2 KORINTIËRS 5:6-17
Week van 10–16 Junie 2012
RUS EN ONTVANG
- Gesels met mekaar oor hoe julle dié week tuisgekom het by die Here. Vir wie kon julle “tuisteskeppers” wees?
- Word stil en laat iemand met ‘n gebed open.
HOOR EN ONTGIN
Lees 2 Korintiërs 5:6-17
- Wat tref jou in die gedeelte? Deel dit met mekaar.
Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:
Die swaard van verganklikheid
Ons leef onder die swaard van verganklikheid. Tyd kalwe selfs ons beste en ons hoogtepunte weg. Wat gee mens dan die moed om tog reg te lewe?
Ons het ‘n vaste gebou in die hemel
Paulus gebruik die metafoor van ‘n gebou in die hemel om ons hoop en verwagting uit te spel, dít wat ons moed gee vir hierdie lewe. Hy is oortuig dat die swaarkry van hierdie lewe verby sal gaan, en dat ons kan wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan.
God is in hierdie lewe aan die werk, asook in ons eie lewe. Hy is besig om ons innerlik te vernuwe. Maar Hy is ook besig om ons te lei na die vaste gebou, die onomstootlike heerlike bestemming wat God vir ons weggelê het. Dit is die egte bron van moed vir die lewe. Dit spoor Paulus aan. Dit vuur ook ons lewe en bediening aan.
Ons sug en wag tegelykertyd
Hierdie boodskap het ‘n tweërlei uitwerking op ons:
- Aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef, en bid ons om uitkoms, raak ons betrokke by die koms van die koninkryk reeds in hierdie lewe.
- Aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd, en kan ons verdra en verduur, uithou en aanhou, selfs wanneer dinge nie gebeur of verloop soos ons dit graag wil hê nie.
Ons het net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil
In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil. Daarmee sluit hy by Psalm 40:9 aan, sowel as by Jesus wat dit uitgeleef het, bv teenoor die Samaritaanse vrou (Joh 4:34).
Om God se wil te doen, is nie net voedsel vir ons siele nie (Jesus), maar dit laat ons tuiskom in God se teenwoordigheid. Dan is dit nie so belangrik waar ons is nie, híér of dáár. Al wat van belang is, is dat ons Hom behaag. Ons is nuwe mense wat met net een doel voor oë leef, en dit is om God se wil te doen, en te leef soos Hy dit wil.
Bespreek.
LEEF EN ONTPLOOI
- Die teks vra van ons om te sug en te wag, om te bid en te berus. Hoe gaan jy dit prakties dié week doen?
- Sluit af met ‘n gebed.