Skip to main content

OP PAD MET GOD: DISSIPELSKAP VIR VANDAG – 2024

Puik. Skitterend. Indrukwekkend. So reageer die W.A.T. as jy die wakker-bly-breinspeletjie, Wortel, vinnig voltooi het. Maar as jy geflop het, kry jy… ontwortel. Dit voel maar vrot, nè!? Deur net van die ervarings hier te lees, bewys weer dat woorde ‘n baie sterk gevoelswaarde het. Soos sukses. Dit kan uiters lekker voel en selfs soet smaak!

Henry Blackaby vra in “Beleef God” oor watter eienskap van God – soos in sy Woord – wat jy oor die jare ondervind het vir jou waarde dra. Dalk Sy liefde. Of Sy teenwoordigheid wat dan elke dag se mense wat jy ontmoet, voorvalle en geleenthede Godsvallig maak, want niks is meer vir jou toevallig nie. Of Sy alwetendheid; soms nog voor jy vra, gee Hy. Of daar waar God se trou vir jou innerlik betekenis en gevoelswaarde het, kan dit ook “hemels” voel.

Woorde dra emosies. En wanneer God deur sy Woord met jou praat, kan jy vir seker weet dat as jy fyn sou luister, dit ‘n kragtige uitwerking in jou lewe sal hê. Ook dat God, wanneer jy na Hom roep en soek, ‘n beplande roete – wat jy vir jou lewe sou hê – verander terwyl Hy met jou op pad is.

Juis as antwoord op Sy roeping vir ons hier, seën Hy ons met ‘n vars, besielende visie vir die handel-en-wandel en vernuwing van kleingroepe. By Dixit Deus, Latyn vir “God praat”, is God self die Hoofkarakter en wil met elkeen in die groep deur sy Woord praat. In eenvoud lees ons saam die Bybel, want om God se Woord besielend te kan beleef en Sy werklikheid beter te kan raaksien, vorm die kern van geestelike groei.

Ja, God wil nog steeds deur sy Woord verdieping in elkeen se verhouding met Hom bring. Daarvoor is daar verrassende wyses wat Gordon McDonald en Adele Calhoun ons leer, omdat geestelike gewoontes (ook dissiplines of beginsels genoem) bydra tot ‘n groeiende besef van God en sy Wil vir elkeen se lewe. Dit is egter óns wat nuwe geestelike wyses en gewoontes moet aanleer en dit ook moet vestig!

Dixit Deus is vir elkeen wat op die uitkyk vir ’n nuwe lewensvisie is, of ‘n afplatting ervaar, ‘n ander geestelike tuiste soek en geestelik wil groei, of omdat jy maar net ’n ware soeke na die HERE God het. Kom dus gerus mee op hierdie pad saam met God, waar jy deur dissipelskap tesame met die opgestane Here Jesus kan wandel.

Op ‘n dag kan God jou bring tot ‘n uitsonderlike aha-oomblik, om saam te stem met Job (42:4): “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê. Maar nou het ek U self gesien.” Dit is waar jy op die heilige grond van sy Goddelike teenwoordigheid ‘n unieke en lewensveranderende ervaring het. Verruklik. Groots. Subliem-hemels!

Liefdevolle seëngroete in Christus!

Mariette Rossouw (Oktober 2024)

 

Naskrif:   Indien jy nié hier naby in die Baai woon nie, maak gerus met my kontak.

Besonderhede: 041 583 3456 /  082 801 2801 / mariette@mweb.co.za

 

UITEENLOPENDE LEESSTOF, MET INHOUD VAN TOEPASSING OP BOSTAANDE

  • Amplified Bible, en ander vertalings, o.a. NIV, Jerusalem Bible, die 1933-Afrikaanse Vertaling, en Die Boodskap
  • Beleef God! Hoe om God se wil te ken en te doen: Henry Blackaby & Claude King (Engels: Experiencing God!)
  • Bybelskool – notas op WhatsApp: Chris van Wyk
  • Dissipelskap, soos in Ek sal Hom sien – Jou Lewe voor God: Volwasse Menswees se kursus
  • In Gees en in Waarheid: Cecile Burger
  • In Gesprek met God, en Jy is ‘n Nuwe Mens: Ferdinand Deist
  • Knowing God: James I. Packer
  • Life of the Beloved, en Here and Now – Living in the Spirit, asook vele ander van: Henri Nouwen
  • Life Together: Dietrich Bonnhoefer
  • ‘n Tyd vir Orde (beskikbaar in Engels as Ordering your Private Life – Spiritual Disciplines): Gordon MacDonald
  • Open to God: Joyce Hugget
  • Practice the Presence of God: Brother Lawrence
  • Prayer en Celebration of Discipline: Richard Foster
  • SPIRITUAL DISCIPLINES Handbook – practices that transforms us: Adele Calhoun
  • The Secret of Adoration, en The Power from on High, en The Power from Abiding Presence: Andrew Murray

AS AGTERGROND: ‘N RAAMWERK VAN GELOOFSGEWOONTES IN DIE PRAKTYK

Die volgende gewoontes (Adele Calhoun noem vele ander) gaan saam met die Bybel die raamwerk vorm vir dissipelskap. Soos jy van dié praktyke bemeester, rus dit jou toe om ‘die aflosstokkie aan te gee’ en/of om jou eie bediening te begin en uit te reik – soos waar God jou mag lei en waarvoor Hy jou sal toerus.

