Skip to main content

Vyande word vriende – Matt. 5:17-48 – kleingroepe: 2-8 Febr.

4 vyande word vriendeGee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.

RUS

Laat iemand die vol­gende opdragte voorlees. Gee minstens ses minute daarvoor:

  • Maak jou oë toe, sit gemaklik en ontspan.
  • Raak bewus van watter gevoelens daar in jou hart is. Erken dit.
  • Gee dit aan die Here (draai simbolies jou handpalms onder toe) sodat jy volledig hiér kan wees.
  • Kyk na jouself deur die oë van God (draai simbolies jou hand­palms na bo). Dink daaroor dat God bly is oor jou. Geniet die ervaring van God se rus en vrede.
  • Lees Psalm 37:3-4 en laat elkeen die betekenis daarvan oordink en met die Here daaroor praat: ”Vertrou liewer op die Here … Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

Sê amen en gee dan geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd.  Indien hulle vrymoedigheid het, kan julle saam vir van dié sake bid en ook op julle groep se gebedslys sit.

HOOR

1.  Lees Matteus 5:17-48.

2.  Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.

3.  Dit help baie om sin te maak van die gedeelte, as ’n mens ietsie van die struktuur daarvan verstaan.  Daar is ses teenstellings in die gedeelte: 1) OOR MOORD PLEEG – vers 21-26; 2) OOR OWERSPEL – vers 27-30; 3) OOR EGSKEIDING – vers 31-32; 4) OOR EEDSWERING – vers 32-37; 5) OOR VERGELDING – vers 38-42; 6) OOR VYANDE – vers 43-47.  Die teenstellings wys vir ons hóé ons geregtigheid aansienlik meer kan wees as dié van die Fariseërs wat net die wet nakom (vgl. vers 20).  Wat beteken dié ses teenstellings vir ons prakties vandag?

4.  Jesus gee ons die opdrag dat as iemand jou op jou regterwang klap, moet jy ook die ander een vir hom draai.  Só ’n klap met die rugkant van die (ander persoon se) regterhand  het minagting uitgedruk.   Jy sou dit net aan ’n ondergeskikte of iemand wat jy wil beskaam, doen.  John Ortberg reken dat wat Jesus hiermee van ons vra, is:  “Don’t run and hide.  Don’t strike back.  Confront the other person with honesty and strength.  Be creative, patient, and active.  Work toward reconciliation.” (The me I want to be).  Wat dink julle het Jesus hiermee bedoel?  Hoe kan julle dié opdrag uitvoer?

5.  Die ses teenstellings mond uit in die opdrag van Jesus dat ons volmaak moet wees soos ons Hemelse Vader volmaak is.  Wat dink julle behels die volmaaktheid wat Jesus hier van ons vra?

LEEF

In die lig van julle besinning dat ons soos God  van vyande vriende moet maak, wat lê die Here nou op julle hart om daaraan te gaan doen?  Bid dan vir mekaar en deel volgende week wat gebeur het.

Kleingroeptekste vir die res van die kwartaal:

Skynheiligheid ontbloot – Matt. 6:1-18
Goddelike golflengte ontdek – Matt. 17:1-8
Bekendstelling van nuwe wyn – Matt. 26:26-30
Onverwagse opbrengste – Matt. 6:19-34
Boontjie kry sy loontjie – Matt. 7:1-29
Jesus en die Samaritaanse vrou – Joh. 4:5-42
Genesing van die blinde man – Joh. 9:1-41
Lasarus se opstanding – Joh. 11:1-45

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.