoekom het die
Here jou in jou gesin geplaas?  In jou
werk?

 

Die vraag is: Dra
ons vrugte? Of dalk eerder: Is ons besig om saad te saai?

 

Natuurlik is dit
God wat laat groei.

 

As ons die woord
hoor en verstaan, dan dra ons vrug. Ons elkeen se roeping is om uit te gaan  en saad te saai, oorvloedig.  En dan kan ons kyk hoe God laat groei. God is
verantwoordelik vir die oes. Dit is hy wat die saak laat lewe, laat wortel
skiet en laat vrug dra.  Ons taak is om
aan te hou plant, aan te hou saai. Ons taak is om steeds te bly glo in die
groen hoop van lewe, dat daar lewe is in elke saadjie wat ons saai, elke keer
wat ons die goeie nuus van Christus se liefde en genade uitleef. 

 

Een van mense wat,
as deel van die Biddend Luister span, weekliks vir die gemeente bid en God wil
soek, skryf n.a.v. hierdie teks:  “My
gebed is  dat God ons sensitief sal maak
van hoe betrokke Hy werklik in ons lewens is en hoe baie kanse ons per dag het
om ‘n groot oes op te lewer. Baie saadjies is dinge waaraan ons fisies niks kan
doen nie en vra bloot ‘n gebed om vrugte te dra. Mag ons op hierdie manier die
hele dag in kontak met God en van sy teenwoordigheid bewus bly.”

 

Dis hoekom die
Here ons gered het, hoekom die saad by ons geland het, hoekom ons aan die kerk
behoort, hoekom ons dankoffer gee, hoekom die Here ons hier geplaas het:  sodat ons kan vrugte dra, sodat die oes
dertigvoudig, sestigvoudig, honderdvoudig kan wees.

 

Antwoord met ons lewe – besluit op gepaste reaksie op
wat God vir ons gesê het: 

                         

     

Trackback from your site.

Leave a comment