06 – Om God te GENIET

RUS

Ons kom eers tot rus.

Hier is die prentjie van Nico Simpson wat die proses van stilword illustreer.  Dit is om te ontspan in die arms van God.

silencio

Ek gebruik weer vanaand ’n variasie van gister se begeleide gebed, ’n vorm van die Daily Examen van Ignatius van Loyola.  Ek wil regtig hê dat ons begryp dat God beleef word beide in die ervarings van desolasie – die gevoelens van God se afwesigheid of afsydigheid (angs, mismoedigheid, hartseer) – en konsolasie – die gevoelens van God se aanwesigheid en vertroosting (vreugde, dankbaarheid, vertroue).

  • Dink aan ervarings vandag wat jou angstig, mismoedig of hartseer gemaak het.
  • Wat het jy van God in dié ervarings van desolasie beleef?
    • Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” – Psalm 62:6
  • Dink nou aan ervarings vandag wat jou bly, dankbaar of vol vertroue gemaak het.
  • Wat het jy van God in dié ervarings van konsolasie beleef?
    • “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” – Psalm 23:2

HOOR

Die vier fases van HOOR kan ’n mens só uitdruk:

  1. Lees om te begryplectio
  2. Dink na oor wat jou raakmeditatio
  3. Bid om veranderingoratio
  4. Geniet die vrede van God se teenwoordigheid – contemplatio

Alice Fryling praat daarvan as read, reflect, respond, rest (The Art of Spiritual Listening, 2003:42).

LECTIO

lectio

Ons gaan ‘n Skrifgedeelte lees wat eintlik op ‘n besondere praktiese manier die mikpunt van Lectio Divina illustreer.  Filippense 4:2-9 kan eintlik as die primêre struktuur van jou lewe gebruik word.

  • Kom tot Rus (vers 2-3 – eensgesindheid) – silencio
  • Luister na God en praat met Hom (vers 4-7 – gebed en vrede) – oratio en contemplatio (wat natuurlik lectio en meditatio nodig het om ordentlik gedoen te kan word)
  • Leef vir God (vers 8-9 – fokus) – incarnatio

‘n Paar opmerkings oor Paulus se brief aan die Filippense

Die brief Filippense is ‘n intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi.  Dit is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis in Rome geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon), so 10 jaar na die gemeente se stigting, in die vroeë 60er jare van die 1ste eeu nC.

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem.  Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 nC.  Hy skryf dit saam met Timoteus.

Hy het twee doelwitte met die brief:

  • Persoonlik: hy wil hê dat elke gelowige in die gemeente persoonlik geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” (Hawthorne) te wees, en
  • Publiek: hy wil hê dat elke gelowige in die gemeente se publieke lewe sal getuig van hulle liefde vir God en mekaar – veral deur in die openbaar “the best choices possible” (Hawthorne) te maak.

En hy wys baie duidelik reg van die begin af, dat dit net kan gebeur as jy twee dinge doen: op God vertrou en self verantwoordelikheid vir jou eie geestelike lewe neem.  Dit is iets wat presies ooreenkom met wat die Psalms ook van ons vra.  Dit is die essensie van ons geestelike lewe: vertroue en verantwoordelikheid.

‘n Bietjie meer agtergrond oor die konteks van hoofstuk 4

  • Onthou dat Filippi ’n gemeente is wat begin het met ’n baie diverse samestelling, onder andere ‘n ryk Grieks-Joodse vrou, Lidia, saam met waarskynlik ’n arm slavin uit ’n onbekende ander nasie, sowel as ’n middelklas Romeinse tronkbewaarder.  Jy kan in Handelinge 16 verder gaan lees.
  • Die potensiaal vir konflik vanuit hulle agtergronde – taal, klas, opvoeding, afkoms – was dus altyd daar.
  • Daarom moedig Paulus hulle aan om te fokus op eensgesindheid, spesifiek in die konflik wat daar tussen Euodia en Sintige bestaan het.
  • Beide was waarskynlik sterk vroue, met ’n passie vir die evangelie, en ’n roepingsbewustheid binne die gemeente.  Maar hulle sterk persoonlikhede, of die sterk bewussyn van hulle roeping, het hulle in konflik met mekaar gebring.
  • Paulus spreek hulle en die gemeente dus sterk aan om die eenheid wat God tussen hulle geskep het, te bewaar.

