Week 3: 8-14 Mei 2011 – Johannes 10:1-21
- Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ….”?
- Laat elkeen sy storie vertel . So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.
RUS
- God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom. Ons is in die Paastyd. Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat Jesus se opstanding nou vir hom of haar beteken. Open met gebed.
HOOR
- Lees Johannes 10:1-21 en laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
- Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
- Lees die volgende inset en vertel vir mekaar hoe jy God se stem hoor, en wat dit vir jou beteken:
Jesus gebruik in vers 1-6 die beeld van die herder om sy eienaarskap, versorging en begeleiding van sy mense te beklemtoon. In vers 7-18 spel Jesus dit nog dieper uit, deurdat Hy ook die ingang vir die skape is (op soortgelyke wyse is Hy ook die leer na die hemel – Joh 1:51; en die weg na God – Joh 14:6), sowel as die Goeie Herder.
Dit beklemtoon dat dit slegs in ’n verhouding met Hom moontlik is om deel van sy kudde te wees – Sy skape ken Sy stem. Vir dié gelowiges wat in Hom glo en Hom begin gehoorsaam, gee Hy lewe in oorvloed. Die ander skape waarvan hier gepraat word, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo.
Om dit nog beter te verstaan: ’n skaapkraal het in daardie tyd baie keer verskillende kuddes geakkommodeer, veral wanneer dit nie aan ’n huis vas gebou was nie. ‘n Herder het dus baie tyd met sy skape deurgebring, sodat hulle sy stem kon leer ken. Dit het beteken dat hy hulle dus kon beheer met sy stem – net sy skape het agter hom uit geloop as hy hulle geroep het om uit die kraal te gaan vir weiding.
Dít is die tipe intieme prentjie wat vir ons Jesus se verhouding met ons teken – Hy wil hê elke gelowige moet Sy stem só goed leer ken (Sy Woord), dat Hy letterlik voor kan loop en ons begelei na die lewe en oorvloed wat Hy wil gee. En onthou, dit is met dié stem dat Jesus vir Lasarus (Joh 11) uit die graf uit roep en opwek … dit is hoe kragtig Sy stem is!
LEEF
- Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
- Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
- Antwoord die Here in gebed.
- Volgende week behandel ons Johannes 14: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe”.
- Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang.
- Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor.
- Of kontak my by acv.vanwyk@gmail.com of 0825749191.
Chris van Wyk