Boontjie kry sy loontjie – Matt. 7:1-29 – kleingroepmateriaal: 9-15 Mrt.
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was. Julle kan spesifiek nadink oor wat julle rondom besittings en bekommernisse ervaar het.
RUS
Begin só: “God nooi ons uit om tot rus te kom by Hom. Sluit nou die oë en gee vir Hom al jou wanhoop, verwarring of hoop. Dit kan ’n vraag wees, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid.” Gee 2 minute daarvoor. Vervolg dan met: “God gee aan ons in die teks wat ons gaan lees die belofte: ‘Vra en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word.’ Wat wil jy nou van God vra?” Gee 2 minute daarvoor.
Sê amen en gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd. Indien hulle vrymoedigheid het, kan julle saam vir van dié sake bid en ook op julle groep se gebedslys sit.
HOOR
1. Lees Matteus 7:1-29.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Hoe verstaan julle die metafoor wat Jesus gebruik van die splinter (of “stoffie”) en die balk in onderskeidelik jou medegelowige en jou eie oog? Wat wil Jesus daarmee vir ons leer?
4. Die gebed tot ons vrygewige Vader om vir ons goeie gawes te gee is verbind aan die Goue Reël om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Wat is die verband? Julle kan kyk na Lev. 19:18 wat baie keer met die Goue Reël verbind word om julle te help: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.” Dink oor wat dit van God sê … en dan wat dit oor jou houding teenoor ander sê.
5. Jesus sluit die Bergrede af met vier metafore: die keuse vir die poort van die lewe, die keuse vir die ware profete op grond van hulle vrugte, die keuse om self te hoor en te doen wat nié verband hou met preek en wonders nie, maar met die navolging van Jesus se woorde. Dit is dié mense wat is soos ’n huis op die rots wat standhou as reën en wind stormagtig om hulle slaan, anders as dié wat soos ’n huis op die sand (in ’n rivierloop, soos ons uit die Grieks aflei) is wat weggespoel word. Sou ’n mens die boodskap van die vier metafore kon saamvat as “Boontjie kry sy loontjie?” Hoe raak dit jou?
LEEF
Wat is die een ding wat jy vandag met jou saamvat uit die luister na die Woord en na mekaar? Dra mekaar op aan die Here en deel volgende week met mekaar hoe God julle in staat gestel het om te hoor en te doen.
Kleingroeptekste vir die res van die kwartaal:
| Jesus en die Samaritaanse vrou – Joh. 4:5-42 |
| Genesing van die blinde man – Joh. 9:1-41 |
| Lasarus se opstanding – Joh. 11:1-45 |