Filippense 4:2-9

Kom ons lees die gedeelte

‘n Paar opmerkings oor die gedeelte

Vers 2: Interessant, die frase wat Paulus hier gebruik wat ons met “eensgesind te wees in die Here” vertaal, is to auto phronein en Kuriô – wat ook vertaal kan word “om saam te dink in die Here”.  Dit is presies wat ons vandag met die woord geloofsonderskeiding bedoel: om jou in te stel om saam te dink in die Here, om die Godsvrae te vra (Waarmee is God besig?  Waartoe roep God ons?), om gesprek te hê totdat daar ’n oortuiging opdaag wat harmonie en konsensus bring, iets waaraan die hele gemeenskap van gelowiges hulleself kan verbind.

Vers 3: Paulus vra ook sy getroue medewerker, waarskynlik Timoteus saam met wie hy die brief skryf, dat hy hierdie vroue daarin behulpsaam moet wees.  Dit beteken dat die twee sterk leiers, Euodia en Sintige, nie aan hulle eie genade oorgelaat word nie, nie in ’n wen-verloor situasie ingedruk word nie, maar gehelp word om tot eensgesindheid in die Here en binne die gemeenskap van gelowiges te kan groei.

Vers 4: Paulus skryf verder dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie, maar ook ’n vreugde in die Here, iets wat regdeur die brief beklemtoon word.  Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.

Vers 5: Let op dat hierdie blydskap verbind word aan ’n inskiklikheid (epieikes) teenoor alle mense.  Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.  Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.

En die primêre rede wat hierdie vreugde en inskiklikheid aanwakker, is dat die Here naby is – beide in terme van die wederkoms, die manier waarop ons dit normaalweg interpreteer, maar ook in terme van Sy teenwoordigheid in die hede.  Die gemeente kan dit dus waag om met vreugde te lewe, en inskiklik te wees teenoor alle mense, want die Here is nie ver van hulle af nie.  Dit beteken onder andere dat Hy die vermoë het om in te tree en op te tree in alle situasies binne en buite die gemeente.

Vers 6: Met hierdie gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.

Letterlik staan daar in vers 6:

“maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).” 

Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!

Vers 7: Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal:

“gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.

Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.

Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!

Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein.  En Paulus sê, God sal ons beskerm teen angstigheid en chaos. Hy sal ons binnewêreld tot rus en heelheid bring.

En dít is presies wat een van die ervarings van kontemplasie is, om met die vrede van God vervul te word.  Later meer daaroor.

Vers 8-9: Paulus vervolg met die tipe gedrag wat by dié tipe gebed pas, ’n waarderende positiewe gerigte lewe. Hy moedig die gemeente aan om hulle gedagtes (beplanning) te rig op:

alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees. 

En let op dat hy homself as voorbeeld van só ’n lewe gee, en die belofte van God se vrede herhaal, hoewel dit hier effens anders as in vers 7 uitgespel word, as ‘n vrede wat God gee, wat meer dui op heelheid en rus ook in terme van jou buitewêreld.

LECTIO

Die hele proses gaan 11 minute neem – en ek kies spesifiek om nie nou iets meer oor kontemplasie te sê nie.  Ek wil eers hê dat julle iets daarvan ervaar (gaan 3 minute daarvoor gee) voor ek iets verder daaroor sê.

Ons lees weer die gedeelte – 2 minute

lectio

MEDITATIO

Kies nou een vers of woord of gedagte wat jou tref om te herkou, en te dink of reflekteer oor die praktiese betekenis vir jou. Soos Henry Nouwen gesê het: Standing in the presence of God with the mind in the heart”. Ek gee so 4 minute daarvoor.

meditatio

ORATIO

Bring jou gedagtes en nadenke nou onder woorde by God – 2 minute

oratio2

CONTEMPLATIO

Geniet die vrede van God se teenwoordigheid – 3 minute.

contemplatio

Bespreek

  • Wat het gebeur?
  • Watter vrae het jy?

‘n Paar opmerkings oor kontemplasie

Willem Nicol Gebed van die hart (33 vv) noem kontemplasie “die rus in God se teenwoordigheid”.  Dit is belangrik dat God se gedagtes in ons insink.  Dit gebeur met ons nadenke, ons meditasie oor die praktiese betekenis van God se woorde aan ons.

