Die begin van die einde (26 Mei – 1 Junie)
Die begin van die einde (van die koninkryke van Israel) – 2 Konings 17-19 en dele uit Jesaja
Die Konings skrywer is egter ook baie realisties. Agas, Hiskia se pa, was ‘n baie slegte koning. Kronieke sê van Agas dat hy: “die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee het en ontrou was teenoor die Here”. Agas het boonop hulp van Assirië gevra wat nie net vir homself ’n probleem verskaf het nie, maar nou in ’n volskaalse gevaar vir Hiskia ontwikkel. Op die koop toe sê Konings, die bedreiging van die Assiriërs kom van God af. Ons lees in hfst. 18:25 dat Sanherib dit só verwoord: “ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek nie”. Gelukkig sien ons darem ook hier dat die Assiriërs hulle mandaat oorskrei, soos die boodskap van Jesaja dit uitspel (19:20 vv): “Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het …” (19:27).
Die tafel is gedek vir ‘n groot showdown! Hoe sal Hiskia die uitdagings vir sy koningskap en sy mense hanteer?
Kleingroep byeenkoms
Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.
Vertel vir mekaar hoe God julle in Pinkstertyd seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word.
- Lees 2 Konings 19:1-37. Wat tref julle in hierdie verhaal van Hiskia?
- Hiskia het die Here regtig gedien en gehoorsaam. Hy erf egter ’n hele klomp probleme van sy pa Agas. Waarborg gehoorsaamheid aan die Here vir jou voorspoed? Bespreek.
- Hiskia hanteer die dreigbrief van koning Sanherib en sy leiers op uiters inspirerende wyse. ’n Mens kan jou indink in die emosies wat deur hom spoel toe hy die brief ontvang. Hy neem egter sy toevlug tot gebed met die brief voor Hom uitgesprei in die tempel in vertroue op die Here. En sy vertroue word beantwoord. God bewerk die verlossing, sonder dat Juda ’n vinger verroer. Vertel vir mekaar van jou reaksie op ’n aanval of dringende probleem en hoe jy God se verlossing ervaar het.
- Let op dat God se heilsboodskap aan Hiskia en die volk gedoen word: “om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil” (19:34). Dit gaan dus oor God se wil en die koms van sy koninkryk, as ‘n mens dit Nuwe Testamenties sou uitspel. Hoe help dié twee aspekte – God se wil, en God se koninkryk – jou om meer gefokus te bid en ook God se uitkomste raak te sien en te aanvaar?
- Gebed (Hiskia met die briewe in die tempel – vers 14-19) en die onderskeiding van God se wil (profesie van Jesaja – vers 20-34) speel ’n belangrike rol om by God se planne in te skakel. Hoe dink julle hou gebed en onderskeiding met mekaar verband , en hoe kan ons mekaar help hiermee?
- Hoe raak die boodskap van dié gedeelte jou persoonlike lewe? Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.