Skip to main content

Jesus het werklik opgestaan – Joh 20:1-18 (25-31 Maart)

Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding: Maria Magdalena, die dissipels, Tomas en laastens weer aan die dissipels by die meer.  Dit vorm dus die draaipunt van Johannes se evangelie, waar Jesus se ware identiteit uiteindelik duidelik word deur sy oorwinning oor die dood.  

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle.  Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon. 

Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n fisiese/werklike (by gebrek aan ’n beter woord) liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help:

  1. Vertel vir mekaar hoe elke karakter in die verhaal op die leë graf reageer: Maria Magdalena, die ander dissipel (Johannes), Simon Petrus, die twee engele, en Jesus.  Hoe kom hulle reaksies ooreen en hoe verskil dit? 
  2. Watter betekenis het Maria en die dissipels se oog-getuienis van die leë graf en die ontmoeting met die lewende Jesus Christus as Here vir jou?
  3. “Die bedoeling is dat die Christene as eerste historiese lesers bemoedig moet word om aan te hou glo dat Jesus die Messias, die Seun van God, is. Die Johannesevangelie is dus nie primêr ’n sendinggeskrif wat mense tot geloof wil bring nie, maar eerder in hulle geloof wil versterk.” (Du Randt) Bespreek.
  4. Watter betekenis het die opstanding van die Here Jesus Christus vir jou vandag?  Op watter manier kan jy dié getuienis aangee?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Ons hervat Die Storie in die tweede kwartaal met die verhaal van Samuel en Saul: Staan sterk, val hard.  Daar is reeds kleingroepmateriaal by die kerkkantoor en www.ngkerksomerstrand.co.za vir die week wat 7 April begin.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.