Skip to main content

Voorgestelde wysiging van artikel 1 van die Kerkorde

Ons neem binnekort deel aan ‘n historiese geleentheid.  Somerstrand Gemeente gaan deelneem aan die proses van die NG Kerk om te besin oor die voorgestelde wysiging van artikel 1 van die Kerkorde.  Elke belydende lidmaat sal sy of haar stem kan uitbring vír of téén die kerkraad se voorstel wat 8 Februarie bekend gemaak sal word.

Net lidmate van dié gemeente sal egter kan stem.  Sorg dus dat jou lidmaatskap in orde is deur die lys in die kerkportaal na te gaan.  Volledige inligting oor die belydenis van Belhar is beskikbaar by www.belydenisvanbelhar.co.za.

Hier is die huidige artikel 1 sowel as die voorgestelde nuwe artikel 1 waaroor gestem sal word.  Reglement 24 waarvolgens ons werk, volg daarna.  Meer inligting sal by ons eredienste verkry kan word.

Huidige Artikel 1

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618- 1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Voorgestelde Nuwe Artikel 1

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

2.1  Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofs- belydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

2.2  Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

REGLEMENT 24

Die proses word bestuur aan die hand van hierdie reglement:

REGLEMENT VIR DIE PROSEDURE WAT GEMEENTES VOLG BY DIE VOORGESTELDE WYSIGING VAN BELYDENIS

1. Die kerkraad lê sy aanbeveling oor die voorstel van die Algemene Sinode oor die wysiging van belydenis eers aan die gemeente voor vir die instemming van die belydende lidmate. Nadat die instemming van twee derdes van die lidmate verkry is, finaliseer die kerkraad sy besluit met tweederdemeerderheid, waarna die finale besluit weer op twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente vir approbasie voorgelê word.

2. Die kerkraad besluit om die instemming van die gemeente soos in 1 hierbo genoem, op een van die volgende twee wyses te verkry:

2.1 Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry tydens ’n gemeentevergadering wat die kerkraad met die belydende lidmate van die gemeente belê het en waarvan daar by die erediens(te) op vier (4) agtereenvolgende Sondae vooraf kennis gegee is van beide die vergaderdatum en die inhoud van die voorstel. By hierdie vergadering is twee waarnemers deur die ring of die ring se gevolmagtigde aangewys, teenwoordig. Die voorsitter en skriba van die kerkraad tree op as voorsitter en skriba van hierdie vergadering.

2.1.1 Lidmate wat ’n wettige verskoning het waarom hulle nie die betrokke gemeentevergadering kan bywoon nie, kan hul stem vooraf per geslote stembrief uitbring. Hierdie stemme word getel nadat die stemming op die gemeentevergadering uitgebring is.

2.2 Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry wat persoonlik en sonder enige stemwerwing deur die kerkraad aan elke ongesensureerde belydende lidmaat van die gemeente beskikbaar gestel word. Minstens veertien (14) dae moet na ontvangs toegelaat word vir die inhandiging van die stembrief.

2.2.1 Dit is die lidmaat se verantwoordelikheid om toe te sien dat die voltooide stembrief die kerkkantoor van die gemeente voor of op die sperdatum bereik. Die stemtelling vind plaas in die teenwoordigheid van twee waarnemers deur die ring of die ring se gevolmagtigde aangewys.

3. Die tweederdemeerderheid van die gemeente se instemming word bepaal deur die getal uitgebragte stemme.

4. Die kerkraad stel deurgaans alle pogings in werking om kerkskeuring te voorkom.

 

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.