Dag 3: Lees Markus 10:17-31 – Dissipelskap sluit jou besittings in
Jesus het die ryk jongman liefgekry en ingenooi in sy dissipelkring, op voorwaarde dat hy afstand doen van sy besittings. Dit het die jongman egter afgeskrik en bedruk laat weggaan, want hy het baie besittings gehad. Petrus wonder dan oor hulle eie situasie wat wel alles verlaat het. Jesus belowe daarop nie net die ewige lewe nie, maar ook ‘n oorvloed van familie en eiendom, reeds in hierdie lewe, hoewel dit saam met vervolging sal wees.
Dink na oor hoe jy jou besittings hanteer. Maak vandag die keuse om die Here te begin vertrou, deur niks van Hom terug te hou nie.