  1. Bybelstudie: jy gebruik jou Bybel – God praat op baie maniere met jou, en wel eerstens deur Sy Woord, en dit rig jou gedagtes, gedrag en jou dag. Om leergierig te wees, is iets waarvoor elkeen kan bid.
  2. Joernaal: dit is ‘n gespreksboek met God; maak gerus notas in jou stiltetyd, by jou kleingroep en ook op jou geestelike pad (soos bv. met ‘n preek, ‘n praatjie oor die radio & TV, of as jy ‘n lesing bywoon).
  3. ‘n Kleingroep is jou geloofsgemeenskap in die kleine – daar waar medegelowiges saam met God verkeer en ook mekaar leer ken en dra. Interessant om Jesus se kleingroepmodel van net vier lede te sien (Mat. 17:1).
  4. Stiltetyd: die kring se aktiwiteite en belewenisse is vir seker ‘n praktiese riglyn om sinvol tuis toe te pas.
  5. Afsondering: vir jou afspraak met God het jy ‘n vaste tyd en ‘n stil vertrek (verkieslik) vir jou binnekamer nodig.
  6. Danksegging: jy is dankbaar vir wat God doen en gee; jy leer om uit dankbaarheid te leef (1 Tes. 5:18).
  7. Gebed: bid in gewone spreektaal, terwyl jy poog om aandagtig en gefokus te bly. Voorbidding en om ‘n intersessor te wees – onder leiding van die Heilige Gees, vra dalk dat jy ook leer om volhardend te bid.
  8. Kommitment: dit begin met jou daaglikse afspraak met die Here vir jou stiltetyd, en dan ook jou weeklikse afspraak met Hom by jou kleingroep – en dít vra dikwels selfdissipline en tydsbeplanning in jou program!
  9. Eenvoud: dit behels ‘n ongekunsteldheid en opregtheid in die wyse van jou aanbidding, en om ook die balans tussen opgesmuktheid/oordaad en wat genoeg is vir jou daaglikse lewenswyse, te vind/kies.
  10. Lofprysing: ons loof God vir WIE en HOE Hy is: daar is baie maniere (werkwoorde) wat sê en uiting gee daaraan om God te prys en oor Hom te juig (bv. in Ps. 145). Dus, jy fokus alleenlik op God en kyk weg van jouself af.
  11. Aanbidding: om stil te word voor God / be in awe; buig voor Hom in eerbetoning en verwondering, of sit net in liefde stil aan Sy voete. Aanbidding is steeds een van die mees uitsonderlike ervarings by God.
  12. Belydenis: kom voor God en vra Hom om Sy lig oor jou lewe te laat skyn en te help om fyn te luister.
  13. Getuienis / witnessing: deel met mekaar oor die pad wat die Here met jou geloop het; “Woorde wek woorde”.
  14. ‘n Bediening hê / ministry: God wil jou gebruik, en deur die salwing van Sy Gees staan jou talente en bediening in Sy diens en is tot eer van Hom; dit sal ook bydra tot uitbreiding van Sy Koningkryk.
  15. Viering / celebration): op jou vreugdepad (joy) kuier jy saam met gelowige vriende; jy leer om jou getuienis (testimony) te deel, omdat jy leef vanuit die werklikheid daarvan om hand-aan-hand saam met Jesus te stap.
  16. Koinonia / fellowship: eredienste, gemeente-etes, -bidure, -uitreike en diensterreine word na waarde geag.
  17. Rentmeesterskap: gee (tiendes) van jou tyd, energie en geld (eintlik van jou hele lewe) terug aan jou Vader.
  18. Mentorskap / submission is om te verstaan en waarde te heg aan die mentorskap – deur ‘n Geesvervulde mentor/groepleier wat jou motiveer op God se pad, en ook verantwoordbaar help met o.a. selfinsig en groei.

Vir meer oor geestelike gewoontes lees gerus:

‘n Tyd vir Orde (beskikbaar in Engels as Ordering your Private Life – Spiritual Disciplines): Gordon MacDonald en

SPIRITUAL DISCIPLINES Handbook – practices that transforms us: Adele Calhoun.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.