Die koninkryke kom tot ‘n val – 2 Konings 21;23-25; 2 Kronieke 33;36 en dele uit Jeremia, Klaagliedere en Esegiël (2-8 Junie)
Kleingroepmateriaal vir 2-8 Junie 2013
Jeremia verpak sy boodskap in twee oorhoofse perspektiewe: ’n boodskap van oordeel (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en ’n boodskap van herstel (bou, vestig), soos die Here vir hom reg aan die begin van sy bediening die opdrag gee (Jer. 1:10). Die oordeel oorheers egter in Jeremia se prediking (Jer. 1-38) omdat die volk en sy opeenvolgende leiers net te ver afgedwaal het in hulle verhouding met God (“my volk [het] My jare gelede al vergeet” – Jer. 2:32), wat die besef by Jeremia laat groei het dat die ballingskap onafwendbaar aan die kom is (“Maar Ek gáán jou straf” – Jer. 2:35). 
In die tyd van koning Josia het Jeremia spesifiek die volk oor die afgodsbeelde wat die land verontreinig aangespreek, maar sy ervaring was dat die hervormings wat aangebring is oppervlakkig was (Jer. 3:6 vv.). Net so was sy oordeel oor die herstel van die tempel deur Josia, dat dit ’n vals vertroue geskep het dat hulle veilig is, en hulle gevolglik nie hulle lewens en dade regmaak nie (Jer. 7:1 vv.). Die harde woorde van die Here aan Jeremia in dié tyd is dat hy nie verder moet bid vir die volk nie, want Hy gaan nie luister nie (Jer. 7:16 – vgl. Jer. 15:1: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.”). Die Judeërs het net te ver gegaan met hulle sonde en die Here kon net nie langer wag dat die situasie verbeter nie. Die smeltkroes van die ballingskap is al raad (Jer. 9 vv.). Hy gaan hulle uit hulle land verdryf (Jer. 10:17-18) omdat hulle die verbond verbreek het (Jer. 11 vv.).
Jeremia was dus waarskynlik baie ambivalent oor die verbondsluiting van Josia (2 Kron. 34). Dit lei tot roerende gesprekke tussen Jeremia, die “huilende profeet”, en die Here, omdat Jeremia net nie kon aanvaar dat die situasie nie beredder kan word nie (Jer. 12 vv.). Hy moes egter uiteindelik die knie buig voor die Here se oordeel: “U was te sterk vir my, U het gewen.” (Jer. 20:7), maar nie sonder dat hy die dag berou waarop hy gebore is om dié boodskap vir die volk te moes oordra nie (Jer. 20:14-18: “Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het … Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: ’Jy het ‘n seun’ … Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?”)
Die belofte wat Josia se hervormings ingehou het, het dus net nie ver genoeg gegaan nie en is in elk geval deur sy opvolgers tot niet gemaak wat tot verdere oordeelsprofesieë teen hulle lei (téén Sallum [Joahas] – Jer. 22:11; téén Jojakim – Jer. 22:13-19; téén Jojagin – Jer. 22:24-30; téén Sedekia – Jer. 25 vv.)
Met groot teleurstelling en smart raai Jeremia uiteindelik die volk aan om die ballingskap as ’n feit te aanvaar, want die ballingskap was onafwendbaar (Jer. 21 vv.). Hy wil hê dat hulle besef dit is God se straf, maar ook dat in die straf daar alreeds uitkoms geleë is, want die Here sal hulle seën in ballingskap en weer terugbring (Jer. 29). Daarvoor is Jeremia egter verguis as verraaier en in ’n stadium deur koning Sedekia in ’n put gegooi (Jer. 37:11 vv.). Jeremia se woorde het egter waar geword soos ’n mens lees vanaf Jer. 39.
Natuurlik was daar ook die belofte van herstel in Jeremia se bediening, wat beide die onvergelyklike belofte van ’n nuwe verbond (Jer. 30-31) – bevestig deur die grondkooptransaksie (Jer. 32) – as ’n nuwe koning (Jer. 23) ingesluit het. Maar dit was ’n kleiner deel van Jeremia se boodskap.
Kleingroep byeenkoms
Onthou om die RUS, LUISTER, LEEF metodiek te gebruik wat julle al goed ken. Gebruik vandag die Daaglikse Nadenke om tot rus te kom. Deel dan met mekaar hoe God julle seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word as inleiding tot die luister na die Bybel.
- Lees Jeremia 1. Wat tref julle in hierdie verhaal van Jeremia?
- Hoekom tref rampe mense en veral Gód se mense?
- Watter negatiewe gevolge van sonde het jy al in jou lewe gesien?
- Hoe beïnvloed Jeremia se boodskap van oordeel jou prentjie van hoe God werk? Wat sê dit vir jou eie lewe en gemeenskap?
- Kan jy assosieer met Jeremia as die “huilende profeet” wat die swaar las gevoel het van die sonde van God se mense? Watter laste ervaar jy tans?
- Hoe beïnvloed Jeremia se boodskap van herstel jou prentjie van hoe God werk? Watter hoop gee dit jou in jou kontak en betrokkenheid by mense vandag?
Laai die Word lêer hier af vir die Kleingroep materiaal vir 2-8 Junie 2013