Skip to main content

God se boodskappers (19-25 Mei)

Elia se moedeloosheid kom na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense.  Die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Maar dit bring ‘n diep donkerte vir Elia.

Hy vlug baie ver van Samaria in die noordryk van Israel af reg deur Juda na Berseba, die mees suidelike deel van Israel.  Dit is ‘n plek van baie besondere betekenis.  Dit is die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen. 21:27 vv).  Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen. 21).  En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke in die woestyntyd beleef het.

Die Here versterk Elia deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses), en stuur Elia na die berg Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen. 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen. 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks. 19-24).  Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks. 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”  Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.  God sluimer of slaap nooit nie.  Hy lei nooit aan uitbranding nie!

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar hoe God julle in Pinkstertyd seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word.

  1. Lees 1 Konings 19:1-Wat tref julle uit die verhaal van Elia?
  2. Wat leer jy oor geloof uit Elia se hoogtepunt op die berg Karmel (hfst. 18) en sy laagtepunt onder die besembos (hfst. 19)?
  3. Wat leer jy oor God in sy hantering van Elia?
  4. Wat leer jy oor God se getrouheid aan Elia en aan die volk?
  5. Hoe raak die boodskap van dié gedeelte jou persoonlike lewe?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.