Skip to main content

Handelinge 16:6-40 Kleingroepmateriaal – 8 Jan 2012

Kleingroep materiaal – HANDELINGE 16:6-40

Week van 8-14 Januarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.  Dit is egter belangrik om die verhaal van die gemeente se ontstaan daarmee saam te lees.  Volgende Sondag is Handelinge 16:6-40 dus die fokusteks vir die erediens.

RUS EN ONTVANG

Gesels met mekaar oor die afgelope vakansie en wat vir julle daarvan uitstaan.

Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.

Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

Lees Handelinge 16:6-40

  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

  • Die Gees van Jesus lei Paulus na Europa: Die Gees tree hier as ontwrigter op deur hulle te verhinder om hulle eie kop te volg, selfs terwyl hulle met die verkondiging van die evangelie besig is.  Let op hoe die band tussen die Gees en Jesus beklemtoon word.
  • Lidia glo in die Here: Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo!  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.  Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.
  • Die Romeinse manier van lewe word ontwrig: Die geestelike beroering wat ontstaan het met die uitdrywing van die slavin se waarsêersgees – waardeur Christus se mag oor die geeste gedemonstreer is – ontlok regsoptrede deur haar eienaars wat Paulus-hulle by die owerheid aankla weens hulle vrees vir ‘n verlies aan inkomste (vers 19).  Interessant genoeg kla hulle vir Paulus-hulle as Jode aan, nie as Christene nie, en omdat Paulus hulle gebruike wil leer (nie leringe nie!) wat volgens die eienaars in stryd sou wees met die Romeinse manier.
  • ‘n Bewaarder glo in God: Met die gebede en lofsange van Paulus en Silas in die tronk kom daar ‘n verdere stuk ontwrigting met die aardbewing wat die tronkdeure oopskud en die boeie laat losspring, wat tot die bewaarder van skrik wil laat selfmoord pleeg.  Die ontwrigting steek egter die lig in die lewe van die bewaarder aan – die bewaarder vra ‘n lig,en kry baie meer! – met die woord van redding wat aan hom verkondig word, en met sy geloofsverbintenis word hy en sy familie gedoop.  Let op hoe dié gebeure ook uitmond in ‘n ete, waardeur die gemeenskap wat nou tussen gelowiges uit verskillende agtergronde tot stand gekom het, gevier word.
  • God werk deur ontwrigting en bevestiging: Wat ons dus hieruit leer, is dat God op twee maniere aan die werk was.  Hy het aan die een kant oortuigings by gelowiges geskep deur die verkondiging van die evangelie, en hulle geloof in Hom bevestig.  Maar Hy was ook besig in die ontwrigtende gebeure deur die eienaars en die skare wat gesorg het dat die evangelie in die publieke ruimte ingedra is.  Selfs die ontwrigtende aardbewing het bygedra tot die impak van die evangelie op en in die lewens van mense.

LEEF EN ONTPLOOI

Hoe is die Here in jou lewe besig met ontwrigting en bevestiging?

Hoe kan jy daarop reageer?

Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.