Wanneer kom die reën? Pinkster 2018
Wanneer kom die reën? Inderdaad. ‘n Metafoor vir die vraag na die vervulling van God se beloftes – letterlik en geestelik. Vrae soos: Is daar behoeftes waarvoor jy beloftes nodig het? Het jy vrae oor die voorwaardes verbonde aan die vervulling van God se beloftes? Wonder jy watter rol geloof speel? Geduld? Volharding? Vervulling?
Pinkster 2018 is vir jou bedoel. Dit begin by Jesus se afskeidspreek dat ons moet: “wag op die belofte van die Vader wat julle van My gehoor het” (Hand 1:5). Die tema van die Hemelvaart diens Donderdag 10 Mei 18:30.
Die reeks word voortgesit in sewe eredienste van 13 tot 19 Mei, die Sondagoggende 09:00 en die aande 18:30. Met lekker sop en brood elke aand. Dankie vir die 5 groepe wat gaan help!
Ons fokus op die droogte – wat dit ook al vir jou beteken. Ons gesels oor voorwaardes, geloof, geduld, volharding en vervulling. Met Pinksterdag vier ons die uitstorting van die Heilige Gees, die waarborg dat: “hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20).
Ek wil jou uitnooi om jou behoeftes met my te deel. Per e-pos. Anoniem op ‘n stukkie papier in die kerkkantoor. Persoonlik. Ek gaan elke aand geleentheid gee vir gebed. Ook bid vir jou en jou behoeftes. Anoniem of voor in die liturgiese ruimte. En beskikbaar wees vir gesprek elke aand, elke dag.
Ek gaan die beloftes van die Here verkondig wat genoegsaam is vir jou behoeftes: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19).
En toe kom die reën. Soos God belowe het.
****
Vir die Kinders is daar elke aand spesiaal Kinderpinkster in die Ark: Gee my ‘n G.E.E.S!
Sondagoggend 13 Mei om 09:00, dan Sondag- tot Donderdagaand 18:30.
****
In die Aftree-oorde is daar elke oggend om 09:30 ‘n diens. Die reeks daar se tema is Volkome Eenheid… Volkome Blydskap. Lees hier meer oor die Waltonpark Pinkster.