Youtube erediens 29 Junie 09:00 – Wat doen jy as jy uitgelewer is?
Daar is ‘n orde in die heelal wat God in die skepping en die geskiedenis neergelê het. Trouens, hierdie orde word sy wet genoem. Dit geld die natuur – die aarde, die plante, die diere – en die mensdom in sy geskiedenis – oud en jonk, konings en regters. Dit is waarvan die lofpsalms oorloop en waarvan ons met vreugde sing (vgl Ps 148).
Ons weet egter ook dat God se wet op soveel plekke oortree word. Dat mense in sy wêreld leef asof Hy nie bestaan nie. Dat sy orde omver gewerp word. Dat wanorde en chaos toeneem.
Dit is uit hierdie belewenis van wanorde wat die klaagpsalms gebore is. Soos ons ook in die Klaagliedere van Jeremia hoor waar die volk treur vanweë die pyn van die ballingskap.
“Lament stands in the gap between pain and promise.” (Mark Vroegop).
Dit is waarom die Klaagliedere in die Bybel so belangrik is. Dit gee vir ons woorde vir wat ons beleef ook nou waar ons almal in die greep van die pandemie is.
Ons lees hierdie week hoofstuk vier van die Klaagliedere van Jeremia waarin ons fokus op ons gevoel van uitlewering aan kragte buite ons beheer. Ook aan ons leiers wat op soveel maniere kleitrap.
Ons gaan hoor dat die doel agter hierdie ervarings is dat ons ons eie afgode van voorspoed en sukses vaarwel sal roep, en ons toevlug sal neem tot die enigste God wat ons kan help.