Skip to main content

TAFEL – Kleingroepmateriaal 19 tot 25 Oktober

TAFEL: Kleingroepmateriaal vir die week van 19 tot 25 Oktober

Rus

Vertel vir mekaar hoe “kerk” was toe julle kinders was. Wat het julle aangetrek, hoe het die eredienste gelyk, wie en hoe was die mense, wat het gebeur? Gesels veral oor dié goed wat deesdae anders is. Wat mis jy? Wat is jy bly het verander?

Hoor

Lees Galasiërs 3:23-29

  • Gesels oor wat julle opval of aanspreek in die teksgedeelte.
  • Chris skryf by Bybelskool.com oor hierdie gedeelte:

Paulus praat oor die vryspraak wat deur geloof ontvang word (Sola Fide, soos die reformasie se leuse gesê het). Hy beklemtoon dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis en die wet, wat bedoel was “as ’n tydelike maatreël (3:19) totdat dié nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang. … Vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit natuurlik geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.
Die praktiese implikasie hiervan is geweldig.
Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie. Daardie rol word nou deur geloof vervul. Elkeen wat glo, behoort aan Christus … Dit beteken ook dat in Christus is almal één (3:28). .. Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook deel van elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het. En daar is geen onderskeid nie. Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid of gender is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus. ’n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!”

  • Wat is na julle mening die praktiese implikasies van Paulus se woorde? Is daar vandag nog “wette” wat ons langs geloof stel om aan Christus te behoort? Is sommige van daardie “wette” / voorwaardes nie inderdaad geldig nie?
  • Ons vryspraak maak ons deel van alle ander gelowiges. Wat beteken dit prakties? Hoe lyk dit in die praktyk?
  • Aangesien Sondag Hervormingsondag is, ’n aanhaling van Luther oor v28:

Die lys kan onbepaald uitgebrei word: daar is geen prediker of hoorder, geen onderwyser of leerder, geen baas of dienaar, ens. Met betrekking tot verlossing beteken rang, geleerdheid, geregtigheid en invloed niks … Omstandighede, persoonlike waarde, karakter, prestasies het geen invloed op regverdiging nie. Wat saak maak, is dat ons met Christus beklee is… Daar is baie ongelykheid in die wêreld, maar daar is geen ongelykheid voor God nie.

  • Die vraag is natuurlik tot hoe ’n mate ons in die kerk regkry om hierdie eenheid uit te leef – om “Anders Eenders” te wees, soos wat ons tema sê. Soos Scot McKnight dit stel: A local church determines what the Christian life looks life for the people in that church. As jy dink aan jul kleingroep en ons gemeente: wie is welkom aan hierdie “tafel”? Watter onderskeid bestaan daar nog (wie sukkel meer om ’n plek aan die tafel te kry)?

Leef

  • Weer Scot McKnight: To the degree that folks are invisible in our church, we don’t have the right view of the church and the right view of the Christian life. Hy noem dan groepe wat hy dink dikwels onsigbaar is in die kerk: weduwees, kinders, ander rasse, vroue, middestad-inwoners, mense wat worstel met hul geloof, mense wat nie geleerd is nie, homoseksuele mense, introverte en mense wat lei onder seksuele geweld, disfunksionele families, depressie, angs of post-traumatiese sindroom. Wie is die mense wat vir julle onsigbaar is? Probeer julleself regtig uitdaag om nie oor jul eie gevoel van onsigbaarheid te praat nie, of nie oor die mense wat julle in elke geval raaksien nie, maar vra die Gees om jul blindekolle vir julle uit te wys.
  • Hoe kan julle prakties uitreik na hierdie mense, hulle “verwelkom by die tafel”?

anders eenders, Galasiërs 3, kleingroepmateriaal, selmateraal

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.