Markus 9:38-50 24 tot 30 Sept 2012
RUS EN ONTVANG
Vertel mekaar watter goeie dinge ander mense vir julle die afgelope tyd gedoen het (vgl Markus 9:41). Indien hulle dit nie gedoen het nie, hoe sou dit jou lewe geraak het?
Is dit nodig om goeie dinge vir ander te doen? Waarom?
Vra iemand om te bid
HOOR EN ONTGIN
Lees Markus 9:38-50
- Waar het jou gedagtes vasgesteek?
- “Wie nie teen ons is nie, is vir ons” (vers 40). Wat beteken hierdie opmerking van Jesus vir ons as Christene binne die hedendaagse samelewing?
- Vir egpare/gesinne/families: In vers 42 waarsku Jesus dat ons nie ons kinders afvallig moet maak nie. Watter dinge kan ouers en grootouers doen om kinders te lei tot ‘n lewende verhouding met Jesus? Wat sê vers 43-47 in dié verband?
- Watter dinge behoort ons as gemeente prys te gee (af te kap) sodat ons met meer toewyding die Here kan dien?
- Vir egpare/gesinne/families: Watter dinge staan in julle gesinsverband of persoonlike lewe in die pad van goeie verhoudings met mekaar?
- Wat is die verskil tussen sout (vers 50) en ‘n liggaam met een arm,voet of oog (vers 43-47)?
LEEF EN ONTPLOOI
- Hoe kan jy “ ‘n beker water” (vers 40) in jou huwelik/gesin/familie en in die gemeente en in die samelewing wees?
- Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.