Skip to main content

Youtube erediens 16 Augustus 09:00 – Hoopvol op pad

Onthou jy nog die uitsien na ‘n vakansie? Ons gesin het graag met tente en later karavaan vakansie gehou. So, ons kon oral gaan. En ons het. Die hele land vol. Glentana. Met ‘n Peugeot 403 – 1 468 cc, 48 Kw, 102 Nm enjin – wat ‘n 15 voet karavaan daar teen die steil bult uittrek! Sederberge op ‘n plaas waar ons later moes meet en pas om ons kos te laat uitkom, want die pad Citrusdal toe was ver. Ek onthou die brood wat my ma laat rys het buite onder ‘n doek, en die varke wat dit opgevreet het. Die Drakensberge, Injasuti, Champagne Castle. Port Elizabeth, Gonubie en Struisbaai, stranddienste. Bettiesbaai en die diep swart bergwater van die dam.

Daar was die koekies bak, en die bordspeletjies vir saamneem, Slangetjies en leertjies, Risk en Monopoly, die meet en pas met die inpak, die piekniek langs die pad met die lekkerste padkos, die speletjies op die pad, krieket was ‘n gunsteling met verskillende motors wat die getal lopies bepaal het, en met ‘n Volkswagen Kewer was jy uit, en dan die afwagting vir wie sien eerste die see …

Onthou jy?

Ons is ook as kinders van die Here op pad. Na die ewige lewe. Nie met Google Maps nie, maar met die Bybel. Nie met ‘n GPS se stem nie, maar met die Gees wat ons lei. En ons hoor ook “recalculate”, herbereken, as ons afdwaal. Want, die Here wil ons by ons ewige bestemming uitbring.

Dit is hierdie hoop wat ons lewe bepaal. Dit is die ewige lewe waarvoor ons regmaak. Dit is die Wederkoms van Jesus waarna ons uitsien.

Kom luister verder Sondag 16 Augustus om 09:00 na Paulus aan die woord in sy eerste brief aan die Tessalonisense oor die ewige lewe (en die toekomstige toorn) sodat jy ook hoopvol op pad kan wees.

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.