Skip to main content

Haggai – 27 April tot 3 Mei

Kleingroepmateriaal 27 April tot 3 Mei

RUS

  • Vertel vir mekaar wat op die oomblik in jul lewens aangaan.
  • Wat is die goed wat geneig is om jou moedeloos te maak? Wat help jou om moet te hou en deur te druk?

HOOR

Laat iemand bid en die Here vra om julle te help om te LUISTER na God se Woord en te LEEF soos wat God vra.

Lees Haggai 2:1-9

1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
2. Haggai tree op oor vier maande in 520 v.C., die tweede regeringsjaar van die Persiese koning Darius. Hy bemoedig die volk wat besig was om die tempel te herbou, nadat hulle ongeveer 19 jaar gelede reeds teruggekeer het uit ballingskap. Hy help hulle dus om hulle prioriteite in lyn met God s’n te kry.
Op 17 Oktober 520 v.C. kom die woord van die Here weer tot Haggai. Dit is vier weke ná hulle met die werk begin het, waarin hulle waarskynlik die meeste van die tyd aan die opruim van die rommel van die vorige ruïnes spandeer het.
3. Hoekom dink julle maak die bou van die tempel soveel saak? Waarmee sou ons dit vandag kon vergelyk?
4. Daar is allerhande afleidings wat die volk se aandag aftrek van dié taak wat die Here hulle opgelê het. Hul fokus op ander dinge, laat God se opdrag vir hulle onmoontlik lyk. Het jy al dieselfde beleef? Vertel vir mekaar daarvan.
5. Die Here bemoedig die moedelose volk op twee maniere: eerstens deur belofte van God se teenwoordigheid en tweedens deur ’n toekomsvisie. Hoe bemoedig hierdie dinge jou?

LEEF

• Wat vra die Here vir jou om te “bou”? Waarmee moet jy besig wees?
• Wat is die dinge wat jou aandag aftrek?
• Herinner mekaar aan God se woorde: “Skep moed” (2:1) en “my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” (2:5). Waarvoor het jy tans nodig om hierdie woorde te hoor?
• Hoe help die belofte van die Gees se teenwoordigheid jou om moed te skep en nie bang te wees nie?
• Bid vir mekaar vir die spesifieke sake wat julle genoem het.
• Bid ook vir die spesifieke sendeling vir wie jul groep ondersteun.

Miga 3:1-12 – die moed om onreg aan te spreek

Kleingroepmateriaal 13-19 April 2015 in voorbereiding vir die erediens 19 April

BegeesterdRUS

  1. Vertel mekaar ‘n kort verhaal van wat dit vir jou beteken het dat iemand jou tereggewys het oor iets wat jy verkeerd gedoen het.
  2. Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die HERE van jou
as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?” (Miga. 6:8 – voorgestelde BDV).

Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

LUISTER

  1. Miga is ‘n tydgenoot van Jona, Jesaja, Hosea en Amos in die 8ste eeu v.C. Sy boek is die sesde in die reeks van die Twaalf Kleiner Profete. Miga se eenvoudige diep boodskap is dat die Here van die volk die volgende vra: “om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop.” Omdat hulle dit egter nie doen nie, beplan die Here ‘n ramp teen die volk en hulle leiers, die ballingskap van 722 v.C., soos ons dit uit die geskiedenis weet.

In hoofstuk 3 gee Miga die redes vir God se optrede aan. Die ramp kom weens die leiers se gewelddadigheid, onreg en gierigheid. Dit maak van geregtigheid in die regspraak ‘n grap. En die volk volg hulle leiers hierin na. Dit is in dié situasie wat Miga geroep word om die volk te waarsku en hulle sondes bekend te maak.

  1. Lees Miga 3:1-12
  2. Wat tref jou in hierdie gedeelte?
  3. Ons dink baie keer aan die werk van die Gees in ons lewe uit die perspektief van die troos wat Hy bring asook die vrug wat Hy in ons lewe dra. Watter nuwe perspektief bring Miga se beskrywing van die werk van die Gees in vers 8 vir jou in jou denke oor die invloed van die Gees?

LEEF

  1. Watter dinge uit die nuusgebeure van die afgelope tyd tref julle tans wat handel oor gewelddadigheid, onreg en gierigheid? Deel met mekaar dié dinge wat julle ontstel – ook dié dinge wat ander mense (as ons) in ons land ontstel.
  2. Miga dink aan vervulling met die Gees as die krag om op te tree teen onreg. Daarvoor gee die Gees vir hom ‘n sin vir wat reg is, en die moed om te praat oor geweld, onreg en gierigheid. Wat vra die Here nou van julle in ons eie situasie – dink aan die dinge wat julle in punt 7 gedeel het?
  3. Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir jou voorbidding dié week.