Onverwagse opbrengste – Matt. 6:19-34 – kleingroepmateriaal: 2-8 Mrt.
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was. Julle kan spesifiek nadink oor die nagmaal.
RUS
Gee geleentheid dat elkeen met geslote oë nadink oor die afgelope week. Doen dit soos volg: Vra eers: “Watter ontwrigtende dinge het gebeur?” Gee 2 min se stilte. Sê dan: “Gee dit nou vir die Here.” Ná 2 min vra dan: “Watter bevestigende dinge het gebeur?” Gee 2 min. se stilte. Sê dan: “Dank die Here daarvoor.” Ná 2 min lees die volgende teks en vra dat elkeen daaroor ná dink en met die Here praat: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”( Ps 37:5). Gee 2 min daarvoor en sluit dan met ’n gebed.
Gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie “daaglikse ondersoek”.
HOOR
1. Lees Matteus 6:19-34.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Probeer die boodskap van die gedeelte in julle eie woorde opsom. Let op dat dit in vers 19-24 oor ons besittings en/of welvaart gaan en in vers 25-34 oor ons bekommernisse en/of fokus in die lewe.
4. In die lig van die boodskap van die gedeelte, hoe belangrik is jou besittings en welvaart vir jou – huis(e), motor(s), implemente, juwele, antieke erfstukke, klere, skoene, beleggings, ensomeer? Hoe sou ’n neutrale waarnemer jou gehegtheid aan jou besittings beskrywe? Hoe dink jy behoort jy oor jou besittings te dink? Hoe dink jy behoort jy jou besittings te gebruik?
5. Waaroor bekommer jy jou? Gee genoeg tyd vir gesprek daaroor.
6. Kan ’n mens God vertrou dat Hy jou alles sal gee wat jy nodig het, as jy jou fokus op die koninkryk van God en sy geregtigheid plaas, soos Jesus ons hier aanraai? Vertel vir mekaar van julle ervarings hiermee.
LEEF
Paulus gee ons omvattende raad vir ons bekommernisse: “4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:4-7). Deel met die Here in gebed julle bekommernisse … en dít waaroor julle dankbaar is, dié dinge wat julle bemoedig.
Gesels met mekaar hoe julle die week mekaar kan help om te fokus op God en Hom te vertrou ten opsigte van julle besittings en bekommernisse? Deel volgende week met mekaar watter ervarings julle van God se sorg gehad het.
Kleingroeptekste vir die res van die kwartaal:
Boontjie kry sy loontjie – Matt. 7:1-29 |
Jesus en die Samaritaanse vrou – Joh. 4:5-42 |
Genesing van die blinde man – Joh. 9:1-41 |
Lasarus se opstanding – Joh. 11:1-45 |