Skip to main content

Dag 4 – Markus 4:21-25 – Met die “maat wat ons meet”, sal daar vir ons gegee word

Markus vertel die gelykenis van die saad wat in die grond val om die krag van die Woord wat mense verander, te illustreer.  Die saad groei immers vanself (vgl. verse 26-28 wat net in Markus voorkom).  Maar, terselfdertyd dring hy aan by ons om aandag te gee aan wat ons hoor.  “Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.”  Dit wil sê, ons hoor net soveel as wat ons tyd maak daarvoor!  En as ons meer luister, sal daar meer vir ons gegee word! Dit is nogal ‘n lewensveranderende gedagte!

Dink diep hieroor na: Jy verander as jy tyd maak om die Bybel te lees, want dit is hoe Jesus dit doen.  Die wonder is, dat wanneer jy dit doen … jy nog meer kry as wat jy selfs verwag het!  Maar as jy dit nie doen nie, raak dit wat jy reeds het, verlore.  Wie ore het, en kan hoor, moet luister!

Dag 2 – 1 Korintiërs 13 – Ons sien die LEWE raak in die spieël van die Woord

In 1 Korintiërs 13 word volgens Dirkie Smit gepraat oor hoe ons die lewe sien.  Vers 12: Ons kyk soos in ‘n dowwe spieël – spieëls van daardie tyd was nie so helder soos vandag s’n nie – en verstaan nie alles van die lewe nie.  Maar, sê Paulus, een ding kan ons weet, en dit is dat die liefde die enigste ding is wat regtig saak maak, belangriker as die mees wonderbaarlike geestelike gawes, diepsinniger as die beste kennis en insig, en baie meer werd as die grootste opoffering wat ‘n mens kan maak.  Dit troos ons, en nooi ons dus uit om in liefde teenoor en met almal te leef.

Beantwoord vandag vir jou die vraag: “Wat is vir my die belangrikste in die praktyk van my lewe?” Beoordeel dit dan in die lig van hierdie spieël in 1 Korintiërs 13.  En oorweeg die uitnodiging hierin om in liefde te leef.

Dag 1 – Jakobus 1:19-27 – Ons sien ONSSELF raak in die spieël van die Woord

In Jakobus 1:19-27 word veral gepraat oor hoe onsself sien in die spieël van die Woord.   Die Bybel is ‘n spieël wat ons aan die een kant in ons sonde en onmag teken EN genadiglik aan die ander kant ook vir ons wys hoe ons vry kan raak daarvan.  Dit ruk en ontstel ons dus om ons te bring by ‘n kruispad, ‘n ontmoeting met dié Een wat ons wil verander.

Kyk dus diep in die spieël wat Jakobus vir jou ophou, en dink na oor wat in hierdie gedeelte jou tot stilstand ruk oor jou lewe.  Aanvaar die vergifnis en verandering wat die Here daardeur vir jou bring, en doen dan wat die Woord vir jou sê.

Dag 5 – 2 Korintiërs 4:1-6 – Hierdie waarheid maak ons aan almal bekend

Die Bybel was vir die kerk nog altyd ‘n skat van onbeskryflike waarde.  Niks kan regtig daarmee vergelyk word nie.  Niks kan die rol van die Bybel in die lewe van gelowiges verander nie.  Vandaar die liedjie: “Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.”  Maar … dit is natuurlik ‘n skat wat bedoel is vir almal.  Daarom dat Paulus onmiddellik nadat hy oor die spieël wat ons verander (2 Kor 3:12-18) praat oor ons as gelowiges wat hierdie waarheid aan almal bekend maak.  Dit is ons bediening!

Dink na oor maniere waarop jy oor die krag van die Woord in jou en ander se lewe kan getuig.  Dink ook oor maniere waarop jy mense rondom jou kan beïnvloed met die krag van die Woord: aanhalings op ‘n kennisgewingbord, wyshede in ‘n nuusbrief … wees kreatief!

Dag 4 – Markus 4:21-25 – Met die “maat wat ons meet”, sal daar vir ons gegee word

Markus vertel die gelykenis van die saad wat in die grond val om die krag van die Woord wat mense verander, te illustreer.  Die saad groei immers vanself (vgl. verse 26-28 wat net in Markus voorkom).  Maar, terselfdertyd dring hy aan by ons om aandag te gee aan wat ons hoor.  “Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.”  Dit wil sê, ons hoor net soveel as wat ons tyd maak daarvoor!  En as ons meer luister, sal daar meer vir ons gegee word! Dit is nogal ‘n lewensveranderende gedagte!

Dink diep hieroor na: Jy verander as jy tyd maak om die Bybel te lees, want dit is hoe Jesus dit doen.  Die wonder is, dat wanneer jy dit doen … jy nog meer kry as wat jy selfs verwag het!  Maar as jy dit nie doen nie, raak dit wat jy reeds het, verlore.  Wie ore het, en kan hoor, moet luister!

Dag 3 – 2 Korintiërs 3:12-18 – Ons sien CHRISTUS raak in die spieël van die Woord

Paulus maak die ongelooflike stelling in 2 Korintiërs 3 dat ons in die spieël van die Woord vir Christus raaksien.  Ons sien nie net onsself in ons sonde raak nie, ons sien nie net die hoofsaak van die liefde raak as ons na die lewe kyk nie, maar ons sien die belangrikste van alles raak, hoe Christus lyk.  Want dit is net Hy wat ons kan verander.  Daarom nooi die gedeelte ons uit om diep te kyk dat Hy ons kan verander.

Alles hang van Christus af.  Hoe dieper ek in ‘n verhouding met Hom leef, hoe meer sal ek verander.  Hoe meer ek die Bybel lees en oordink, hoe meer sal ek begin leef en optree soos Christus dit gedoen het.  Maak ‘n lewenslange afspraak – van vandag af – om dit die hoofsaak van jou lewe te maak.