Skip to main content

Follow the leader Ligkids 6 Junie 2021

Hoekom dink jy sê mamma en pappa/ ouma en oupa vir jou sekere dinge om te doen en nie te doen nie? Somtyds voel dit of hulle sommer net lelik is met jou en nie wil hê dat jy iets moet doen wat jy graag wil nie. Ons wil ook nie altyd na hulle luister nie, of hoe? Kan jy ‘n keer onthou wat jy ongehoorsaam was? Wat het toe gebeur? Ek onthou nog toe ek klein was het my mamma vir my gesê om nie op die nat vloer te loop wat sy gewas het nie…en toe, het ek gegly en hard geval. God weet dat ons partymaal iemand nodig het wat beter as ons weet en ons kan help. Daarom gee Hy mense vir ons sodat hulle ons kan leer, help en vir ons ‘n voorbeeld kan wees van wat om te doen en wat om nie te doen nie. Dit was al van die Bybelse tyd af al vir God belangrik dat daar mense sal wees wat kan leiding neem, na wie ons kan opkyk en volg. Ons lees vandag saam uit 1 Sam. 8 om meer hiervan te leer. Kom speel, leer en doen saam!

Kan mens weer gebore word??? Ligkids Kwartaal 2 #4 30 Mei 2021

Wanneer verjaar jy? Hoekom vier ‘n mens jou verjaarsdag? Want dit is ‘n baie spesiale dag…die dag waarop jy gebore is! Kyk bietjie na fotos van daardie dag of van toe jy nog baie klein was. Kom speel saam Wie is wie? en kyk of julle kan raai wie van die Ligkids span is dit in die foto van toe hulle nog klein was! Nie een van ons sal weer kan terugpas in ons mamma se magie nie! So hoe moet ons dan “weer gebore” word? Jesus gesels met Nikodemus en verduidelik vir hom hoe dit werk: Om weer gebore te word het niks daarmee te doen om aan die buitekant te verander nie, maar alles te doen daarmee om toe te laat dat Jesus jou van binne verander! Hy gee vir ons wat in Hom glo ‘n nuwe hart en die Heilige Gees bly daarin! Kom speel, sing, leer en leef saam, soos altyd!

Ligkids 23 Mei 2021 Geraamte(s) in die klas…

Vandag is daar ‘n geraamte, of eerder, klomp geraamtes in die klas! Het jy al ‘n geraamte gesien? Miskien toe jy na die dokter of na ‘n museum toe gegaan het. Ons het baie bene aan die binnekant van ons lyfies. ‘n Geraamte is wat oorbly, wanneer ‘n mens of diertjie doodgaan. Ons lees vandag wat Esegiël gedroom het in Eseg.37:1-14 en ons hoor: Vir God is niks onmoontlik nie! Hy kan selfs dooie bene weer lewendig laat word! WOW! Jesus self het mos ook uit die dood opgestaan en Hy belowe dat ons wat in Hom glo ook vir altyd sal lewe saam met Hom! Daarom hoef ons vir niks en niemand, nie eers die dood, bang te wees of daaroor moedeloos te word nie. Kom luister, lees, sing en speel lekker saam!

 

God se “selfoon nommer” | Ligkids 16 Mei 2021

God se “selfoon nommer” | Ligkids 16 Mei 2021

Wat het ‘n selfoon, ‘n rekenaar en ‘n pen en stukkie papier in gemeen? Wel, hulle kan almal praat!! Of altans, mense gebruik dit om met mekaar te praat. Jy bel iemand, tik vir hulle ‘n epos of skryf ‘n briefie en pos dit! Maar, kan ons so maklik met God praat? Hy het dan nie ‘n selfoon nommer, epos of posadres nie?! Dis makliker as wat jy dink! Jesus leer ons om te bid en ook hoe om dit te doen. Ons lees Joh.17:6-11, sing saam en doen ‘n aktiwiteit wat ons help om te onthou vir wie of waarvoor om te bid.

 

 

Ligkids Hemelvaart

Ligkids vier Hemelvaart!

Hou julle ook van wegkruipertjie speel?

Wel, waar is Jesus nou?

Toe Hy weggegaan het van sy dissipels, wou Hy nie gehad het dat hulle na Hom soek en nie weet waar Hy is nie. Kom luister saam wat gebeur het die dag toe Jesus opgevaar het na die hemel. Ons kry ook twee beloftes waaraan ons kan vashou! 1)Hy gee vir ons die Heilige Gees om altyd by ons te wees en 2)Hy kom eendag terug om ons te haal, Hy gaan nie vir altyd weg bly nie. Daarna kan ons uitsien! Speel vandag as gesin saam wegkruipertjie of hou saam pieniek en lê en kyk na die wolke. Lees weer Hand.1:1-11 ook saam.

Ligkids skop af! 9 Mei 2021

Ligkids 2de Kwartaal skop af!

Is jy al oorgeslaan met iets lekker, ‘n geskenkie of selfs ‘n mooi woord? Ai, dis nie lekker nie! Maar weet julle, ons is partymaal lelik met mekaar…ons speel net met sekere maatjies, ons deel nie ons speelgoed of kosblikkos met enige iemand nie! Ons wys net liefde vir party mense, MAAR… Jesus het ons almal lief, al is ons verskillend. Ons leer in Handeline 10:44-48 dat Jesus vir almal ‘n gelyke kans gee om te kan glo en dat Hy die Heilige Gees vir enige iemand gee wat in Hom glo! Ons kan Jesus se liefde met ander deel – ons maak ‘n armbandjie wat ons help om vir ander te vertel van Jesus. Kom sing weer lekker saam, kyk poppekas en geniet dit om weer so van Jesus te kan leer!