Youtube erediens Sondag 26 April

 

Ek wonder hoe dit met jou gaan in die inperking?

Die Covid-19 virus het ons regtig tot stilstand geruk. Vir baie is daar spanning. Onsekerheid. Kommer oor die dag van môre. Dit is asof ‘n mens kontak verloor met die bekende. Die toekoms het skielik onseker geraak. Ons wag nou telkens vir die volgende berig van die regering oor hoe dinge gaan werk. En dit is volledig buite ons beheer.

Dit voel asof ‘n mens in ‘n sirkel begin loop. Soos miere wat die stroom volg. Wat hoop dat iemand daar voor weet waarheen hy of sy op pad is. Maar die hele tyd wonder of hulle inderdaad weet. Is inperking ‘n goeie ding? Of nie? Moet dit beëindig word? Of nie? En wat gaan met die ekonomie gebeur? Alle gemeentes in die ring begin praat oor kospakkies uitdeel. En dit is die puntjie van die ysberg.

Dit is baie maklik om negatief te raak. En om hoop te verloor. Ons het goeie nuus nodig.

Presies wat die eerste brief van Petrus vir ons gee. Verlede week het hy ons aangespoor om bly te wees, want ons het ‘n vaste toekoms, en ons het God se krag wat ons dra. Hierdie week spoor Petrus ons aan om hierdie tyd te gebruik om met nuwe ywer ons te verbind aan die bron van krag wat God vir ons in die hand gegee het. Om te smag na die waarheid, die Woord van God.

Luister saam met ons hierdie Sondag om 09:00 na die Woord van die Here op Youtube met die tema uit 1 Petrus 2:1-3: Smag na die waarheid.

Ons gaan luister na die eteries mooi lied Halleluja, soos gesing deur ons eie soliste, Elsje Nelson saam met die kerkkooronder leiding van Albert Troskie.

‘n Lied wat trane in my oë gebring het toe ek voorberei het. En afsluit met die wonderlike betekenisvolle lied, Lied 505: “Jesus U gaan voor – ons volg in U spoor. U ken alle lewenspaaie, al die hoogtes, dieptes draaie. Kom en vat ons hand na die Vaderland.”

Onthou die boek vir Bybelstudie oor 1 Petrus. Jy kan hoofstuk 2 hierdie week saam met ons lees en gebruik in jou kleingroep as julle oor die Internet bymekaar kom. Jy kan dit hier aflaai.

Soos dit nou ons gewoonte raak, kan jy die video’s by NG Kerk Somerstrand se Youtube kanaal kyk of aflaai. Ons raak ‘n al hoe groter gehoor! Daar is telkens meer as 300 kyke waardeur individue, egpare en gesinne inskakel. Ook van ander dele van die wêreld. Julle is welkom!

Ek is ook steeds besig om te bid oor ‘n reeks oor Openbaring.

Bid saam met my daaroor en skryf aan my wat die Here op jou hart lê.

Onthou, ek kies om nie te spitsvondig te wees in hierdie tyd nie. Ek wil slegs die Woord verkondig en die Woord sy werk laat doen soos die Here dit op my hart gelê het.

Chris van Wyk
23 April 2020

1 Petrus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.