Vertrou dat God luister (Nehemia) – Sondag 11 Augustus Familiediens 09:00

Hoe dink jy oor gebed?

In die algemeen dink mense gebed is om te vra. En dit is natuurlik deel van gebed. “Bid, en vir julle sal gegee word …” (Luk 11:9). Maar, om só te bid, beteken nie dat dit soos ‘n vraelysie is wat ‘n mens opstel nie. Gebed is ook om in te tree vir. Dit is om met God te praat oor die stand van sake, om soos ‘n Abraham van ouds met God te praat oor sy besluite, en te vra of dit nie miskien anders kan gebeur nie, soos ons dit in Genesis 18-19 lees. Daarom is gebed ook voorbidding en intersessie.

Maar, daar is meer. Gebed kom nie net van ons kant af nie. Gebed is ook God se saak. Gebed kom ook van God se kant af. Trouens, in Jesaja 65:7 praat die Here van die tempel as “die huis van my gebed.” Nie “my huis van gebed” soos dit in die meeste vertalings vertaal is nie. Maar, “die huis van my gebed (tĕfillātî).”

Laat dit ‘n bietjie insink.

Gebed is dus nie net ‘n lysie versoeke wat God toestaan of nie. Gebed is ‘n gesprek tussen God en mens waarin ‘n opname gedoen word van wat aangaan en daar dan saam besin word op die beste uitkoms.

Kom luister Sondag by Somerstrand se Familiediens om 09:00 hoe Nehemia se gebed ons inspireer om te bid in die vertroue dat God luister.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.