Youtube erediens 5 Julie 09:00 – Wat doen jy as jy magteloos is?
Ek onthou ‘n keer toe ons met die kettingleer op is na Mont-Aux-Sources in die Drakensberge. En na die Tugela waterval gestap het. Die rivier begin as klein stroompies water wat van bo uit die berg afloop, en dan al hoe groter word tot dit oor die rand van die Amfiteater val, amper ‘n 1 000 meter ver in vyf verskillende watervalle.
Ek onthou hoe ek daar op die rand van die afgrond hierna gekyk het, en hoe onveilig ‘n mens voel. Een verkeerde voetstap en jy val daar af. Om nie te praat van wat met jou sou gebeur as jy in die stroom aan die bokant sou beland en met die waterval sou afval nie.
Wat my getref het van die Tugela is hoe onskuldig en klein die rivier daarbo in die berg gelyk het, en hoe groot dit mettertyd geword het soos dit oor die waterval stort, en later met ander sytakke wat bykom ‘n groot rivier word, en in vloed ‘n groot gevaar vir diere en mense word.
Dit is hoe die sonde werk. Dit begin altyd klein. ‘n Oorsig. ‘n Leuen. ‘n Verkeerde keuse. ‘n Doelbewuste sonde. En soos met ‘n rivier kom al die verskillende stroompies by mekaar en raak hulle saam ‘n groter stroom en later ‘n magtige rivier van water wat jou onkeerbaar meesleur. En as daar ‘n stroomversnelling kom, of ‘n waterval, word jy as’t ware magteloos meegesleur.
Dit is dan ook die diepste rede waarom die ballingskap in die 6de eeu vC nodig was. Die Here moes die stroom van afgodsdiens en onsedelikheid tot stilstand bring. Die gevolg was dat die volk magteloos meegesleur is oor die afgrond, soos oor die afgrond van die Tugela waterval.
Ek weet nie wat jou magteloos maak nie. Miskien is jy in ‘n situasie waar jy uitgebuit word. Miskien is daar sonde in jou lewe waarby jy herhaaldelik vashaak. Wat jou magteloos laat voel.
Wel, jy is nie uniek nie. Mense in Jeremia se tyd het dieselfde ervarings van magteloosheid gehad het. In Klaagliedere 5 fokus Jeremia op die algehele magteloosheid van die volk en leer hulle om van ‘n skuldbelydenis te vorder na ‘n geloofsbelydenis om uiteindelik aan die Here se krag vas te gryp, want dit is net Hy wat alles kan verander.
Kom luister Sondag om 09:00 op Youtube na Jeremia se raad vir jou gevoel van magteloosheid.