Somerstrand Familiediens 09:00 in die kerk en Live op Youtube – 21 November 2021

Jou laaste woorde

‘n Mens kan nogal baie agterkom uit mense se laaste woorde. Van wat vir hulle belangrik was, en wat nie. En wat hulle self dink van die lewe.

  • Sir Winston Churchill het blykbaar gesê: “I’m bored with it all.” Na die oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog kon min ander dinge hom waarskynlik tot dieselfde mate opgewonde maak.
  • Frank Sinatra, die man wat bekendheid verwerf het met sy lied “I did it my way,” het blykbaar gesterf met die woorde: “I’m losing it …”
  • Nostradamus het blykbaar geprofeteer: “Tomorrow, at sunrise, I shall no longer be here.” En hy was reg.

Maar onder ons gewone mense is die woorde wat ons kies om te sê voor ons sterf ‘n bietjie meer sentimenteel. Volgens ‘n opname onder 2 198 volwassenes wat in 2015 ‘n geliefde verloor het, behels die mees algemene sterfbedgesprekke die oordra van verhoudings- en loopbaanadvies.

Die opname, wat deur Perfect Choice Funerals uitgevoer is, het bevind dat 83% van mense woorde van wysheid aan hulle geliefdes deurgegee het voordat hulle gesterf het. Toe die respondente gevra is hoekom hulle dink geliefdes het raad gegee, was die gewildste antwoord, wat deur 29% van die respondente gekies is, dat hulle gedink het die vriend of familielid wou hê hulle moet gelukkig wees.

Maar nie almal het met sulke warm herinneringe teruggekyk na sterfbedgesprekke nie. ’n Ongelukkige 6% van die respondente het gesê hulle glo die sterwende familielid wou hulle daardeur “’n les leer”. Ai tog.

Ek wonder wat sal jou laaste woorde wees? Woorde wat jou familie wil help? Gelukkig maak? Ek hoop nie een van julle sal hulle ‘n les wil leer nie!

2 Samuel 23 bevat Dawid se laaste woorde. Sewe verse waarin hy nie soseer terugkyk nie, maar vorentoe. Na dit wat ewigheidswaarde het. Woorde wat ons kan inspireer om te leef vir dit wat regtig waarde het. Kom luister en laat die Here toe om jou laaste woorde te bepaal.

Maak 'n bydrae

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.