Dag 2 – Wie God is – 03/11/09
Lees Jesaja 54:1-10
God se liefde vergaan nooit nie, selfs al is Hy vir ‘n kort tydjie toornig op ons. Met pragtige metafore beskryf God sy liefde: “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie.” Oral in die Bybel word God geteken as ‘n God wat vergewe, genadig en barmhartig is, lankmoedig en vol liefde. Hy is “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” (NGB artikel 1). Dit is die basis vir ons eie vrygewigheid, wat ons met begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid laat optree teenoor ander. “Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees.” (2 Kor 6:6) Skryf een van dié gedagtes op ‘n kaartjie en lees dit elke uur. Laat God se oorvloed jou menswees vandag volmaak.