Skip to main content

Agape Maal

Kleingroepmateriaal 2-8 Desember 2012

[Reël vooraf voorlesers vir Skrifgedeeltes, mense om kruis, kers en brood vorentoe te neem.  Voorganger lees gewoon gedrukte teks, hele groep lees saam hardop kursief gedrukte dele.  Stories van hoop is waar groeplede rondbeweeg en waardering teenoor mekaar uitspreek.]

 

Agape maal

Agape is die Nuwe Testament woord vir liefde.  Dit is ook die naam vir die Christelike tradisie vir ‘n liefdesfees.  ‘n Agape maaltyd is nie ‘n sakrament soos die Nagmaal of Doop nie.  Dit herinner ons eerder aan al die gewone maaltye wat Jesus saam met Sy dissipels geniet het.  Wanneer ons nou saam deelneem aan ‘n Agape maaltyd is ook ‘n viering van ons liefde en gemeenskap met mekaar.

 

OPENING

(v) In Ps 133 het die Psalmdigter geskryf:  Hoe goed, hoe mooi is dit as broers en susters eensgesind saam woon!  Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aaron, af tot by die soom van sy klere.  Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val.

                                  Ons dank u Here vir die vreugdes van ons  saamwees in Christus.
Vir onderlinge begrip, gedeelde visie en hoop.
                                 
Vir tye van vergifnis en tekens van  aanvaarding
Vir die ondersteuning wat ons van mekaar kry.
Dit help ons om mekaar se laste te verlig.
                                 
Vir die liefde in gemeenskap met mekaar.

                               

                                 Johannes 15: 1-8 (leser)

 

GEBED    (Almal saam)
Here God, U  het ons geroep om U kinders te wees.  Deur u Heilige Gees is daar vrede onder ons.  U het ons as ‘n geloofsfamilie aan mekaar verbind.  Ons dank u vir woorde en dade wat ons eenheid in U meer sigbaar en konkreet maak.  Ons dank U vir onderlinge toegeneentheid en oop harte;  vir geduld en begrip; vir sorg en die bereidheid om te deel.  Bo alles dank ons U vir Jesus, die bron van ons eenheid, Hy in wie se Naam ons bymekaar is. AMEN

 

GEBED VAN SKULDBELYDENIS

Ons bely ons gebreke en mislukkings in die gemeenskap met mekaar ……

                                 Ons gebrek aan onderlinge begrip,

                                 ons gebrek aan vergifnis,

                                 ons gebrek aan openheid,

                                 ons gebrek aan sensitiwiteit.

 Ons bely voor U al daardie tye ……

                                toe ons so graag beter as ander wou wees,

                                toe ons te haastig was om regtig te sorg,

                                toe ons te moeg was om om te sien na ander,

                                toe ons te lui was om regtig te luister,

                                toe ons met ander motiewe as liefde opgetree het.

 

STILTE

Aan almal wat op God se vergifnis vertrou, beloof Christus:
moed en krag in die stryd vir geregtigheid en vrede,
God se teenwoordigheid in tye van vreugde en teleurstelling,
lewe in God se koninkryk wat geen einde het nie.

                               Romeine 8:33 -39 (leser)

                               Ons glo dat God ons liefhet en dat niks ons van Sy liefde kan skei nie.

                               Ons glo in God se vergifnis. Ons aanvaar dit nou met blydskap.

                               Kom ons deel hierdie vergifnis en liefde met mekaar.

 

Deel stories van hoop met mekaar

 

GEREEDMAAK VAN TAFEL

Leier:  Hierdie maaltyd herinner ons aan God se bedoeling met die Christelike gemeenskap.  Ons dek nou die tafel met daardie simbole wat spreek van ons geloof, die gawes wat Christus aan ons gee en ons roeping om as sy dissipels te lewe.

 

Leser 1:   Neem kruis na vore en lees Markus 15: 22-25
“Hulle bring Jesus toe na ‘n plek Golgota, wat Kopbeen beteken.  Hulle wou vir Hom wyn en mirre gee, maar Hy wou dit nie hê nie.  Toe kruisig hulle Hom en verdeel Sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.  Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.”

 

Leser 2:    Neem brandende kers na vore: 

Jesus het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie my volg, sal nooit in die duisternis wandel nie, maar die lig van die lewe hê.”

 

Leser 3   Neem brood na vore: 

Jesus het gesê:  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.  As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.  En die brood wat ek sal gee, is my liggaam.  Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

 

STILTE

 

SEËN VOOR DIE MAALTYD

Christus is ons vrede.
                               
Hy wat die mure van vyandskap afgebreek het.

                               Hy het ons in Hom een gemaak.  Deur Sy versoenende liefde deel ons die liefdesmaaltyd

                               met   dankbaarheid.  Dit herinner ons aan al die kere van samesyn en liefde met Sy volgelinge.

                                Mag Jesus ons versterk.  Mag Hy ons help om mekaar te dien en lief te hê want aan Sy liefde

                               en goedheid is daar geen einde nie.

 

Deel brood uit en eet

 

DIE ONSE VADER GEBED  (Almal saam)

 

Slot:

Die feesmaal is verby.
Die wêreld wag.  Laat ons in Christus mekaar liefhê en laat ons deur sy Gees mekaar en die wêreld dien.
Here, waar ons nou sluit, laat U liefde vir ons en ons liefde vir mekaar die krag van ons lewe wees.

 

ALMAL:    Terwyl ons dink aan U doel vir alles,

wy ons ons nou aan U onbegrensde liefde in Jesus Christus.

AMEN

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.