Youtube erediens 7 Februarie – Jesus het gesag oor siekte
Dit is al meer as ‘n jaar wat ons lewens ingeperk is op een of ander manier. Die gesag wat die regering oor ons lewens uitoefen, is besig om eksponensieel toe te neem. Ons sien dit nie net in die inperking van byeenkomste nie, maar ook in die inperking van wat ons mag doen en wat nie. Selfs in watter medisyne ons kan gebruik en watter nie. En dit is nie net by ons in Suid-Afrika nie. Dit is wêreldwyd.
Dit was daarom goed om verlede week baie spesifiek van Jesus se gesag te lees. En dit is nie ‘n inperkende gesag waarin Hy mense huis toe stuur, omdat hulle aan een of ander kwaal ly, of ‘n kwaal kan opdoen nie.
Nee, Jesus stuur niemand huis toe nie. Hy tree op en bevry die man met die onrein gees. Jesus reinig die man sodat hy deel kan bly van die geloofsgemeenskap. Hy vermenigvuldig die man se lewensmoontlikhede. Hy herstel hom tot sy volle menswees.
Dit is die tipe gesag wat Jesus het. Hy perk jou nie in, of sonder jou nie af as jy probleme het nie. Hy bevry jou van jou onreinheid. Hy maak jou vry sodat jy met vrymoedigheid die pad saam met Hom en die geloofsgemeenskap kan leef.
Jesus het egter nie net gesag oor demone nie. Hy reinig ons nie net van ons onreinheid en ongeregtighede nie. Nee, Jesus het ook gesag oor siekte.
Wat beteken dit vir ons in die tyd van Covid-19?
Kom aanbid die Here saam met ons en luister na die boodskap uit Markus 1:29-39.