Skip to main content

Vertrou die Helper – Familiediens Sondag 09:00

Hoe dink jy oor die Heilige Gees?

Ek onthou hoe ek direk na my bekering ‘n boekie gelees het, iets soos die Oorvloedige Lewe. Dit het gegaan oor die vervulling met die Heilige Gees. En ek onthou goed as jong tiener die ervaring van geluk en vrede wat ek gehad het in my aanvanklike bewuswording van die Heilige Gees.

Dit is hoe baie mense die Heilige Gees ervaar. Sommige beskryf dit as ‘n ervaring van ‘n onuitputlike bron van liefde. Ander as ‘n tot rus kom in jouself. Ander as ‘n vrede wat jou verstand te bowe gaan.

Tog, het ek later van ander groot manne en vroue se ervaringe met die Heilige Gees gelees wat my laat wonder het, mis ek nie iets nie? Veral in die boek They Found the Secret: Twenty Lives That Reveal a Touch of Eternity.

Daarin is die wonderlike verhale van onder andere Hudson Taylor, Charles Finney, Dwight Moody, Andrew Murray, en Eugenia Price. Hulle verhale het my geïnspireer, maar ook laat wonder. Mis ek nie iets nie, want my ervaring was baie keer so ‘n bietjie op en af. Soms baie bewus. Soms ‘n bietjie minder.

Miskien het jy ook al gewonder?

Deur die jare het ek ook ervarings gesien wat ‘n mens heeltemal teen die bors stuit. Die Toronto Blessing van mense wat in ‘n beswyming gaan, aan die hardloop gaan, weird en selfs skokkende dinge doen. Kyk maar net na die videos van Benny Hinn waar mense platgedruk word en aan die bewe gaan, soms heeltemal onbeheerbaar.

En dan wonder ‘n mens wat is die waarheid?

Wie is die Heilige Gees? Hoe werk vervulling? Wat kan jy verwag?

Kom luister Sondagoggend 09:00 by ons Familiediens na die eerste in my reeks oor Die Krag van die Heilige Gees waar ek uit Johannes 14 oor die Heilige Gees as Die Helper gaan gesels. Die Tema is: Vertrou die Helper.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.