Pinkster 08 – Youtube 29 Mei 18:30
Die bruilof van die Lam breek aan – Openbaring 19-20
KYK DIE VIDEO – LAAI DIE BOEK AF
Daar is ‘n ontstellende lering wat wyd posgevat het in die wêreldkerk. Dit steek op talle plekke ook sy kop uit in ons kerk. Dit is die lering van die universalisme. Dit is ‘n lering wat sê, alle mense is uitverkies – sommige weet dit, ander nie. As daar ‘n hemel is, sal almal daar wees. In elk geval is daar verseker nie ‘n hel nie. Want niemand sal daarheen gaan nie. Almal sal uiteindelik tot bekering kom. God sal sorg daarvoor. Sommige sal nog verder gaan en sê die enigste hemel is in elke geval eintlik hier op aarde as ons mekaar goed behandel. Die enigste hel is dus ook hier op aarde as ons mekaar sleg behandel. Daar is geen hiernamaals nie.
Dit is egter onmoontlik om só ‘n lering te handhaaf as jy Openbaring lees. Daar is regdeur die boek ‘n kontras wat gehandhaaf word tussen die regverdiges en die goddelose, tussen die gelowiges en die ongelowiges, tussen die oordeel van God oor die sonde en die verlossing van die heiliges, tussen die hemel en die hel, tussen die bruid van die Lam en die prostituut Babilon, tussen die ewige lewe en die ewige dood. Natuurlik is Openbaring ‘n boeiende en beeldryke boek wat uitdagende simboliek bevat. Maar, die visioene beskryf werklikhede. Dit is ook nie iets wat Johannes uitgedink het nie. Dit is iets wat vir hom gewys is, wat aan hom geopenbaar is. En die bron hiervan is God self. Deur die Here Jesus en die Gees, uitgevoer deur die engele en hemelse wesens, waarin die kerk se gebede en getuienis ‘n groot rol speel, vestig God die Vader ‘n nuwe hemel en nuwe aarde.
Ek sal my plig versuim as ek jou nie waarsku teen die universalisme nie. Prominente teoloë en predikante handhaaf hierdie onbybelse lering. Sulke teoloë dien ‘n valse god met ‘n valse ideologie wat nie uit die Bybel kom nie, maar uit ‘n misleide hart. Hulle dink dat hulle mense ‘n guns doen deur net aanvaarding te preek, maar werk in die hande van die bose driemanskap van Openbaring. Hy is die groot misleier. En universalisme is een van die groot misleidings. “The most brazen lie of all is the lie people tell themselves: “I have nothing to worry about from the wrath of God. My God is a God of love.” If that is your thought, your god is an idol.” (RC Sproul)
Dit is noodsaaklik om hierdie lering te verwerp met al die oortuiging waartoe jy beskik. En die boek Openbaring is waarskynlik die beste boek wat jou kan help om inhoud te gee aan jou oortuigings oor die hemel en die hel, die verlossing en die oordeel, die ewige lewe en die ewige dood.
Die bruilof van die Lam
Dieselfde model wat ek vir die sewe seëls, sewe trompette, en sewe bakke gebruik het, kan ‘n mens steeds herken in die wyse waarop Johannes hierdie siklus van sy visioene vertel. Daar is die prentjie van God – hierdie keer as die Almagtige Koning wat heers – geteken. Daar is die agente wat hierdie keer baie direk onder die Hoofagent van God, die Here Jesus Christus self, optree. Trouens, meesal tree Hy alleen op. En daar is steeds die verlossende oordeel in ‘n reeks van kontraste. Die bruilof van die Lam versus die feesmaal van Armageddon. Die ewige lewe versus die ewige dood. Die hemelse stad Jerusalem versus die poel van vuur.
Maar, kom ons begin by die positiewe boodskap van vanaand. Want dit is hoe Johannes dit hierdie keer vertel. Hy begin wel met die visie op God, maar dan val hy direk weg met die verlossing, die wonderlike uitkoms wat God vir ons bedoel, Die bruilof van die Lam is sy pièce de résistance, die hoogtepunt en doel van ons verlossing. Die bruilofsfees met die bruidegom, die Here Jesus Christus.