Skip to main content

Volhard Vol Vreugde – Reeks oor 1 Petrus

 

Ek voel ‘n bietjie soos ‘n apostel êrens in die wye wêreld: weg van sy mense, met ‘n passie om hulle te sien, maar haas onmoontlik. Soos ‘n Paulus in die tronk. Of ‘n Petrus in Rome. Of ‘n Johannes op Patmos. Hierdie apostels het ‘n dringende behoefte gehad om met die gemeentes te oor die Here te gesels. Vandaar hul briewe; uiteindelik ‘n bundel briewe waaruit ons NT ontstaan het.

Nou ek is nie ‘n Paulus of ‘n Petrus of ‘n Johannes nie. Maar, ek het die roeping om die lidmate van Somerstrand te bedien met die evangelie. En weens die inperking is die enigste manier om dit te doen – met Pdf, Whatsapp, Facebook, en Youtube. En so ‘n bietjie musiek.
Ek het die Here se aangesig gesoek oor temas vir die volgende tyd waarin ons ingeperk is weens die Covid-19 virus. Die eerste brief van Petrus het telkens my aandag gevang. So ook die sewe briewe van Johannes in Openbaring.

My voorneme is om die volgende vyf Sondae op Petrus se eerste brief te fokus. Vir Pinkster sal ek dan op Openbaring fokus. Ek gee ook aaneenlopend hiermee ‘n boek uit vir Bybelstudie oor 1 Petrus sowel as later oor Openbaring sodat jy dieper kan delf in die boodskap hiervan. Jy kan dit hier aflaai.Jy kan die video’s by NG Kerk Somerstrand se Youtube kanaal kyk of aflaai. 09:00 Sondagoggend (of enige tyd daarna).

Die motivering is aan die een kant die praktiese aard van Petrus se brief – dit gaan oor vreugde en hoop midde-in uitdagings. Inperking is ‘n groot uitdaging; dalk die grootste van ons lewe.

Aan die ander kant is daar ook talle vrae wat mense vra oor die eindtyd en hoe ons daaroor moet dink. Dit is belangrik dat ons aan die hand van Openbaring diep hieroor nadink sodat ons nie weggevoer word deur allerlei misleidings nie.

Julle sal ook agterkom dat ek doelbewus kies om met die Bybelteks te werk. Ek is oortuig dat die Woord van God die enigste werklike krag in ‘n krisis is. Dit is die bron wat die Heilige Gees gebruik om ons hoop en moed en vreugde te gee.

Ek gaan dus nie probeer slim wees nie. Ek gaan die Woord verkondig en die Woord sy werk laat doen soos die Here dit op my hart gelê het.

Chris van Wyk
16 April 2020

1 Petrus

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.