Dit is egter ook belangrik dat ons verby ons gedagtes beweeg na, wat hy noem, “die groter stilte wat anderkant lê” die rus in God se teenwoordigheid.

‘n Mens moet dit onderskei van Oosterse meditasie waarin jy “vakansie neem” van jou gedagtes en jouself.  Jy streef daarin na leegwording, die verlies van jou ego, die deelword van die groot heelal, of net die groot Al.

Bybelse kontemplasie is om nie net om te rus nie, maar om IN GOD te rus.  Dit beteken dat jy minder oor jouself dink, of dat jy doodgewoon minder dink, en meer oor God dink en van Hom bewus is, of doodgewoon sy teenwoordigheid geniet en ervaar.

Dit is soos ‘n dogtertjie wat op haar pa se skoot klim en die geborgenheid en koestering van sy teenwoordigheid ervaar, of ‘n seuntjie op sy ma se skoot, of watter metafoor ook al vir jou werk.  Dit is nie niks doen nie, dit is nie leegword nie, dit is volword van God se teenwoordigheid, presies soos Efesiërs 3:19 dit sê: “om vervul (te) word met die volheid van God”.

  • Baie keer is dit ‘n ervaring van God se liefde – soos Efesiërs 3 daaroor skryf.
  • Baie keer is dit ‘n ervaring van God se vrede – soos Filippense 4 daaroor skryf.

Daar is nie ‘n dieper rus wat ons hierdie kant van die graf kan ervaar nie.

En die interessante is dat dié rus in ‘n mens se lewe ingedra word. Dat as jy eenmaal dit begin ervaar, dit jou hele lewe begin kleur en beïnvloed.  Jy is minder gespanne oor goed wat verkeerd gaan.  Jy is ‘n klein bietjie meer versigtig om te vinnig te reageer op iets wat verkeerd gaan.  Jy het ‘n bietjie meer vertroue op God se ingrype in situasies waar jou gedagtes dreig om verward en verstrooid te raak, wat maak dat jou gedrag ook verward en verstrooid kan raak.

Dit is waarom ek kontemplasie genot noem, die genot van God se teenwoordigheid.  Want dit is hoe dit voel.  Dit gee ‘n stuk blymoedigheid, ‘n stuk vreugde, ‘n stuk goedhartigheid, ‘n stuk vriendelikheid, wat jou meer geduldig maak met ander mense en met jou verskille met hulle, wat jou nederiger en met meer selfbeheersing laat optree, en jou lewe deur liefde en vrede laat kenmerk, en jou ‘n getrouheid gee wat baie dieper as enige ander lojaliteit in jou aan die werk kom.

En as jy goed geluister het, ek het so pas al nege aspekte van die vrug van die Gees vir julle opgenoem (Gal 5:22) – want dít is wat met jou gebeur, as jy God se rus begin ervaar, jy word deur die Heilige Gees vervul.  En dit is net moontlik as jy anderkant jou gedagtes in beweeg in die rus van God in – op ander plekke word daarvan as die sabbatsrus van God gepraat (Hebr 2-4), waarheen Jesus as ons Leidsman, en die Gees as ons Volmaker (Hy is soos ‘n aanboord vulstasie!), ons lei en vervul.

Dit is waarvan Psalm 131:2 praat:

“Ek het rus en kalmte gevind.  Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”

’n Praktiese voorbeeld

Ten tye van sy bevestiging as pous is Johannes XXIII – soos dit destyds die gebruik was – met ’n draagstoel op die skouers van twaalf manne in die St Petrus-katedraal ingedra. Hierdie stoel het hom om twee redes nie aangestaan nie: Hy wou nie bokant die koppe van ander swewe nie, en dit het hom buitendien duiselig gemaak.

Voor die manne met die draagstoel die St Petrus-katedraal kon binnegaan, het hy hulle laat stilstaan en vir hulle gesê: “Toe ek ’n klein seuntjie was, het my pa my op sy skouers in die kerk ingedra. Nou dra julle my op julle skouers. Tussen hierdie twee gebeurtenisse lê my lewe. Die geheim bestaan daarin, dat jy jou deur God laat dra.” (met dank aan Ernst Kotzé)

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.