Johannes 1 Oujaarsdiens Deel die Hoop
Dit is die verhaal van God wat liefdevol uitrek na die wêreld – ’n verhaal van onwaarskynlike rolspelers. Van Josef, ’n timmerman. Maria, ’n jong meisie. Herders. Vreemdelinge uit ’n vreemde land.
Van Johannes. Markus se beskrywing beeld hom uit as ’n vreemde, onwaarskynlike karakter, met kameelhaar-klere wat leef van veldheuning en sprinkane.
Ook van my; en jou. Onwaarskynlike karakters wat God kies, red en stuur. Wanneer ons deur Advent gewag het op hoop, oor Kersfees herinner is aan ons hoop – dan stuur God ons om in die nuwe jaar as agente van hoop te leef.
Niemand voel opgewasse tot hierdie taak nie! Ons voel ons weet nie genoeg nie. Of ons doen te veel sonde. Kan nie genoeg Bybelverse aanhaal nie. Is self te bang en broos en onseker.
Tog… God kies ons, in ons swakheid en broosheid en vrees en onsekerheid. En God stuur ons.