Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Dag 1 – om met integriteit te leef – 09/11/09

Lees 1 Samuel 12:1-4

Elkeen van ons besluit self waarvoor ons onthou wil word, wat ons nalatenskap gaan wees.  Kyk in v 3 wat vir Samuel belangrik was.  Samuel se integriteit het elke aspek van sy lewe deursuur.  Dit het bepaal hoe hy sy besittings hanteer het, besigheid gedoen het en hoe hy diegene wat swakker as hy was, behandel het.  Hy was verantwoordbaar teenoor die mense wat hy gelei het.

Samuel se voorbeeld roep ons elkeen om dieselfde hoë standaard van integriteit te handhaaf.  Of jy nou ‘n multi-miljoen randse maatskappy of ‘n tweejarige kind lei, laat jou persoonlike verbintenis aan integriteit elke dag sigbaar wees.

Dag 2 – Wie God is – 10/11/09

Lees Hebreërs 13:8

God se karakter verander nooit nie.  Sy liefde, trou en goedheid word nie deur eksterne faktore beïnvloed nie.  Gevolglik kan ons vir God vertrou, want sy onveranderlike karakter is die fondament van sy beloftes.  Kyk ook na 1 Samuel 15:29 en Maleagi 3:6.

Oordink God se onveranderlike karakter.  Kyk in watter kontras dit met mense staan.  Watter implikasies het God se perfekte en konstante karakter vir jou verhouding met hom?  Is daar enigiets wat verhoed dat jy hom vertrou? 

Dag 5 – om met integriteit te leef – 13/11/09

Lees 1 Timoteus 4:15-16

Wat ons doen, sal altyd ‘n baie groter impak hê as wat ons sê.  Mense kan 90% van wat jy doen vergeet, maar hulle sal nooit jou lewe vergeet nie.  Dit beteken nie dat ons perfek moet wees nie.  Dit beteken wél dat ons modelle sal wees van groei, van mense wat vorder in hul geloof.  Kyk weer na vers 15.

Dag 5 – om met vrygewigheid te leef – 06/11/09

Lees Spreuke 3:5-10

Die bottomline van vrygewigheid is volkome vertroue op die Here. Daarsonder kan ‘n mens eintlik nie anders as om inhalig te wees soos Nabal nie.  Dit sluit in dat jy nie op jou eie insigte staat maak nie, maar God ken in alles wat jy doen.  Dan sal Hy jou die regte pad laat loop.  Hierdie absolute fokus op God, beteken dat jy die slegte kan vermy, en dat jou lewe fisies en geestelik genees word.  Oorweeg weereens biddend hoe jy die Here kan vereer met offerandes uit alles wat jy besit, en met die beste uit jou oes.  En beproef die belofte van die Here: “dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”

Dag 4 – Hoe dit werk – 05/11/09

Lees 2 Korintiërs 9:6-15

Paulus beskryf hier ‘n baie belangrike geestelike beginsel: “Wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.” God het die blymoedige gewer lief, een wat nie teësinnig of uit dwang gee nie.  Ons vrygewigheid sluit die sluise van die hemel oop, want God is by magte om aan ons alles in oorvloed te skenk, sodat ons in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.  God kan ons vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.  Beproef die Here hierdie week hierin: Wees vrygewig teenoor mense in nood en teenoor die werk van die Here in die gemeente en gemeenskap.  Jy sal verstom staan met die opbrengs van dankbaarheid en voorsiening.

Dag 3 – Wie ons is – 04/11/09

Lees 1 Johannes 3:11-24

Liefde is vrygewig.  Dit is die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het.  Hy het sy lewe vir ons afgelê.  Daarom behoort ons ook ons lewe af te lê vir mede-gelowiges.  Die oomblik dat ons ons hart en ons hand toe maak vir iemand wat gebrek lei, leef ons nie meer in die liefde nie.  Vrygewigheid met woord en daad is die toets vir ‘n ware geloof. En dit maak ons vrymoedig om na God te gaan en van Hom te vra wat ons nodig het.  En die eindresultaat is dat ons in God bly en Hy in ons.  Dink goed na oor mense wat jy weet gebrek lei en oorweeg voor die Here hoe jy met dade gaan help.